Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 7/1 bl. 8-12
  • Bly oor my aandeel aan die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly oor my aandeel aan die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bybelwaarheid bereik ons gesin
  • Ek maak Bybelwaarheid my eie
  • Nuwe geleenthede
  • My eerste sendingtoewysing
  • Ek trek na ’n ander halfrond
  • Nog ’n toewysing, nog ’n taal
  • In gevare op see
  • Terug waar ek begin het
  • Ek het my oë en hart op die prys gevestig gehou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Ek dien met ’n selfopofferende gees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Ek dien vreugdevol ondanks gebreke
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 7/1 bl. 8-12

Lewensverhaal

Bly oor my aandeel aan die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk

SOOS VERTEL DEUR ANNA MATHEAKIS

Die veerboot was aan die brand. As dit sou sink, sou die 171 meter lange romp my in die dieptes aftrek en laat verdrink. Ek het desperaat na veiligheid geswem terwyl ek onstuimige branders moes trotseer. Die enigste manier om bo te bly, was om styf vas te hou aan ’n reddingsbaadjie wat ’n ander vrou aangehad het. Ek het tot God gebid vir krag en moed. Dit was al wat ek kon doen.

DIT was 1971, en ek was op pad terug na my derde sendingtoewysing, Italië. In daardie skipbreuk het ek amper al my besittings verloor. Maar ek het nie die belangrikste dinge verloor nie—my lewe, die liefdevolle Christenbroederskap en die voorreg om Jehovah te dien. Hierdie diens het my al na drie vastelande geneem, en die skipbreuk was maar net een voorval in ’n gebeurtenisvolle lewe.

Ek is in 1922 gebore. Ons gesin het in Ramallah, omtrent 16 kilometer noord van Jerusalem, gewoon. My ouers was albei van die eiland Kreta, maar my pa het in Nasaret grootgeword. Ek was die jongste van drie seuns en twee dogters. Ons gesin is verpletter deur die dood van my tweede oudste broer, wat tydens ’n skooluitstappie in die Jordaanrivier verdrink het. Ná hierdie tragedie het my ma geweier om in Ramallah te bly, en ons het na Atene, Griekeland, getrek toe ek drie jaar oud was.

Bybelwaarheid bereik ons gesin

Kort nadat ons in Griekeland aangekom het, het my oudste broer, Nikos, wat toe 22 jaar oud was, in aanraking gekom met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Die Bybelkennis wat hy ingeneem het, het hom groot vreugde en ’n vurige ywer vir die Christelike bediening gegee. Dit het my pa woedend gemaak, en hy het Nikos uit die huis gejaag. Maar wanneer my pa na Palestina gereis het, het ek, my ma en my suster saam met Nikos die Christelike vergaderinge bygewoon. Ek kan nog onthou hoe my ma opgewonde gepraat het oor die dinge wat sy by daardie vergaderinge gehoor het. Maar kort daarna het sy kanker gekry, en sy is op die ouderdom van 42 oorlede. My suster Ariadne het gedurende daardie moeilike tyd liefdevol na ons gesin omgesien. Hoewel sy jonk was, was sy jare lank soos ’n ma vir my.

Wanneer my pa in Atene was, het hy my altyd na die Ortodokse Kerk geneem, en ná sy dood het ek aangehou om kerk toe te gaan, maar nie meer so dikwels nie. Aangesien ek geen aanduiding van godvrugtige toegewydheid onder die mense by die kerk gesien het nie, het ek uiteindelik opgehou om soontoe te gaan.

Ná my pa se dood het ek ’n vaste werk by die Departement van Finansies gekry. My broer het egter sy lewe aan die Koninkrykspredikingswerk gewy en baie jare in Griekeland gedien. Hy het in 1934 na Siprus getrek. Daar was destyds geen gedoopte Getuies van Jehovah op daardie eiland nie; hy het dus die voorreg gehad om die predikingswerk daar te bevorder. Nadat hy getroud is, het sy vrou, Galatia, ook jare lank as ’n voltydse bedienaar gedien.a Nikos het dikwels vir ons Bybelboeke en -tydskrifte gestuur, maar ons het dit byna nooit oopgemaak nie. Hy het tot sy dood in Siprus gebly.

Ek maak Bybelwaarheid my eie

In 1940 het George Douras, ’n ywerige Getuie in Atene en ’n vriend van Nikos, ons besoek en ons genooi om by ’n klein groepie in sy huis vir ’n Bybelstudie aan te sluit. Ons het die uitnodiging gretig aanvaar. Kort voor lank het ons met ander begin praat oor wat ons geleer het. Bybelkennis het my en my suster beweeg om ons lewe aan Jehovah toe te wy. Ariadne is in 1942 gedoop, en ek in 1943.

Toe die Tweede Wêreldoorlog geëindig het, het Nikos ons genooi om na Siprus te kom; gevolglik het ons in 1945 na Nicosia getrek. In teenstelling met Griekeland was daar geen beperkings op die predikingswerk in Siprus nie. Ons het nie net aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem nie, maar ook straatgetuieniswerk gedoen.

Ariadne moes twee jaar later na Griekeland terugkeer. Daar het sy haar toekomstige man, ’n medeaanbidder van Jehovah, ontmoet en derhalwe in Atene gebly. My swaer en my suster het my kort daarna aangemoedig om terug te keer na Griekeland en in die hoofstad met voltydse diens te begin. Aangesien pionierdiens altyd my doelwit was, het ek teruggekeer na Atene, waar daar hulp nodig was.

Nuwe geleenthede

Op 1 November 1947 het ek begin pionier en elke maand 150 uur aan die predikingswerk bestee. Ons gemeente se gebied was groot, en ek moes baie stap. Ek het nogtans baie seëninge geniet. Die polisie het dikwels Getuies in hegtenis geneem wat predikingswerk gedoen of Christelike vergaderinge bygewoon het, en dit was dus nie lank nie of ek is ook in hegtenis geneem.

Ek is van proselitisme aangekla, wat destyds ’n ernstige oortreding was. Ek is tot twee maande tronkstraf in die Averof-vrouegevangenis in Atene gevonnis. ’n Ander Getuiesuster was alreeds daar, en ons twee het aangename en opbouende Christelike assosiasie geniet ten spyte van die feit dat ons opgesluit was. Nadat ek my vonnis uitgedien het, het ek my pionierdiens vreugdevol voortgesit. Baie van die mense met wie ek destyds die Bybel gestudeer het, is nog steeds getroue knegte van Jehovah, en dit verskaf my groot vreugde.

In 1949 het ek ’n uitnodiging ontvang om die 16de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die Verenigde State by te woon, waar voltydse dienaars vir sendingwerk opgelei word. Ek en my familielede was verheug. Ek het beplan om in die somer van 1950 ’n internasionale byeenkoms in die stad New York by te woon en dan Gilead toe te gaan.

Nadat ek in die Verenigde State aangekom het, het ek die voorreg gehad om ’n paar maande as ’n huishoudster te werk by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in die stad New York. Dit was ’n rein, aangename en opbouende milieu om in te werk, en ek was omring van vreugdevolle broers en susters. Ek het aangename herinneringe van die ses maande wat ek daar deurgebring het. Toe was dit tyd om die Gileadskool by te woon, waar vyf maande van intensiewe studie en onderrigting verbygevlieg het. As studente het ons besef hoe kosbaar en wonderlik skriftuurlike kennis is, en dit het ons vreugde vergroot, asook ons begeerte om ander te vertel van die lewegewende kennis van die waarheid.

My eerste sendingtoewysing

By die Gileadskool is ons toegelaat om ons toekomstige sendelingmaats te kies voordat ons ons sendingtoewysing ontvang het. Ruth Hemmig (nou Bosshard), ’n uitsonderlike suster, was my maat. Ek en Ruth was verheug toe ons gestuur is na Istanboel, Turkye—’n kruispunt van Asië en Europa! Ons het geweet dat die predikingswerk nog nie in daardie land erken is nie, maar ons het geensins daaraan getwyfel dat Jehovah ons sou ondersteun nie.

Istanboel is ’n pragtige kosmopolitaanse stad. Daar was basaars wat tot oorlopens toe vol was, ’n verskeidenheid van die wêreld se beste cuisine, interessante museums, mooi woonbuurte en ’n immer fassinerende waterfront. Nog belangriker, ons het opregte mense gevind wat van God wou leer. Die klein groepie Getuies in Istanboel het hoofsaaklik uit Armeniërs, Grieke en Jode bestaan. Maar daar was baie ander nasionaliteite, en dit was nuttig om verskillende tale, onder andere Turks, te ken. Ons het dit terdeë geniet om mense van verskillende nasionaliteite te ontmoet wat na die waarheid gedors het. Baie van hulle dien Jehovah nog steeds getrou.

Ruth kon ongelukkig nie haar verblyfpermit hernieu nie, en sy moes die land verlaat. Sy is nog steeds in die voltydse diens in Switserland. Ná al hierdie jare mis ek nog altyd haar aangename, opbouende geselskap.

Ek trek na ’n ander halfrond

In 1963 is my verblyfpermit in Turkye nie hernieu nie. Dit was moeilik om mede-Christene agter te laat wat ek geestelik sien groei het terwyl hulle gesukkel het om baie probleme te oorkom. Om my op te beur, het my familielede goedgunstiglik vir my ’n kaartjie na die stad New York gekoop sodat ek ’n streekbyeenkoms daar kon bywoon. Ek het op daardie stadium nog nie my volgende toewysing ontvang nie.

Ná die byeenkoms is ek na Lima, Peru, gestuur. Ek het direk van New York na my nuwe toewysing gegaan, saam met ’n jong suster wat my sendelingmaat sou wees. Ek het Spaans geleer en in die sendinghuis bo die takkantoor van Jehovah se Getuies gebly. Dit was baie aangenaam om daar te getuig en om die plaaslike broers en susters te leer ken.

Nog ’n toewysing, nog ’n taal

Mettertyd het my familie in Griekeland die gevolge van ouderdom en swak gesondheid begin ervaar. Hulle het my nooit gevra om my voltydse diens prys te gee en weer ’n sogenaamd normale lewe te lei sodat ek hulle kon help nie. Maar nadat ek lank daaroor nagedink en gebid het, het ek besef dat dit vir my beter sou wees om nader aan my familie te dien. Die verantwoordelike broers het liefdevol ingestem en my na Italië gestuur, en my familie het aangebied om die koste van die trek te dek. Daar was in werklikheid ’n groot behoefte aan evangeliedienaars in Italië.

Weer eens moes ek ’n nuwe taal leer—Italiaans. My eerste toewysing was in die stad Foggia. Later is ek na Napels gestuur, waar daar hulp nodig was. My gebied was Posilipo, een van die mooiste dele van Napels. Dit was ’n groot gebied, en daar was net een Koninkryksverkondiger. Ek het die werk baie geniet, en Jehovah het my gehelp om baie Bybelstudies te begin. Met verloop van tyd was daar ’n groot gemeente in daardie gebied.

Onder die eerste plaaslike mense met wie ek die Bybel gestudeer het, was ’n ma en haar vier kinders. Sy en haar twee dogters is nog steeds Getuies van Jehovah. Ek het ook met ’n egpaar en hulle dogtertjie gestudeer. Die hele gesin het vordering gemaak in die waarheid en hulle toewyding deur middel van waterdoop gesimboliseer. Die dogter is nou met ’n getroue kneg van Jehovah getroud, en hulle dien God ywerig saam. Terwyl ek die Bybel met ’n groot gesin gestudeer het, is ek beïndruk deur die krag van God se Woord. Toe ons ’n hele paar tekste gelees het wat toon dat God nie aanbidding deur middel van beelde goedkeur nie, het die ma nie eers gewag totdat die studie klaar was nie. Sy het daar en dan ontslae geraak van al die beelde in haar huis!

In gevare op see

Ek het altyd per skip tussen Italië en Griekeland gereis. Die seereis was gewoonlik baie aangenaam. Maar een reis, in die somer van 1971, was anders. Ek was op pad terug na Italië op die veerboot Heleanna. Vroeg die oggend van 28 Augustus het ’n brand in die skeepskombuis uitgebreek. Die brand het versprei, en so ook die paniek onder die passasiers. Vroue het flou geword, kinders het gehuil en mans het beswaar gemaak en dreigemente uitgeroep. Mense het na die reddingsbote weerskante van die dek gehardloop. Daar was egter te min reddingsbaadjies, en die meganisme wat die reddingsbote in die see moes laat afsak, het nie reg gewerk nie. Ek het nie ’n reddingsbaadjie gehad nie, maar die vlamme het al hoe hoër geword en die enigste verstandige uitweg was dus om in die see te spring.

Toe ek in die water land, het ek ’n vrou naby my sien dryf wat ’n reddingsbaadjie aangehad het. Dit het gelyk asof sy nie kan swem nie, en daarom het ek haar aan die arm gegryp om haar van die sinkende skip af weg te trek. Die see het onstuimiger geword, en die stryd om bo te bly, het my baie moeg gemaak. Die situasie het hopeloos gelyk, maar ek het aangehou om Jehovah om moed te smeek, en dit het my krag gegee. Ek kon nie anders as om te dink aan die skipbreuk wat die apostel Paulus gely het nie.—Handelinge hoofstuk 27.

Terwyl ek aan die vrou vasgehou het, het ek vier uur lank teen die branders gestry. Ek het geswem wanneer ek die krag daarvoor gehad het en tot Jehovah om hulp geroep. Uiteindelik het ek ’n roeibootjie sien nader kom. Ek is gered, maar die vrou was reeds dood. Toe ons by die dorp Bari, Italië, aankom, is ek na ’n hospitaal geneem waar ek noodhulp ontvang het. Ek moes ’n paar dae in die hospitaal bly, en baie Getuies het my besoek en liefdevol alles voorsien wat ek nodig gehad het. Die Christelike liefde wat hulle betoon het, het die ander pasiënte in die hospitaalsaal baie beïndruk.b

Nadat ek ten volle herstel het, het ek ’n toewysing in Rome ontvang. Ek is gevra om in die sakegebied in die middestad getuieniswerk te doen, en ek het dit met Jehovah se hulp vyf jaar lank gedoen. Ek het altesaam 20 jaar lank die bediening in Italië geniet, en ek het lief geword vir die Italianers.

Terug waar ek begin het

Ariadne en haar man se gesondheid het mettertyd agteruitgegaan. Ek het besef dat ek hulle, as ek nader aan hulle gebly het, in ’n mate sou kon vergoed vir alles wat hulle so liefdevol vir my gedoen het. Ek moet erken dat ek baie hartseer was om Italië te verlaat. Maar die verantwoordelike broers het hulle toestemming gegee, en sedert die somer van 1985 pionier ek in Atene, waar ek in 1947 in die voltydse diens begin het.

Ek het in my gemeente se gebied getuig, en ek het die broers in die takkantoor gevra of ek ook in die sakegebied in die middestad kon getuig. Ek het dit drie jaar lank saam met ’n pioniermaat gedoen. Ons kon ’n deeglike getuienis gee aan mense wat selde tuis gevind word.

Met die verloop van die jare word my begeerte om te dien, voortdurend hernieu, maar nie my fisiese krag nie. My swaer is nou oorlede. Ariadne, wat soos ’n ma vir my was, is blind. Wat my betref, ek het goeie gesondheid geniet gedurende die jare dat ek in die voltydse diens was. Maar ek het onlangs by ’n marmertrap afgeval en my regterarm gebreek. Toe het ek geval en my bekkenbeen gebreek. Ek moes ’n operasie ondergaan en was lank in die bed. Nou kan ek nie meer vryelik rondbeweeg nie. Ek gebruik ’n kierie en kan net uitgaan as iemand my vergesel. Nietemin doen ek my bes, en ek hoop dat my fisiese toestand sal verbeter. Al is die aandeel wat ek aan die Bybelonderrigtingswerk kan hê, beperk, is dit nog steeds vir my die grootste bron van geluk en tevredenheid.

Wanneer ek dink aan die gelukkige jare wat ek in die voltydse bediening deurgebring het, loop my hart oor van dankbaarheid teenoor Jehovah. Hy en die aardse deel van sy organisasie het altyd betroubare leiding en waardevolle hulp voorsien, wat my in staat gestel het om my volle potensiaal te bereik terwyl ek my lewe aan sy diens gewy het. My opregte begeerte is dat Jehovah my die krag sal gee om in sy diens voort te gaan. Ek is bly oor my klein aandeel aan die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk wat hy rig.—Maleagi 3:10.

[Voetnote]

a Sien bladsye 73-89 van die 1995 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Sien die Ontwaak! van 8 Mei 1972, bladsye 9-13, vir meer besonderhede.

[Prent op bladsy 9]

Saam met my suster Ariadne en haar man, Michalis, net voor my vertrek na Gilead

[Prent op bladsy 10]

Ek en Ruth Hemmig is na Istanboel, Turkye, gestuur

[Prent op bladsy 11]

In Italië, in die vroeë 1970’s

[Prent op bladsy 12]

Vandag, saam met my suster, Ariadne

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel