Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 9/1 bl. 19-23
  • “Moet nooit die deur-tot-deur-bediening vergeet nie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Moet nooit die deur-tot-deur-bediening vergeet nie”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Eerlikheid red my lewe
  • “Luister aandagtig en vergelyk alles”
  • ’n “Valse profeet” in Paraguay
  • Ons stel die Koninkryk eerste
  • Jehovah het my geleer om sy wil te doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Jehovah het my nooit in die steek gelaat nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • My strewe om ‘’n werker te wees wat hom oor niks hoef te skaam nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 9/1 bl. 19-23

“Moet nooit die deur-tot-deur-bediening vergeet nie”

Soos vertel deur Jacob Neufeld

“Wat ook al gebeur, moet nooit die deur-tot-deur-bediening vergeet nie.” Met hierdie woorde wat nog in my ore weerklink, het ek vyf kilometer na die naaste dorpie gestap. Toe ek daar kom, kon ek nie die moed bymekaarskraap om na die eerste huis te gaan nie. Nadat ek ’n ruk lank met myself geworstel het, het ek in die bos ingeloop en baie ernstig tot God gebid vir die moed om te preek. Uiteindelik kon ek teruggaan na die eerste deur en my aanbieding doen.

WAT het my na daardie dorpie in die woestyn van Paraguay laat gaan waar ek op my eie probeer preek het? Laat ek teruggaan na die begin. Ek is in November 1923 in die Oekraïnse dorpie Kronstalʹ, in ’n Duitse Mennoniete-kolonie, gebore. Laat in die 18de eeu het Mennoniete uit Duitsland na die Oekraïne geëmigreer, waar groot voorregte aan hulle verleen is, onder meer godsdiensvryheid (maar nie om bekeerlinge te maak nie), selfregering en vrystelling van militêre diens.

Toe die Kommunistiese Party aan bewind gekom het, is al hierdie voorregte weggeneem. In die laat 1920’s is groot Mennonieteplase in gemeenskapsplase verander. Mense is deur verhongering tot onderworpenheid gedwing, en enige verset is wreed onderdruk. Gedurende die 1930’s is baie mans deur die KGB (Russiese Geheime Polisie) weggeneem, gewoonlik in die nag, totdat daar uiteindelik in talle dorpies baie min mans oor was. Dit was hoe ek in 1938, toe ek 14 was, my pa verloor het, en ek het hom nooit weer gesien of van hom gehoor nie. Twee jaar later is my ouer broer ook weggeneem.

Teen 1941 het Hitler se troepe die Oekraïne beset. Vir ons het dit bevryding van die Kommunistiese bewind beteken. Maar agt Joodse gesinne wat in ons dorpie gewoon het, het skielik verdwyn. Al hierdie ondervindinge het baie vrae by my laat ontstaan. Waarom het hierdie dinge gebeur?

Eerlikheid red my lewe

In 1943 het die Duitse troepe teruggetrek, en hulle het die meeste Duitse gesinne—ook wat oor was van ons gesin—saamgeneem om die oorlogspoging te ondersteun. Ek was toe alreeds opgeroep en gestuur om in die Duitse SS (Schutzstaffel, Hitler se keurwag) in Roemenië te dien. ’n Onbeduidende voorval gedurende hierdie tyd het ’n groot impak op my lewe gehad.

Die kaptein van my eenheid wou my eerlikheid toets. Hy het my aangesê om sy uniform na die droogskoonmaker te neem. In een van die sakke het hy geld gesit, wat ek gevind het. Toe ek dit vir hom teruggee, het hy gesê dat hy niks in die uniform gelos het nie. Ek het daarop aangedring dat dit uit sy sak gekom het. Kort daarna is ek as sy assistent aangestel en die verantwoordelikheid gegee om papierwerk te doen, die wagte uit te sit en na die geld van ons eenheid om te sien.

Een nag het die Russiese leër die hele eenheid behalwe my gevange geneem; ek het agtergebly om werk vir die kaptein klaar te maak. So ver ek weet, was ek die enigste een wat nie gevang is nie, en dit was omdat ek eerlik was en daardie spesiale toewysing ontvang het. Anders was ek ook gevang.

So het dit gekom dat ek skielik in 1944 met verlof was tot verdere kennisgewing. Ek het huis toe gegaan om my ma te besoek. Terwyl ek op ’n toewysing gewag het, het ek ’n leerlingmesselaar geword, en daardie opleiding het later goed te pas gekom. In April 1945 het Amerikaanse troepe ons dorp naby Maagdenburg ingeneem. ’n Maand later het die oorlog amptelik geëindig. Ons het gelewe. Ons toekoms het rooskleurig gelyk.

Eendag in Junie het ons ’n aankondiging deur die stadsomroeper gehoor: “Die Amerikaanse troepe het gisteraand vertrek, en die Russiese troepe sal vanoggend om elfuur opdaag.” Ons harte het in ons skoene gesak toe ons besef dat ons weer eens in ’n Kommunistiese sone vasgekeer is. Ek en my neef het onmiddellik planne begin maak om te vlug. Teen die middel van die somer was ons al in die Amerikaanse sone. Toe, in November, het ons met groot moeite en ondanks groot gevaar weer die Russiese sone binnegegaan en ons gesinne in die geheim oor die grens gebring.

“Luister aandagtig en vergelyk alles”

Ons het ons gevestig in wat destyds Wes-Duitsland was. Ek het mettertyd ’n liefde vir die Bybel ontwikkel. Sondae het ek na die woud gegaan om die Bybel te lees, maar wat ek gelees het, het so vreemd, so ver in die verlede geklink. Ek het ook katkisasieklasse bygewoon ter voorbereiding vir doop as ’n Mennoniet. Ek was geskok toe ek in die katkisasieboek lees: “Die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God”, gevolg deur die vraag: “Is daar drie Gode?” Die antwoord was onderaan gedruk: “Nee, hierdie drie is een.” Ek het die predikant gevra hoe dit moontlik kan wees. Sy antwoord was: “Jong man, ’n mens moenie te diep oor hierdie dinge dink nie; party mense het al van hulle verstand af geraak omdat hulle te diep gedelf het.” Ek het daar en dan besluit om nie gedoop te word nie.

’n Paar dae later het ek ’n vreemdeling met my niggie hoor praat. Uit nuuskierigheid het ek by die gesprek aangesluit, en ek het ’n paar vrae gevra. Ek het dit nie op daardie stadium geweet nie, maar die vreemdeling was Erich Nikolaizig, ’n oorlewende van die Wewelsburg-konsentrasiekamp. Hy het my gevra of ek die Bybel wil verstaan. Toe ek ja sê, het hy my verseker dat hy alles wat hy my sal leer, uit my eie eksemplaar van die Bybel sal bewys.

Ná net ’n paar besoeke het Erich my na ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies genooi, wat glo een van die eerstes was wat ná die oorlog gereël is. Ek was baie beïndruk en het elke teks neergeskryf wat die sprekers gelees of genoem het. Ek het gou besef dat dit sekere verantwoordelikhede meebring wanneer ’n mens leer wat die Bybel sê, en ek het besluit om my studie stop te sit. Ek het dit ook moeilik gevind om te verstaan dat daar net een ware geloof kan wees. Toe Erich sien dat ek vasbeslote is om na my ou kerk terug te gaan, het hy my hierdie raad gegee: “Luister aandagtig en vergelyk alles.”

Twee besoeke aan die predikante van my kerk was genoeg om my te laat besef dat hulle nie weet waarvan hulle praat nie en dat hulle beslis nie die waarheid het nie. Ek het aan ’n paar geestelikes geskryf en vir hulle Bybelvrae gevra. Een het geantwoord: “Jy het geen reg om die Skrif te ondersoek nie, want jy is nie wedergebore nie.”

’n Jong vrou wat ek die hof gemaak het, het my gedwing om ’n moeilike besluit te neem. Sy het tot ’n wedergebore sekte van die Mennoniete behoort. Sy het geswig voor druk van haar familie, wat Jehovah se Getuies gehaat het, en vir my gesê dat sy nie meer met my sal kan uitgaan as ek nie van hierdie nuwe geloof vergeet nie. Teen dié tyd was die waarheid vir my duidelik genoeg om te weet dat daar net een regte keuse is—ek het opgehou om met haar uit te gaan.

Erich het my gou weer kom besoek. Hy het gesê dat daar ’n doopplegtigheid vir die volgende week gereël is en het gevra of ek gedoop wil word. Ek het reeds tot die gevolgtrekking gekom dat Jehovah se Getuies die waarheid leer en wou Jehovah God dien. Ek het gevolglik sy uitnodiging aanvaar en is in Mei 1948 in ’n bad gedoop.

Kort ná my doop het die res van ons gesin besluit om na Paraguay, Suid-Amerika, te immigreer, en my ma het my gesmeek om ook te gaan. Ek wou nie graag nie, want ek het verdere Bybelstudie en opleiding nodig gehad. Tydens ’n besoek aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in Wiesbaden het ek August Peters ontmoet. Hy het my herinner aan my verantwoordelikheid om vir die gesin te sorg. Hy het my ook gemaan: “Wat ook al gebeur, moet nooit die deur-tot-deur-bediening vergeet nie. As jy dit vergeet, sal jy net soos die lidmate van enige ander godsdiens van die Christendom wees.” Ek besef vandag nog hoe belangrik daardie raad was en hoe nodig dit is om “van huis tot huis”, oftewel van deur tot deur, te preek.—Handelinge 20:20, 21.

’n “Valse profeet” in Paraguay

Nie lank ná daardie ontmoeting met August Peters nie het ek saam met die res van die gesin per skip na Suid-Amerika vertrek. Ons het ons in die Gran Chaco-streek van Paraguay gaan vestig, weer eens in ’n Mennoniete-kolonie. Twee weke ná ons aankoms het ek daardie moeilike tog na die naburige dorpie onderneem om op my eie daar te gaan preek. Berigte dat daar ’n “valse profeet” onder die nuwe aankomelinge is, het gou versprei.

Dit was op hierdie stadium dat my opleiding as messelaar van onskatbare waarde was. Elke immigrantegesin het ’n huis nodig gehad, en hierdie huise is van rousteen gebou, met ’n grasdak. Gedurende die volgende ses maande het ek baie werk gehad, asook baie geleenthede om informeel te getuig. Mense was beleef, maar sodra hulle vier mure voltooi was, was hulle bly om van my ontslae te raak.

Intussen het vragskepe nog Mennonitiese vlugtelinge uit Duitsland gebring. Onder hulle was ’n jong vrou, Katerina Schellenberg, wat vroeër kortliks kontak met die Getuies gehad het en amper dadelik besef het dat hulle die waarheid leer. Hoewel sy nog nie gedoop was nie, het sy haar op die skip as een van Jehovah se Getuies geïdentifiseer. Gevolglik is sy nie toegelaat om verder te reis na die Duitse kolonie nie. Toe sy alleen in Asunción, die hoofstad van Paraguay, agtergelaat is, het sy werk as ’n bediende gekry, Spaans leer praat, die Getuies opgespoor en is sy gedoop. In Oktober 1950 is ek en hierdie moedige jong vrou getroud. Sy het my nog altyd op ’n wonderlike wyse ondersteun en gehelp in alles wat ons oor die jare heen deurgemaak het.

In ’n kort tyd het ek genoeg geld gespaar om ’n kar en twee perde te koop, wat ek in die predikingswerk gebruik het, terwyl ek altyd broer Peters se raad onthou het. Teen dié tyd het my suster, wat ook ’n Getuie geword het, by ons aangesluit. Saam het ons dikwels vieruur in die oggend opgestaan, vier uur lank gereis, twee of drie uur lank gepreek en dan teruggekeer huis toe.

Ek het in ons lektuur gelees dat openbare toesprake gehou word, en daarom ek het een gereël. Omdat ek nooit ’n gemeentelike vergadering in Duitsland bygewoon het nie, het ek maar geraai hoe dit gedoen moet word en oor God se Koninkryk gepraat. Agt mense het hierdie vergadering bygewoon, en dit was die laaste strooi vir die predikante van die Mennonitiese Kerk. Hulle het ’n veldtog geloods om al die Bybellektuur wat ons by die mense gelaat het, bymekaar te maak, en hulle het die mense aangesê om ons nie eens te groet nie.

Later is ek na die administratiewe hoofkantoor van die kolonie ontbied en ure lank deur die administrateur en twee besoekende predikante van Kanada ondervra. Uiteindelik het een van hulle gesê: “Jong man, jy kan glo wat jy wil, maar jy sal moet belowe dat jy met niemand oor jou oortuigings sal praat nie.” Dit was ’n belofte wat ek nie kon maak nie. Hulle het my dus beveel om die kolonie te verlaat, aangesien hulle nie ’n “valse profeet” onder die “getroue broeders” wou hê nie. Toe ek weier, het hulle aangebied om die vervoerkoste vir die hele gesin te dek. Ek het voet by stuk gehou en geweier om te gaan.

Daardie somer van 1953 het ek ’n streekbyeenkoms in Asunción bygewoon. Ek het daar met Nathan Knorr, van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gepraat. Hy het voorgestel dat ek na die hoofstad trek en daar saam met die groepie sendelinge werk, veral omdat ons predikingswerk in die Mennoniete-kolonie so min resultate opgelewer het.

Ons stel die Koninkryk eerste

Daar was destyds net omtrent 35 Getuies in die hele Paraguay. Ek het dit met my vrou bespreek, en hoewel sy nie gehou het van die idee om na ’n groot stad te trek nie, was sy bereid om weer van voor af te begin. In 1954 het ek en Katerina—net ons twee en in ons vrye tyd—’n baksteenhuis gebou. Ons het nooit van enige vergaderinge weggebly nie, en ons het altyd oor naweke met mense oor die Bybel gepraat.

Een van my voorregte was om die kringopsiener, ’n reisende bedienaar, te vergesel en as sy tolk te dien wanneer hy van die Duitssprekende kolonies in Paraguay besoek het. Die moeilikste toewysing wat ek seker al ooit ontvang het, was toe ek die eerste keer ’n toespraak uit Spaans in Duits moes tolk, want ek het destyds min Spaans geken.

In 1957 het ons weens my vrou se gesondheid na Kanada geïmmigreer. Daarna het ons in 1963 na die Verenigde State verhuis. Ongeag waar ons was, ons het altyd Koninkryksbelange eerste in ons lewe probeer stel (Matteus 6:33). Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah God dat hy my toegelaat het om die waarheid van sy Woord, die Bybel, te leer terwyl ek nog ’n jong man was. Die geestelike opleiding wat ek ontvang het, het my regdeur my lewe op baie maniere gehelp!

Dit was ’n groot voorreg om ander te help om die wonderlike Bybelwaarhede, wat my soveel vertroosting gebring het, te leer. My grootste bron van vreugde is dat al my kinders en kleinkinders van kleins af by Bybelse opleiding baat gevind het. Almal van hulle volg die raad wat broer Peters my lank gelede gegee het: “Wat ook al gebeur, moet nooit die deur-tot-deur-bediening vergeet nie.”

[Lokteks op bladsy 22]

My grootste bron van vreugde is om te sien dat al my kinders en kleinkinders van kleins af by Bybelse opleiding baat gevind het

[Prente op bladsy 20, 21]

Ek en Katerina kort voor ons troue in 1950

[Prent op bladsy 21]

Saam met ons eerste kind by ons huis in Paraguay, 1952

[Prent op bladsy 23]

Vandag saam met my uitgebreide familie

[Erkenning]

Photo by Keith Trammel © 2000

[Foto-erkenning op bladsy 19]

Photo by Keith Trammel © 2000

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel