As ons God se wil doen, sal hy ons nooit verlaat nie
Soos vertel deur Grete Schmidt
EK IS in 1915 in Boedapest, Hongarye, gebore. Die Eerste Wêreldoorlog het gewoed, en my vader was in die frontlinie van die Oostenryks-Hongaarse leer. Toe hy ’n jaar later oorlede is, het Moeder my saam met haar na Joego-Slawië teruggeneem, waar haar familie gewoon het.
Moeder moes ’n werk soek aangesien sy nie weer getrou het nie, en daarom het sy my aan haar suster toevertrou om groot te maak. My tannie het ’n plaas ongeveer vyf kilometer buite die stad Maribor in noordelike Joego-Slawië gehad. Ek het etlike gelukkige jare daar deurgebring en het altyd uitgesien na Sondae, wanneer Moeder van Maribor gekom het om my te besoek. Ek het terselfdertyd innig begin wens dat ek ’n vader kon hê.
’n Verhouding met ’n Vader
My familielede was Katolieke, en aangesien die hemel en hel ’n belangrike rol in die Katolieke godsdiens speel, het ’n konflik in my gedagtes ontstaan. Ek het nie gedink dat ek goed genoeg is om hemel toe te gaan nie, maar ek het nie gedink dat ek so sleg is dat ek tot die hel verdoem sal word nie. Ek het met almal oor hierdie probleem gepraat, van my ouma tot die dorpspriester.
Ek het Moeder die meeste vrae gevra. Daarom het sy my ’n paar maande later ’n Sloweense boekie met die titel Waar is die dode? gegee wat sy in die stad gekry het. Moeder het dit nie self gelees nie, maar sy het gedink dat dit my vrae sou beantwoord.
Nog nooit in my hele lewe het ek enige publikasie so dikwels soos daardie boekie gelees nie! Dit het nie net my vrae oor die lewe en die dood beantwoord nie, maar het my ook gewys hoe ek ’n intieme verhouding met my hemelse Vader kon opbou. Ek het vyf boekies bestel wat ek voornemens was om voor die kerk te versprei.
In ons dorp het die vroue Sondae die kerkdienste bygewoon, maar die mans het buite gebly en hulle geliefkoosde onderwerpe, vee en die landbou, bespreek. Terwyl die priester vir die vroue in die kerk gepreek het, het ek dus vir die mans daarbuite gepreek. Ek was net 15, en hulle het blykbaar my jeugdige entoesiasme geniet, want hulle het vir die boekies betaal, en ek het die bydraes gebruik om ’n nuwe voorraad te bestel.
Die priester het gou van my bedrywighede gehoor en met my tannie kom praat. Die volgende Sondag het hy van die kansel of gewaarsku: “Daar is tog seker niemand in ons dorp wat so naïef sal wees om die stories van ’n tiener te glo nie.” Gevolglik het almal in die dorp teen my gedraai. Selfs my tannie het haar vir my geskaam en my moeder laat weet dat ek nie meer by haar kon bly nie.
Ek het werklik verstote gevoel, maar my gebede tot Jehovah het my vertroos en nuwe krag gegee. Ek het by my moeder in Maribor ingetrek, en ons het dit baie geniet om saam te wees. Hoewel sy nie dieselfde geestelike belange as ek gehad het nie, het sy my toegelaat om die vergaderinge van die klein gemeentetjie in die stad by te woon. Op 15 Augustus 1931 het ek my toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer.
Ek was baie hartseer toe Moeder skielik siek geword en ’n paar weke later gesterf het. Ek kan nou nog haar laaste woorde aan my onthou: “Grete, my liefling, bly by jou geloof. Ek is seker dat dit die waarheid is.” Na haar dood het ek weer pynlik verlate gevoel, maar my verhouding met ons hemelse Vader het my onderskraag.
’n Kinderlose egpaar het my ingeneem, en ek het as vakleerling in die snyerswinkel gewerk wat deur die vrou bestuur is. Materieel was ek goed daaraan toe, maar dit was my hartsbegeerte om God voltyds te dien. Almal in ons gemeentetjie in Maribor was oortuig dat daar min tyd vir hierdie stelsel van dinge oor was (1 Korinthiërs 7:29). Ek het tot Jehovah gebid en hom heimlik gevra om sy ingryping uit te stel totdat ek klaar was met my vakleerlingskap. Ek het dit op 15 Junie 1933 voltooi en die volgende dag nog die huis verlaat om in die pionierdiens te begin! Omdat ek nog so jonk was—ek was net 17—het selfs party van die broers my afgeraai, maar ek was vasbeslote.
Vroeë ondervindinge in die pionierdiens
My eerste toewysing was Zagreb, ’n stad met sowat 200 000 inwoners nie ver van Maribor af nie. Daar was net ses verkondigers in die gemeente. Ek het sommer baie geleer toe ek saam met broer Tuc̀ek, die eerste pionier in Joego-Slawië, gewerk het. Later het ek amper ’n jaar lank geen pioniermaat gehad nie. Maar mettertyd het meer pioniers uit Duitsland aangekom, aangesien die predikingswerk kort tevore daar deur die Naziregering verbied is.
Ek het verskeie van die pionierpare gehelp deur vir hulle te tolk. Dit was ’n baie waardevolle ondervinding vir my om saam met hierdie ryp Christene te werk. Ek het meer kennis en insig gekry, en my waardering vir die voorreg om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, het voortdurend toegeneem.
Mettertyd het ons ’n indrukwekkende groep van 20 pioniers geword wat in die Balkanstate gedien het. Ons gemeenskaplike strewe om die Woord van God bekend te maak, het ons in ’n hegte band verenig, en elkeen was bereid om die ander in ’n noodgeval te help. Ons almal is aangevuur deur ’n gewilligheid wat net onder God se volk aangetref word. Hierdie spesiale “band van eenheid”, liefde, duur voort onder die lede van die groep wat nog lewe.—Kolossense 3:14, NW.
’n Pionier se lewe is ryk aan ondervindinge en bied soveel verskeidenheid soos wat daar wolke in die lug is. Ons het verryk gevoel deur die waardevolle ondervinding om voorheen onbekende lande en mense, met inbegrip van hul gebruike en lewenswyse, te leer ken. Boonop het ons ervaar hoe Jehovah na sy getroue knegte omsien, net soos Paulus ons in Efesiërs 3:20 verseker: ‘Hy doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk.’
’n Voorbeeld van Jehovah se liefdevolle sorg was toe broer Honegger ons uit Switserland kom besoek het en gesien het dat ons tot 40 kilometer moes loop om die dorpe buite Zagreb te bereik. Hy het gesien hoe ons, sodra ons buite die stad was, ons skoene uittrek en oor ons skouers hang om die sole langer te laat hou. Daarom het hy vir ons 12 fietse gekoop, selfs al het dit, soos hy later gesê het, al sy geld gekos! Jehovah beweeg inderdaad die harte van regskapenes. Die fietse was, soos ’n gawe van bo, 25 jaar lank ons getroue metgeselle in die pionierdiens.
Eenkeer het ek en Willi en Elisabeth Wilke in ’n redelik groot Kroatiese dorp aangekom, waar ons uitmekaargegaan en alleen begin werk het—van die buitewyke al dieper die dorp in. Ons het die boekie Regverdige regeerder aangebied, wat Jesus Christus op die buiteblad afgebeeld het. Die Joego-Slawiese koning, Alexander, is net die vorige jaar, in 1934, vermoor, en sy seun Pieter sou hom opvolg. Maar die dorpenaars het selfregering bo ’n monarg van Serwië (suidelike Joego-Slawië) verkies.
Na ’n paar uur in die predikingswerk het ek ’n rumoer op die dorpsplein gehoor. Daar het ek en broer Wilke suster Wilke aangetref, omring deur ’n groep van sowat 20 mans en vroue waarvan party met sekels gewapen was, terwyl ander ons boekies verbrand het. Suster Wilke kon die taal nie goed genoeg praat om die dorpenaars se wantroue uit die weg te ruim nie.
“Dames en here”, het ek geroep, “wat doen julle?”
“Ons wil nie koning Pieter hê nie!” het hulle asof uit een mond geantwoord.
“Ons ook nie”, het ek gesê.
Die mense het verbaas na die prent op die boekie gewys en gevra: “Waarom maak julle dan propaganda vir hom?” Hulle het Jesus Christus vir koning Pieter aangesien!
Die misverstand is uitgestryk, en ons kon ’n deeglike getuienis oor die koning Jesus Christus gee. Party wat hulle boekies verbrand het, wou nou nuwes hê. Ons het die dorp in ’n opgeruimde stemming verlaat omdat ons geweet het dat Jehovah se beskermende hand oor ons was.
Ons het ons predikingswerk later uitgebrei na Bosnië, die sentrale deel van Joego-Slawië. Feitlik die helfte van die bevolking in daardie gebied was Moslems, en ons het weer met nuwe gebruike en ook ’n klomp bygelowe te doen gekry. In die klein dorpies het die mense nog nooit ’n vrou op ’n fiets gesien nie, met die gevolg dat ons aankoms nogal ’n sensasie verwek en mense se nuuskierigheid geprikkel het. Die godsdiensleiers het die gerug versprei dat ’n vrou op ’n fiets teenspoed vir ’n dorp bring. Daarna het ons ons fietse buite die dorpies gelaat en hulle te voet binnegegaan.
Aangesien daar toe ’n verbod op ons lektuur geplaas is, het die polisie ons dikwels in hegtenis geneem. Ons is meestal aangesê om die provinsie te verlaat. Gewoonlik het twee polisiemanne ons tot by die grens begelei, ’n tog van 50 tot 100 kilometer. Hulle was verbaas dat ons sulke goeie fietsryers was en dat ons, al het ons al ons klere en lektuur en ’n klein paraffienstofie op ons fietse gehad, by hulle kon byhou. Die polisiemanne was altyd bly as daar ’n herberg langs die pad was, en hulle het ons dikwels genooi om iets te gaan drink of selfs saam met hulle te gaan eet. Ons het hierdie geleenthede geniet, want ons kon nie sulke ekstras met ons klein toelae bekostig nie. Ons het natuurlik die geleentheid gebruik om hulle van ons hoop te vertel, en hulle het dikwels van die “verbode” publikasies aanvaar. Ons is gewoonlik op vriendskaplike voet uitmekaar.
Toe het 1936 gekom. Ons was besig om in Serwië te preek toe ons hoor dat ’n internasionale byeenkoms in September in Luzern, Switserland, gehou sou word. ’n Spesiale bus sou uit Maribor vertrek, maar dit was 700 kilometer van waar ons was—’n lang fietsrit! Ons het nogtans begin geld spaar en later daardie jaar die tog aangepak.
Ons het boere gevra of ons op hulle hooisolder kon oornag pleks van vir ’n kamer in ’n gastehuis te betaal. Die volgende oggend het ons hulle gevra of ons melk by hulle kon koop, maar hulle het dit gewoonlik verniet vir ons gegee en partykeer ’n stewige ontbyt daarmee saam. Mense het ons baie vriendelik behandel, en dit is nou nog ’n gelukkige deel van ons pionierdiensherinneringe.
Voordat ons uit Maribor na Luzern vertrek het, het daar meer pioniers uit Duitsland aangekom. Alfred Schmidt, wat agt jaar in die Bethel in Maagdenburg, Duitsland, gedien het, was een van hulle. ’n Jaar later het ek sy vrou geword.
Feitlik al die pioniers in Joego-Slawië kon die byeenkoms in Luzern bywoon. Dit was my eerste byeenkoms, en ek is oorweldig deur die liefde en sorg van die Switserse broers en ook beïndruk deur die aangenaamheid van die stad Luzern. Min het ek geweet dat ek 20 jaar later daar as pionier sou dien!
Beperkinge op ons diens
Kort nadat ons van pragtige Switserland na Joego-Slawië teruggekeer het, het ons ware vervolging begin verduur. Ons is in hegtenis geneem en in die hooftronk in Belgrado opgesluit. Die broer wat toesig oor die werk in Joego-Slawië gehad het, het toestemming gevra om ons te besoek, maar dit is geweier. Hy het egter so hard met ’n tronkbewaarder gepraat dat ons hom kon hoor, en dit was vir ons ’n groot bemoediging net om sy stem te hoor.
’n Paar dae later is ons geboeid na die Hongaarse grens geneem; ons lektuur en ons geld is vroeër gekonfiskeer. Ons het dus brandarm in Boedapest aangekom, maar met baie luise op ons as aandenking aan die tronk. Kort daarna het ons ander pioniers ontmoet en daar saam met hulle aan die predikingswerk deelgeneem.
Elke Maandag het die pioniers in Boedapest mekaar by die Turkse bad ontmoet. En terwyl ons ons gewas het, het die susters en die broers, afsonderlik, mekaar “bemoedig . . . deur die gemeenskaplike geloof” (Romeine 1:12). Hierdie gereelde ontmoetings het dit ook moontlik gemaak om vas te stel of iemand siek geword het of opgesluit is.
Ons het skaars aan die nuwe omgewing gewoond geraak toe ons Hongaarse verblyfpermitte, na ses maande, verval het. Intussen is ek en Alfred getroud. Ons het nou opdrag ontvang om ’n visum vir Bulgarye te kry. Die pionierpaar wat daar gedien het, is uit die land gesit en tienduisend boekies wat hulle bestel het, het by ’n drukkerytjie in Sofia gelê en wag. Die paartjie se lektuur is in die openbaar verbrand, en ons het dus geweet watter behandeling ons te wagte kon wees.
Uiteindelik het ons ’n visum gekry wat ons toegelaat het om drie maande in Bulgarye te bly. Ons het in die nag deur Joego-Slawië gereis, en ’n verantwoordelike broer het ons op ’n afgespreekte stasie ontmoet om ons die geld te gee om die boekies te koop. Ons het uiteindelik veilig in Sofia aangekom en ’n geskikte kamer gevind.
Sofia was ’n moderne stad met sowat 300 000 inwoners, maar daar was geen Getuies nie. Die dag na ons aankoms het ons na die drukkery gegaan. Die eienaar het gehoor van die verbod op ons lektuur en die verbanning van die paartjie wat die boekies bestel het, met die gevolg dat hy ons amper omhels het toe ons hom meegedeel het dat ons die boekies kom koop het. Ons het die boekies in leë sakke gepak en verby ’n hele paar polisiemanne gery, wat gelukkig nie kon hoor hoe ons harte gejaag het nie!
Ons volgende probleem was ’n bêreplek vir die boekies en hoe ons soveel in net drie maande versprei sou kry. Ek was eintlik bang vir daardie stapel boekies! Ek het nog nooit so baie gesien nie. Maar Jehovah was weer eens ons Helper. Ons het besondere sukses gehad en tot 140 per dag versprei, en ’n paar weke later het broer en suster Wilke gearriveer om ons te help.
Maar eendag het dinge byna skeef geloop. Ek het in ’n sakegebied gepreek waar daar ’n koperplaatjie met die naam van die een of ander doktor op elke deur was. Na ongeveer twee uur het ek ’n ouerige man teëgekom wat my agterdogtig van bo tot onder bekyk het. Hy het gevra of ek weet waar ek is.
“Ek weet nie presies watter gebou dit is nie, maar ek het gesien dat al die goeie regsgeleerdes blykbaar hulle kantore hier het”, het ek geantwoord.
“Jy is in die Departement van Binnelandse Sake”, het hy gesê.
Hoewel my hart byna gaan staan het, het ek kalm geantwoord: “O, dis hoekom al hierdie here my so vriendelik behandel het!” Hierdie opmerking het hom effens vriendeliker laat word, en hy het my paspoort vir my teruggegee nadat hy dit deeglik bekyk het. Ek het ’n sug van verligting geslaak toe ek daar weg is, dankbaar teenoor Jehovah vir sy beskerming.
Uiteindelik het ons al die boekies versprei en het die dag aangebreek dat ons die “land van rose”, Bulgarye, moes verlaat. Dit was moeilik om sulke vriendelike mense te verlaat, maar ons het die herinneringe aan hulle diep in ons harte bewaar.
Aangesien ons Duitse paspoorte gehad het, kon ons na Joego-Slawië terugkeer, maar ons is nie toegelaat om baie lank daar te bly nie. Later moes ons elke nag op ’n ander plek slaap om inhegtenisneming vry te spring. Ons het ongeveer ses maande lank so geleef. Toe het ons gedurende die tweede helfte van 1938 ’n brief ontvang van die Genootskap se kantoor in Bern, Switserland, waarin ons gevra is om na Switserland te probeer kom. Die Nazileër het Oostenryk reeds beset, en politieke druk het al hoe groter geword. Trouens, die Joego-Slawiese regering het reeds party van die Duitse pioniers aan die Nazi’s uitgelewer.
Ek en my man het dus afsonderlik na Switserland gereis, Alfred deur Italië en ek deur Oostenryk. Ons is gelukkig herenig en aangewys om op die Genootskap se plaas, Chanélaz, en toe later by die Bethel in Bern te werk. Dit was ’n heeltemal nuwe ervaring vir my. Ek moes nou leer om soos die Switsers huis te hou, en ek het Jehovah se organisasie meer as ooit tevore begin waardeer.
Jehovah se onderskragende krag
Nadat ons gedurende en na die Tweede Wêreldoorlog in Bethel gedien het, het ek en Alfred weer in 1952 met pionierwerk begin, die bedrywigheid wat ons lewens gevorm het. Ons het nooit ons eie kinders gehad nie, maar deur die jare heen het ons talle liefdesbetuigings van ons geestelike kinders ontvang. In Februarie 1975 het ons byvoorbeeld die volgende brief ontvang:
“Ek onthou nog die dag toe ’n wyse man met grys hare ’n koppige raadgewer van die Evangeliese Kerk besoek en hom ’n Bybelstudie aangebied het. Ek en my gesin was terughoudend en krities, maar het dit aanvaar en elke gedagte toe soos die Bereane ondersoek, totdat ons moes erken dat jy die waarheid vir ons gebring het. . . . Wat ’n goeie Vader is Jehovah God tog! Die lof en eer en dank kom hom toe vir al sy goedheid en barmhartigheid. Maar ons wil julle ook uit die diepte van ons harte bedank, liewe Alfred en Gretel, vir julle oneindige geduld met ons. Mag Jehovah julle ryklik daarvoor seën. Ons hoop ook van ganser harte dat hy ons die krag sal gee om te volhard.”
In November 1975 het my man Alfred skielik aan ’n hartaanval gesterf. Ons het Jehovah 38 jaar lank saam gedien terwyl ons die soet en suur van die pionierdiens ervaar het. Dit het ons verhouding baie intiem gemaak. Maar met sy dood het daardie gevoel van leegheid en verlatenheid my weer beetgepak. Maar deur Jehovah my toevlug te maak, is ek weer eens vertroos.
My verhouding met ons hemelse Vader het my deur meer as 53 jaar in sy voltydse diens onderskraag. En my beskouing is steeds dié van Jesus Christus toe hy gesê het: “Ek [is] nie alleen nie, omdat die Vader met My is.”—Johannes 16:32.
[Prent op bladsy 23]
Alfred en Frieda Tucèk met al hulle toerusting, afgeneem in 1937 toe hulle as pioniers in Joego-Slawië gedien het
[Prent op bladsy 25]
Alfred en Grete Schmidt, afgeneem in 1938 toe hulle pionierdiens in Mostar, die Islamitiese deel van Joego-Slawië, gedoen het
[Prent op bladsy 26]