Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 7/1 bl. 23-25
  • Tel Arad lewer stille getuienis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tel Arad lewer stille getuienis
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Arad en die Bybel
  • Argeologiese vondste
  • Antieke potskerwe bevestig die Bybelverslag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Onthou jy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Maak dit saak hoe ons God aanbid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onthou jy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 7/1 bl. 23-25

Tel Arad lewer stille getuienis

’n Verlore stad. ’n Raaiselagtige tempel. ’n Menigte eertydse inskripsies. Dit klink dalk soos die agtergrond vir ’n avontuurfilm. Al hierdie dinge, en nog meer, was in werklikheid eeue lank onder lae woestynsand verberg by Tel Arad, Israel, totdat argeoloë opgrawings daar begin doen het.

VANDAG lyk hedendaagse Arad vir baie besoekers na ’n tipiese Israeliese dorp. Dit het 27 000 inwoners en is wes van die Dooie See in die Judese wildernis geleë. Die eertydse Israelitiese stad Arad was egter sowat 8 kilometer wes daarvandaan geleë. Dit is hier waar argeoloë lae sand versigtig verwyder het en ’n magdom ruïnes en inskripsies ontdek het.

Hierdie inskripsies is gevind op ostraka, potskerwe wat as skryftablette gebruik is. In Bybeltye was dit algemeen om hierop te skryf. Daar is gesê dat die terrein by Tel Arad die grootste versameling van sulke ostraka opgelewer het wat nog ooit in Israel gevind is. Maar van watter waarde is hierdie argeologiese opgrawings?

Die vondste by Tel Arad dek ’n lang tydperk van Bybelgeskiedenis, wat strek van die dae van die Rigters van Israel tot die Babiloniese inval in Juda in 607 v.G.J. Hierdie ontdekkings help dus om die akkuraatheid van die Bybel te bevestig. Dit voorsien ook insiggewende voorbeelde van hoe mense in eertydse Israel die persoonlike naam van God beskou het.

Arad en die Bybel

Die Bybel sê weliswaar betreklik min oor Arad. Maar hierdie strategies geleë stad het eens op ’n tyd ’n belangrike handelsroete beheer. Dit is dus nie verbasend nie dat geskiedverslae en argeologiese ontdekkings aandui dat hierdie eertydse stad gedurende sy veelbewoë geskiedenis herhaaldelik verower, vernietig en herbou is. Die voortdurende herbouing het ’n indrukwekkende tel, of puinheuwel, geskep.

Die Bybel verwys die eerste keer na Arad in die verslag van die laaste deel van die Israeliete se 40 jaar lange trek deur die wildernis. Kort ná die dood van Moses se broer, Aäron, het God se volk naby die suidelike grens van die Beloofde Land verbygetrek. Vir die Kanaänitiese koning van Arad was hierdie swerwers in die wildernis blykbaar ’n teiken wat hy eenvoudig nie kon weerstaan nie. Hy het hulle toe ook aangeval. Met die ondersteuning van Jehovah God het die Israeliete moedig teruggeveg, ’n algehele oorwinning behaal en Arad heeltemal verwoes, maar party van die inwoners het dit blykbaar oorleef.—Numeri 21:1-3.

Die Kanaäniete het hulle strategiese stad gou herbou; toe Josua die gebied ’n paar jaar later bereik het, terwyl hy die land vanuit die noorde binnegeval en die Kanaäniete stelselmatig uit “die bergstreek en die Negeb” verdelg het, was “die koning van Arad” een van die teenstanders waarvoor hy te staan gekom het (Josua 10:40; 12:14). Later het afstammelinge van Hobab, die Keniet, wat by die Israelitiese kamp aangesluit het om hulle gedurende die trek deur die wildernis te help, hulle in hierdie deel van die Negeb gevestig.—Rigters 1:16.

Argeologiese vondste

Die ruïnes by Tel Arad bied ook interessante bevestiging van latere gebeure wat in die Bybelverslag opgeteken is. Byvoorbeeld, argeoloë het ’n reeks verdedigingswerke gevind. Party hiervan dateer heel moontlik uit die tyd van die heerskappy van koning Salomo, wat bekend was vir sy omvattende stadsbouprojekte (1 Konings 9:15-19). Een laag van die opgrawingsterrein lewer bewys van ’n verwoestende brand en word teruggevoer na die begin van die tiende eeu v.G.J. Hierdie vondste stem ooreen met die tyd toe die Egiptiese koning Sisak die gebied binnegeval het, net vyf jaar ná Salomo se dood. By Karnak in die suide van Egipte is daar ’n muurreliëf wat hierdie inval gedenk en Arad onder die talle verwoeste stede noem.—2 Kronieke 12:1-4.

Dit is uiters interessant dat baie van die ostraka, waarvan daar omtrent 200 gevind is, Hebreeuse name bevat wat ook in die Bybel voorkom, soos Pasgur, Meremot en die seuns van Korag. Wat selfs interessanter is, is dat party van hierdie sekulêre dokumente God se persoonlike naam bevat. Hierdie eienaam wat uit vier Hebreeuse letters יהוה (JHWH) bestaan—en dikwels die Tetragrammaton genoem word—word net vir God die Almagtige gebruik. Weens bygelowigheid het baie mense later begin glo dat dit godonterend is om God se naam uit te spreek of te skryf. Maar soos baie ander vondste bevestig dié by Tel Arad dat God se naam in Bybeltye algemeen in die daaglikse lewe, in begroetinge en in seënwense gebruik is. Een inskripsie sê byvoorbeeld: “Aan my heer Eljasib. Mag Jahweh [Jehovah] na u welsyn omsien. . . . Hy woon in die tempel van Jahweh.”

Maar wat van die raaiselagtige tempel wat aan die begin genoem is? ’n Ruïne in Tel Arad waaroor daar al baie gegis is, is ’n tempelkompleks, met ’n altaar, uit die Judese tydperk. Hoewel dit baie kleiner is as wat Salomo se tempel in Jerusalem was, het dit baie ooreenkomste met daardie heilige gebou. Waarom en wanneer is die tempel in Arad gebou? Hoe is dit gebruik? Argeoloë en geskiedkundiges kan maar net daaroor bespiegel.

Jehovah het uitdruklik verklaar dat die tempel in Jerusalem vir hom die enigste aanneemlike sentrum was waar jaarlikse feeste gevier en offerandes gebring moes word (Deuteronomium 12:5; 2 Kronieke 7:12). Die tempel in Arad is dus in stryd met God se Wet gebou en gebruik, moontlik gedurende ’n tydperk toe ander altare en ritusse baie mense van rein aanbidding weggelok het (Esegiël 6:13). As dit die geval was, is hierdie sentrum van valse aanbidding waarskynlik gedurende die groot hervormings deur Hiskia of Josia in die agtste en sewende eeue v.G.J. verwoes.—2 Kronieke 31:1; 34:3-5, 33.

Dit is duidelik dat die klein deeltjie van Arad se verlede wat behoue gebly het, wel belangrike lesse vir ons bevat. Onder die sandlae wat deur die eeue heen gevorm het, is artefakte gevind wat die akkuraatheid van die Bybel bevestig, wat bewys lewer van die ontstaan en val van ’n verdorwe nabootsing van ware aanbidding en wat voorbeelde voorsien van die feit dat Jehovah se naam op respekvolle wyse in die daaglikse lewe gebruik is.

[Kaart/Prent op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

JERUSALEM

Dooie See

Arad

Tel Arad

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prent op bladsy 24]

Gedeelte van die muurreliëf by Karnak, Egipte

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prent op bladsy 25]

Hierdie inskripsie sê gedeeltelik: “Mag Jahweh [Jehovah] na u welsyn omsien”

[Erkenning]

Photograph © Israel Museum, Jerusalem; courtesy of Israel Antiquities Authority

[Prent op bladsy 25]

Gedeelte van die tempelkompleks by Tel Arad

[Prent op bladsy 25]

Die fort van Tel Arad vanuit die ooste gesien

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Todd Bolen/​Bible Places.com

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel