Wat is die doel van die lewe?
WAAROM IS DIE ANTWOORD VAN BELANG? Daar is min dinge wat vir die mens so verontrustend is as die gedagte dat die lewe sinloos, doelloos is. Maar iemand met ’n duidelik gedefinieerde doel in die lewe laat hom nie maklik onderkry nie. Viktor E. Frankl, ’n neuroloog wat die Nazi-slagting oorleef het, het geskryf: “Ek durf sê dat daar niks in die wêreld is wat ’n mens meer sal help om selfs die ergste toestande te oorleef as die wete dat jou lewe sin het nie.”
Daar is egter talle teenstrydige menings oor hierdie onderwerp. Baie voel dat die individu self moet besluit wat die doel van die lewe is. Aan die ander kant leer party wat in evolusie glo, dat die lewe nie ware sin het nie.
Maar in werklikheid is die logiesste manier om uit te vind wat die doel van die lewe is, om die Lewegewer, Jehovah God, te raadpleeg. Kyk na wat sy Woord oor die onderwerp sê.
Wat die Bybel sê
Die Bybel leer dat Jehovah God ’n spesifieke doel vir die man en vrou gehad het toe hy hulle geskep het. Jehovah het aan ons eerste ouers die volgende opdrag gegee.
Genesis 1:28. “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees.”
God se voorneme was dat Adam en Eva en hulle kinders die hele aarde in ’n paradys moes omskep. Hy wou nie hê dat mense moes oud word en sterf nie; en hy wou ook nie hê dat die mensdom die omgewing beskadig nie. Maar weens die slegte keuses wat ons eerste ouers gemaak het, het ons sonde en die dood geërf (Genesis 3:2-6; Romeine 5:12). Nogtans het Jehovah se voorneme nie verander nie. Die aarde sal binnekort ’n paradys wees.—Jesaja 55:10, 11.
Jehovah het ons met die fisiese sowel as die intellektuele vermoë geskep om sy voorneme te vervul. Hy het ons nie geskep om onafhanklik van hom te lewe nie. Let op hoe God se voorneme vir ons in die volgende Bybelverse beskryf word.
Prediker 12:13. “Die slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”
Miga 6:8. “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”
Matteus 22:37-39. “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”
Hoe die Bybel se antwoord ware gemoedsrus meebring
Enige ingewikkelde masjien sal slegs reg werk as dit gebruik word vir die doel en op die manier wat die maker daarvan in gedagte gehad het. So ook moet ons, as ons ons nie skade wil berokken nie—hetsy geestelik, verstandelik, emosioneel of fisies—ons lewe gebruik op die manier wat ons Maker in gedagte gehad het. Let op hoe kennis van God se voorneme ons gemoedsrus kan gee in die volgende aspekte van die lewe.
Wanneer mense prioriteite vasstel, geniet die verkryging van rykdom vir baie voorkeur in hulle lewe. “Dié wat egter vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes”, waarsku die Bybel.—1 Timoteus 6:9, 10.
Maar dié wat leer om God eerder as geld lief te hê, ontdek die geheim van tevredenheid (1 Timoteus 6:7, 8). Hulle besef hoe belangrik dit is om hard te werk en weet dat dit hulle plig is om na hulle eie materiële behoeftes om te sien (Efesiërs 4:28). Maar hulle neem ook Jesus se waarskuwing ernstig op: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie.”—Matteus 6:24.
Dié wat God liefhet, maak dus die uitvoering van sy wil die eerste prioriteit in hulle lewe, nie sekulêre werk of die najaging van rykdom nie. Hulle weet dat Jehovah God vir hulle sal sorg as hulle lewe om die uitvoering van God se wil draai. Trouens, Jehovah beskou dit as sy plig om dit te doen.—Matteus 6:25-33.
In hulle handelinge met mense stel baie hulleself eerste. Een van die hoofredes waarom daar vandag nie vrede in die wêreld is nie, is dat soveel mense “liefhebbers van hulleself [is], . . . sonder natuurlike geneentheid” (2 Timoteus 3:2, 3). Wanneer iemand hulle teleurstel of nie met hulle opinie saamstem nie, gee hulle uiting aan “toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal” (Efesiërs 4:31). So ’n gebrek aan selfbeheersing bring glad nie gemoedsrus mee nie, maar “verwek twis”.—Spreuke 15:18.
In teenstelling hiermee is diegene wat God se opdrag gehoorsaam om hulle naaste soos hulleself lief te hê, “goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en [hulle] vergewe mekaar vryelik” (Efesiërs 4:32; Kolossense 3:13). Selfs wanneer ander hulle nie vriendelik behandel nie, streef hulle daarna om Jesus na te volg, wat “nie terug uitgeskel” het toe hy uitgeskel is nie (1 Petrus 2:23). Soos Jesus, besef hulle dat dit ware voldoening meebring om ander te dien, selfs diegene wat dalk nie waardeer wat vir hulle gedoen word nie (Matteus 20:25-28; Johannes 13:14, 15; Handelinge 20:35). Jehovah God gee sy gees aan diegene wat sy Seun navolg, en sy gees bring vir hulle ware innerlike vrede mee.—Galasiërs 5:22.
Maar watter uitwerking kan jou beskouing van die toekoms op jou gemoedsrus hê?
[Lokteks op bladsy 4]
’n Mens het ’n duidelik gedefinieerde doel in die lewe nodig
[Prent op bladsy 5]
Jesus leer ons hoe om gemoedsrus te verkry