Ons was nie bang nie—Jehovah was met ons
Soos vertel deur Egyptia Petridou
In 1972 het die Getuies van regoor Siprus in Nicosia bymekaargekom om te luister na ’n spesiale toespraak deur Nathan H. Knorr, wat lank die leiding in die bediening van Jehovah se Getuies geneem het. Hy het my dadelik herken, en nog voordat ek my kon voorstel, het hy gevra: “Wat hoor jy uit Egipte?” Ek het broer Knorr 20 jaar vroeër in my tuisdorp Aleksandrië, Egipte, ontmoet.
EK IS op 23 Januarie 1914 in Aleksandrië gebore as die oudste van vier kinders. Ons het net ’n klipgooi van die see af grootgeword. Aleksandrië was toe ’n pragtige kosmopolitaanse stad, bekend vir sy argitektuur en geskiedenis. Aangesien Europeërs met Arabiere omgegaan het, het ons as kinders Arabies, Engels, Frans, Italiaans, sowel as ons moedertaal, Grieks, leer praat.
Toe ek klaar was met skool, het ek werk in ’n Franse modehuis gekry, waar ek met trots deftige rokke vir dames in hoë kringe ontwerp en gemaak het. Ek was ook baie godsdienstig en het daarvan gehou om die Bybel te lees, selfs al het ek min verstaan van wat ek gelees het.
Omstreeks hierdie tyd—in die middel-1930’s—het ek ’n gawe jong man van Siprus ontmoet. Theodotos Petrides was ’n baie goeie stoeier, maar hy het ook geleer om ’n bakker te wees en het in ’n welbekende banketbakkery gewerk. Theodotos het verlief geraak op my, ’n klein brunet. Hy het dikwels vir my Griekse liefdesliedjies onder my venster gesing. Ons is op 30 Junie 1940 getroud. Dit was gelukkige dae. Ons het in ’n woonstel net onder my ma s’n gewoon. Ons eerste kind, John, is in 1941 gebore.
Ons leer Bybelwaarheid
Theodotos was ’n tyd lank onseker oor ons godsdiens en het vrae oor die Bybel gevra. Sonder my medewete het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Eendag, terwyl ek met ons baba by die huis was, het ’n vrou aan die deur geklop en vir my ’n kaart met ’n Bybelboodskap daarop gegee. Uit beleefdheid het ek dit gelees. Toe het sy vir my Bybellektuur aangebied. Tot my verbasing was dit dieselfde boeke wat Theodotos huis toe gebring het!
“Ek het reeds hierdie boeke”, het ek gesê. “Kom asseblief binne.” Ek het die Getuie, Eleni Nicolaou, byna onmiddellik met vrae begin bestook. Sy het my geduldig uit die Bybel geantwoord. Ek het daarvan gehou. Skielik het ek die Bybel se boodskap begin verstaan. Tydens ’n onderbreking in ons gesprek het Eleni ’n foto van my man gesien. “Ek ken daardie man!” het sy uitgeroep. Theodotos se geheim was uit. Ek was verstom. Theo het sonder my na Christelike vergaderinge gegaan—en dit sonder om my eers te sê! Toe Theodotos daardie dag by die huis kom, het ek vir hom gesê: “Daardie plek waar jy verlede Sondag was—hierdie week gaan ek saam met jou!”
By die eerste vergadering wat ek bygewoon het, het ’n groep van omtrent tien die Bybelboek Miga bespreek. Ek het alles ingedrink! Van toe af het George en Katerini Petraki ons elke Vrydagaand besoek om die Bybel met ons te studeer. My pa en my twee broers was gekant teen ons studie met die Getuies, maar my suster was verdraagsaam, hoewel sy nooit ’n Getuie geword het nie. My ma het egter Bybelwaarheid aangeneem. Ek, my ma en Theodotos is in 1942 in die see by Aleksandrië gedoop as ’n simbool van ons toewyding aan Jehovah.
Ons lewe word ontwrig
In 1939 het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, en dit het gou hewiger geword. Teen die vroeë 1940’s was die Duitse generaal Erwin Rommel en sy pantsertroepe in nabygeleë El Alamein, en Aleksandrië het gewemel van Britse soldate. Ons het ’n groot voorraad gedroogde voedsel aangeskaf. Theodotos is toe gevra om sy werkgewer se nuwe banketbakkery in Port Taufiq naby Suez te bestuur, en ons het daarheen verhuis. Twee Griekssprekende Getuies het ons probeer opspoor. Hoewel hulle nie geweet het wat ons adres is nie, het hulle van huis tot huis getuig totdat hulle ons gevind het.
In Port Taufiq het ons die Bybel studeer met Stavros en Giula Kypraios en hulle kinders, Totos en Georgia, en ons het almal goeie vriende geword. Stavros het dit so geniet om die Bybel te studeer dat hy al die horlosies in sy huis een uur teruggestel het sodat ons die laaste trein huis toe sou verpas en langer moes bly. Ons besprekings het tot laat in die nag voortgeduur.
Ons het 18 maande lank in Port Taufiq gewoon, waarna ons na Aleksandrië teruggekeer het omdat my ma siek geword het. Sy het in 1947 getrou aan Jehovah gesterf. Ons het weer eens gevoel hoe Jehovah ons versterk deur middel van opbouende omgang met ryp Christenvriende. Ons was ook in ’n posisie om gasvryheid te betoon aan sendelinge wat op pad was na hulle buitelandse toewysings, wanneer hulle skip kortliks in Aleksandrië aangedoen het.
Vreugdes en probleme
Ek het in 1952 geboorte gegee aan ons tweede seun, James. As ouers het ons besef hoe belangrik dit is om ons seuns in ’n goeie geestelike milieu groot te maak, en ons het dus ons huis vir gereelde Bybelstudiereëlings beskikbaar gestel en dikwels voltydse bedienaars oorgenooi. Gevolglik het ons oudste seun, John, ’n liefde vir Bybelwaarheid ontwikkel, en hy het reeds in sy tienerjare begin pionier. Hy het terselfdertyd aandklasse bygewoon om sy sekulêre opleiding te voltooi.
Kort daarna is Theodotos met ’n ernstige hartstoestand gediagnoseer en is hy aangeraai om ander werk te kry. Ons seun James was net vier jaar oud. Wat kon ons doen? Het Jehovah dan nie belowe nie: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou”? (Jes. 41:10). Stel jou net voor hoe verbaas en verheug ons was toe ons in 1956 genooi is om as pioniers in Ismailia, naby die Suezkanaal, te dien! Die daaropvolgende jare in Egipte was onstuimig, en ons Christenbroers het aanmoediging nodig gehad.
In 1960 moes ons Egipte verlaat, met net een koffer elk. Ons het verhuis na Siprus, die eiland waar my man gebore is. Teen hierdie tyd was Theodotos baie siek en kon hy nie meer werk nie. ’n Goedhartige Christenbroer en sy vrou het egter vir ons blyplek op hulle erf aangebied. Ongelukkig is my man twee jaar later oorlede, en ek is alleen agtergelaat met jong James. John, wat ook na Siprus gekom het, is intussen getroud en het sy eie gesin gehad om voor te sorg.
Versorg in moeilike tye
Stavros en Dora Kairis het toe aangebied dat ons in hulle huis kan kom bly. Ek het op my knieë gegaan en Jehovah gedank omdat hy weer eens in ons behoeftes voorsien het (Ps. 145:16). Toe Stavros en Dora besluit het om hulle huis te verkoop en ’n nuwe een met ’n Koninkryksaal op die grondverdieping te bou, was hulle so gaaf om vir my en James ’n woonstelletjie met twee vertrekke aan te bou.
James is later getroud, en hy en sy vrou het as pioniers gedien totdat die eerste van hulle vier kinders gebore is. In 1974, twee jaar ná die onvergeetlike besoek van broer Knorr, was daar politieke onrus in Siprus.a Baie mense, insluitende Getuies, het hulle huise verlaat en moes elders ’n nuwe begin maak. My seun John was onder hulle. Hy het met sy vrou en drie kinders na Kanada verhuis. Maar ons was verheug om terselfdertyd ’n toename in Koninkryksverkondigers in Siprus te sien.
Toe ek my pensioen begin ontvang het, kon ek meer in die bediening doen. Maar ’n paar jaar gelede het ek ’n ligte beroerte gekry en by my seun James en sy gesin gaan woon. Later, toe my gesondheid verder versleg het, was ek weke lank in die hospitaal, en daarna is ek na ’n verpleeginrigting geneem. Ten spyte van voortdurende pyn getuig ek vir die verpleegpersoneel, pasiënte en besoekers. Ek studeer ook ure lank op my eie, en met die liefdevolle bystand van my geestelike broers kan ek die Gemeentelike Boekstudie in die buurt bywoon.
Vertroosting op my oudag
Dit is vir my vertroostend om nuus te hoor van diegene wat ek en Theodotos die voorreg gehad het om te help. Baie van hulle kinders en kleinkinders is in die voltydse bediening—party dien in Australië, Engeland, Griekeland, Kanada en Switserland. My seun John en sy vrou woon nog steeds in Kanada met hulle seun. Hulle oudste dogter en haar man is pioniers. Hulle jongste dogter en haar man, Linda en Joshua Snape, is genooi om die 124ste klas van Gileadskool by te woon.
My seun James en sy vrou woon nou in Duitsland. Twee van hulle seuns dien in Bethel—een in Atene, Griekeland, en die ander in Selters, Duitsland. Hulle jongste seun en hulle dogter en haar man dien as pioniers in Duitsland.
Wat sal ons tog nie alles vir my ma en my geliefde Theodotos kan vertel wanneer hulle in die opstanding terugkom nie! Hulle sal verheug wees om te sien wat ’n wonderlike erfenis hulle vir hulle familie agtergelaat het.b
[Voetnote]
a Sien die Awake! van 22 Oktober 1974, bladsye 12-15.
b Terwyl hierdie artikel vir publikasie voorberei is, is suster Petridou op die ouderdom van 93 oorlede.
[Lokteks op bladsy 24]
Ons het weer eens gevoel hoe Jehovah ons versterk deur middel van opbouende omgang met ryp Christenvriende
[Kaart op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SIPRUS
NICOSIA
MIDDELLANDSE SEE
EGIPTE
KAÏRO
El Alamein
Aleksandrië
Ismailia
Suez
Port Taufiq
Suezkanaal
[Erkenning]
Based on NASA/Visible Earth imagery
[Prent op bladsy 23]
Saam met Theodotos in 1938
[Prent op bladsy 25]
My seun James saam met sy vrou
[Prent op bladsy 25]
My seun John saam met sy vrou