Hoe om gevoelens te verwerk
VERSORG jy tans ’n geliefde wat ernstig siek is? Indien wel, ervaar jy dalk verwarrende en skrikwekkende emosies. Wat kan jy doen? Beskou die gevoelens waarmee sommige versorgers worstel en die praktiese wenke wat hulle gehelp het om dit te verwerk.
Verleentheid. Af en toe kan ’n siek persoon se gedrag jou voor ander in verleentheid bring. Maar as jy die aard van jou geliefde se siekte aan vriende en bure verduidelik, kan dit hulle help om te verstaan en hulle dalk ook beweeg om “meegevoel” en geduld te betoon (1 Petrus 3:8). Praat indien moontlik met ander gesinne wat in ’n soortgelyke situasie as jy is. Jy sal dalk minder verleë voel wanneer julle ondervindinge uitruil. Sue verduidelik wat haar gehelp het: “Ek het so jammer vir my pa gevoel—dit het enige gevoelens van verleentheid oorskadu. En sy sin vir humor het ook gehelp.” Ja, ’n sin vir humor—aan die kant van die pasiënt en diegene wat hom versorg—is ’n wonderlike instrument om ’n bietjie verligting te bied vir gespanne senuwees.—Vergelyk Prediker 3:4.
Vrees. Onkunde oor die siekte kan uiters skrikwekkend wees. Kry, indien moontlik, professionele raad oor wat om te verwag namate die siekte vererger. Leer hoe om onder sulke omstandighede sorg te voorsien. Vir Elsa was een van die beste maniere om haar vrees te oorkom deur met ander versorgers en die hospitium-verpleegsters te praat oor wat om te verwag namate die pasiënt se toestand agteruitgaan. Jeanny se raad is: “Pak jou vrese aan en beheers dit. Vrees vir wat kan gebeur, is dikwels erger as die werklikheid.” Dr. Ernest Rosenbaum stel voor dat jy oor jou vrese “moet praat soos hulle opduik”, ongeag waardeur hulle veroorsaak word.—Vergelyk Spreuke 15:22.
Droefheid. Dit is nie maklik om met droefheid saam te leef nie, veral in ’n situasie waar iemand versorg moet word. Jy treur dalk oor die verlies van kameraadskap, veral as jou siek geliefde nie meer kan praat, nie meer goed kan verstaan of jou nie meer herken nie. Ander verstaan sulke gevoelens dalk nie maklik nie. Om oor jou droefheid te praat met ’n simpatieke vriend wat met geduld en medelye sal luister, kan noodsaaklike verligting bring.—Spreuke 17:17.
Woede en frustrasie. Hierdie reaksies is normaal wanneer jy iemand moet versorg wat ernstig siek is en wie se gedrag met tye moeilik is. (Vergelyk Efesiërs 4:26.) Jy moet besef dat dit dikwels die siekte is, nie die pasiënt nie, wat verantwoordelik is vir ontstellende gedrag. Lucy onthou: “Wanneer ek werklik kwaad geword het, het ek begin huil. Dan het ek my aan die pasiënt se toestand en siekte probeer herinner. Ek het geweet dat die pasiënt my hulp nodig het. Dit het my gehelp om voort te gaan.” Sulke insig kan ‘jou lankmoedig maak’.—Spreuke 14:29; 19:11.
Skuldgevoelens. Skuldgevoelens is algemeen onder versorgers. Wees egter verseker dat jy ’n onontbeerlike maar baie moeilike taak verrig. Aanvaar die feit dat jy nie altyd volmaak in woord of daad sal reageer nie. Die Bybel herinner ons: “Ons almal struikel baie kere. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2; Romeine 3:23). Moenie toelaat dat skuldgevoelens jou nou verhinder om positief op te tree nie. Wanneer jy ontsteld is oor iets wat jy gesê of gedoen het, sal jy heel waarskynlik vind dat dit jou en jou pasiënt beter sal laat voel as jy sê: “Ek is jammer.” ’n Man wat ’n siek familielid versorg het, het voorgestel: “Doen jou bes onder die omstandighede.”
Depressie. Depressie is algemeen in gesinne wat met ernstige siekte te kampe het—en dit is te begrype. (Vergelyk 1 Tessalonisense 5:14.) ’n Versorger wat aan depressie ly, verduidelik wat haar gehelp het: “Baie het ons bedank omdat ons vir hulle sorg. Net ’n paar bemoedigende woorde kan jou versterk sodat jy kan aangaan wanneer jy baie moeg of depressief is.” Die Bybel sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op” (Spreuke 12:25). Ander kom dalk nie altyd agter dat jy bemoediging nodig het nie. Daarom sal jy dalk met tye eers die “bekommernis” in jou hart openlik moet uitspreek voordat jy “’n vriendelike woord” van bemoediging van ander ontvang. As depressiewe gevoelens voortduur of vererger, sal dit egter verstandig wees om dalk ’n dokter te raadpleeg.
Hulpeloosheid. Jy voel dalk hulpeloos wanneer jy met ’n aftakelende siekte te kampe het. Aanvaar die werklikheid van jou situasie. Erken jou beperkinge—jy kan nie die pasiënt se gesondheid beheer nie, maar jy kan hom met medelye versorg. Moenie volmaaktheid van jouself, jou pasiënt of jou ondersteuners verwag nie. ’n Gebalanseerde benadering verlig nie net gevoelens van hulpeloosheid nie, maar maak ook die werklas ligter. Baie wat ’n geliefde versorg het, het hierdie verstandige raad gegee: Leer om een dag op ’n slag aan te pak.—Matteus 6:34.
[Lokteks op bladsy 8]
“Pak jou vrese aan en beheers dit. Vrees vir wat kan gebeur, is dikwels erger as die werklikheid”
[Venster op bladsy 7]
Bemoedigende woorde van versorgers
“MOENIE dat negatiewe gedagtes oor jouself jou ontstel nie. Dit is normaal onder sulke omstandighede. Jy moet beslis nie jou gevoelens opkrop nie. Neem iemand in jou vertroue oor hoe jy voel en kry, indien moontlik, ’n bietjie rus—gaan ’n rukkie weg—sodat jy verfris kan voel.”—Lucy, wie se werk by ’n kliniek geverg het dat sy al ’n hele aantal versorgers sowel as pasiënte moes bystaan.
“As daar familielede of vriende is wat beskikbaar en gewillig is, moet jy hulle laat help. Dit is noodsaaklik dat jy die las met ander deel.”—Sue, wat haar vader verpleeg het voor hy aan Hodgkin se siekte gesterf het.
“Leer om ’n sin vir humor te ontwikkel.”—Maria, wat ’n dierbare vriendin wat aan kanker gesterf het, help versorg het.
“Bly geestelik sterk. Kom nader aan Jehovah, en bid onophoudelik (1 Tessalonisense 5:17; Jakobus 4:8). Hy voorsien hulp en vertroosting deur sy gees, sy Woord, sy aardse knegte en sy beloftes. Probeer so georganiseerd as moontlik wees. Dit help byvoorbeeld om ’n rooster vir medisyne en ’n lys van helpers op te trek.”—Hjalmar, wat sy sterwende swaer versorg het.
“Leer alles wat jy kan oor jou pasiënt se siekte. Dit sal jou weer help om te weet wat om van die pasiënt en jouself te verwag en hoe om jou pasiënt te versorg.”—Joan, wie se man Alzheimer se siekte het.
“Onthou dat ander voor jou die mas opgekom het en dat Jehovah jou kan help om opgewasse te wees teen enigiets wat gebeur.”—Jeanny, wat haar man voor sy dood versorg het.
[Prent op bladsy 8]
Vind soveel moontlik oor die siekte uit om jou vrese te stil
[Prent op bladsy 9]
Dit kan groot verligting bring om met ’n simpatieke persoon te praat