Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 10/22 bl. 4-6
  • Hoe moet terminale pasiënte versorg word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe moet terminale pasiënte versorg word?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorgestelde oplossings
  • Watter soort behandeling of sorg?
  • Hospice-sorg—Wat is die doel daarvan?
    Ontwaak!—2011
  • Vertroos dié wat terminaal siek is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hulp vir die sterwendes in ons hedendaagse tyd
    Ontwaak!—1991
  • Wanneer ’n geliefde terminaal siek is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 10/22 bl. 4-6

Hoe moet terminale pasiënte versorg word?

IN ONLANGSE tye het mense se opvatting van die dood in baie wêrelddele verander.

In die verlede het geneeshere aanvaar dat die dood die onvermydelike einde van hulle dienste aan sommige pasiënte is—’n einde wat vergemaklik moes word en dikwels tuis behartig moes word.

Korter gelede, met die klem op die tegnologie en genesing, het mediese personeel begin om die dood as ’n mislukking of ’n nederlaag te beskou. Die voorkoming van die dood tot elke prys het dus die hoofdoel van die mediese praktyk geword. Met hierdie verandering het ’n heeltemal nuwe tegnologie ontwikkel om mense langer aan die lewe te hou as wat voorheen moontlik was.

Die mediese tegnologie het onmiskenbare vooruitgang in baie lande meegebring; dit het nietemin ernstige bedenkinge tot gevolg gehad. Een dokter het gesê: “Die meeste geneeshere het die pêrel verloor wat vroeër ’n intieme deel van die geneeskunde was, en dit is humanisme. Masjinerie, vaardigheid en noukeurigheid het hartlikheid, deernis, simpatie en besorgdheid oor die individu uit die hart verdryf. Die geneeskunde is nou ’n kille wetenskap; sy bekoring behoort tot ’n ander era. Die sterwende kry min vertroosting van die meganiese dokter.”

Dit is net een persoon se sienswyse, en dit is beslis nie ’n algemene aanklag teen die mediese professie nie. Maar jy het waarskynlik al agtergekom dat baie mense ’n vrees daarvoor ontwikkel het om deur masjiene aan die lewe gehou te word.

Geleidelik het ’n ander beskouing na vore gekom. Dit was die beskouing dat mense in sommige gevalle toegelaat moet word om natuurlik te sterf, met waardigheid, en sonder om aan die tussenkoms van die hartelose tegnologie onderwerp te word. ’n Opname wat onlangs vir die tydskrif Time gedoen is, het getoon dat meer as drie kwart van diegene wat ondervra is, gesê het dat ’n dokter toegelaat moet word om lewensondersteunende behandeling weg te neem in die geval van ’n terminale pasiënt. Die studie het tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Wanneer [mense hulle] eers in die onvermydelike berus het, wil [hulle] met waardigheid sterf, en nie aan ’n klomp masjiene in ’n waakeenheid gekoppel wees soos ’n laboratoriumproefstuk onder glas nie.” Voel jy ook so? Hoe vergelyk dit met jou siening van die saak?

Voorgestelde oplossings

Na gelang van ’n mens se kultuur of maatskaplike agtergrond is daar ’n groot verskeidenheid beskouings omtrent die onderwerp van die dood en die sterfproses. Tog stel mense in baie lande al hoe meer belang in die posisie waarin diegene wat ongeneeslik siek is hulle bevind. Etici, dokters en die publiek in die algemeen het gedurende die afgelope paar jaar pogings gesteun om die versorging van sulke ongelukkige mense te verander.

Onder die talle maatreëls wat ondersoek word om hierdie geskil te besleg, is die beleid dat pasiënte nie geresussiteer moet word nie die een wat die algemeenste in sommige hospitale toegepas word. Weet jy wat dit behels? Na breedvoerige besprekings met die pasiënt se familie, en verkieslik ook met die pasiënt, word daar vooruit op bepaalde optrede besluit, en dit word dan in die pasiënt se lêer aangeteken. Dit toon watter beperkings gestel sal word op pogings om die pasiënt wat ongeneeslik siek is by te bring, of te resussiteer, as sy of haar toestand sou versleg.

Feitlik almal besef dat die deurslaggewende oorweging wat sulke moeilike besluite betref, moet wees: “Wat sal die pasiënt gedoen wil hê?” Maar wat dit ’n ernstige probleem maak, is dat die pasiënt dikwels bewusteloos is of andersins nie in staat is om deurdagte persoonlike besluite te neem nie. Hieruit het ’n dokument ontstaan wat ’n bestaanstestament genoem kan word. Die doel daarvan is dat mense vooraf kan spesifiseer watter behandeling hulle in die laaste dae van hulle lewe sou verkies. So ’n testament kan byvoorbeeld soos volg lui:

“Indien my toestand ongeneeslik of onveranderlik is en my dood binne ’n betreklik kort tydjie sal veroorsaak, is dit my begeerte dat my lewe nie deur lewensondersteunende prosedures verleng moet word nie. Indien my toestand die dood tot gevolg gaan hê en ek nie besluite aangaande my mediese behandeling kan neem nie, beveel ek die geneesheer wat my behandel om prosedures te weerhou of weg te neem wat bloot die sterfproses verleng en wat nie noodsaaklik is vir my gerief of om die pyn te verlig nie.” Sulke dokumente kan selfs spesifiseer watter soort terapie die terminale pasiënt wil hê of nie wil hê nie.

Hoewel sulke bestaanstestamente nie onder alle omstandighede wetlik bindend is nie, word dit in baie plekke erken. Ongeveer vyfmiljoen mense in die Verenigde State het reeds mediese bestaanstestamente opgestel. Baie owerhede in daardie land beskou dit as die beste beskikbare manier om te verseker dat ’n mens se wense gerespekteer en nagekom word.

Watter soort behandeling of sorg?

Wat omtrent die sorg van terminale pasiënte? Die noemenswaardigste nuwe idee is sekerlik die konsep bekend as hospies, wat wêreldwyd al hoe meer erkenning vind. Maar wat is “hospies”?

Hospies verwys in hierdie opsig eintlik eerder na ’n sorgfilosofie of -program vir terminale pasiënte as na ’n plek of ’n gebou. Dit is afgelei van ’n Middeleeuse Franse woord vir ’n rusplek vir pelgrims. Hospies is toegespits op ’n spanbenadering (dokters, verpleegsters en vrywilligers) wat verseker dat ’n terminale pasiënt gemaklik en betreklik pynloos gehou word, verkieslik in die pasiënt se eie huis.

Hoewel sommige hospiese in hospitale gevestig is, is baie van hulle onafhanklik. Die meeste maak gebruik van gemeenskapshulpbronne, soos besoekende verpleegsters, voedingkundiges, predikante en chiropraktisyns. Hospiessorg beklemtoon eerder intense medelye as die gebruik van intensiewe mediese maatreëls. Hulle lê hulle eerder toe op die drastiese behandeling van die pasiënt se ongerief as op die drastiese behandeling van die pasiënt se siekte. Een dokter het dit só gestel: “Hospies is nie minder sorg of geen sorg of goedkoop sorg nie. Dit is net ’n heeltemal ander soort sorg.”

Wat is jou reaksie op hierdie konsep? Dink jy dat dit die soort benadering is wat moontlik met enige van jou geliefdes wat as ’n terminale pasiënt gediagnoseer is en moontlik met die betrokke geneesheer bespreek moet word?

Selfs al is hospiessorg moontlik nie nou in jou omgewing beskikbaar nie, sal dit waarskynlik wel in die toekoms beskikbaar wees, aangesien die hospiesbeweging wêreldwyd uitbrei. Hospiessorg, wat oorspronklik as teenstrydig met die gevestigde orde van mediese sorg beskou is, het geleidelik ’n deel van die hoofstroom van die geneeskunde geword, en word nou as ’n aanvaarde alternatief vir terminale pasiënte beskou. Deur sy tegnieke, veral die korrekte gebruik van pynstillers, het hospies etlike belangrike verbeteringe tot gesondheidsorg bygedra.

In ’n brief aan die New England Journal of Medicine het dr. Gloria Werth die dood van haar suster in ’n hospies beskryf: “Medisyne, kos of vloeistof is nooit aan my suster opgedwing nie. Sy kon eet, drink, . . . of medisyne neem as sy wou . . . Maar die beste ding omtrent die hospies is dat ons herinneringe aan Virginia se dood besonder gerusstellend en gelukkig is. Hoe dikwels kan dit ná die dood in ’n waakeenheid gesê word?”

[Lokteks op bladsy 5]

“Die geneeskunde is nou ’n kille wetenskap; sy bekoring behoort tot ’n ander era. Die sterwende kry min vertroosting van die meganiese dokter”

[Lokteks op bladsy 6]

Hospiese lê hulle eerder toe op die drastiese behandeling van die pasiënt se ongerief as op die drastiese behandeling van die siekte self

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel