“Jehovah is my sterkte”
Soos vertel deur Joan Coville
Ek is in Julie 1925 in Huddersfield, Engeland, gebore. Ek was die enigste kind en was dikwels siek. Trouens, my pa het altyd gesê: “Wanneer die wind op jou waai, word jy siek.” En dit het gelyk of dit regtig so is!
TOE ek ’n kind was, het geestelikes vurig vir vrede gebid, maar toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, het hulle vir ’n oorwinning gebid. Dit het my verwar en twyfelgedagtes by my laat ontstaan. Juis gedurende dié tyd het Annie Ratcliffe, die enigste Getuie van Jehovah in ons gebied, ons besoek.
Ons kom in aanraking met die waarheid
Annie het die boek Redding by ons gelaat en my ma genooi om ’n Bybelbespreking by te woon wat in Annie se huis gehou sou word.a My ma het my gevra om saam te gaan. Ek onthou nog daardie eerste bespreking. Dit was oor die losprys, en tot my verbasing was die bespreking glad nie vervelig nie. Dit het baie van my vrae beantwoord. Die volgende week het ons weer gegaan. Hierdie keer is Jesus se profesie oor die teken van die laaste dae verduidelik. Ek en my ma het na die slegte toestande in die wêreld gekyk en dadelik besef dat dit die waarheid is. Daardie selfde dag is ons na die Koninkryksaal genooi.
By die saal het ek ’n paar jong pioniers ontmoet, en onder hulle was Joyce Barber (nou Ellis), wat vandag nog saam met haar man, Peter, by die Bethel in Londen dien. Die indruk wat ek gekry het, was dat almal pioniers is. Ek het dus dadelik elke maand 60 uur aan die predikingswerk bestee, al was ek nog op skool.
Vyf maande later, op 11 Februarie 1940, is ek en my ma gedoop by ’n sonebyeenkoms (nou bekend as ’n kringbyeenkoms) in Bradford. My pa was verdraagsaam ten opsigte van ons nuwe geloof, maar het nooit self ’n standpunt vir die waarheid ingeneem nie. Omstreeks die tyd toe ek gedoop is, is daar met straatgetuieniswerk begin. Ek het daaraan deelgeneem en ’n tydskrifsak en plakkate gedra. Een Saterdag moes ek by die besigste deel van ’n winkelgebied staan. Ek het nog steeds mensevrees gehad, en dit het sowaar vir my gevoel asof al my skoolmaats by die straathoek verbyloop waar ek gestaan het!
In 1940 moes ons groep (soos ’n gemeente destyds genoem is) verdeel. Daarna was byna al my portuurs in die ander groep. Ek het hieroor gekla by die groepkneg (nou bekend as die presiderende opsiener). Hy het gesê: “As jy jong vriende wil hê, moet jy hulle in die veld gaan soek.” En dit is presies wat ek gedoen het! Kort voor lank het ek Elsie Noble ontmoet. Sy het die waarheid aangeneem en toe ’n lewenslange vriendin geword.
Pionierdiens en die seëninge daarvan
Nadat ek met skool klaargemaak het, het ek vir ’n rekenmeester gewerk. Maar toe ek die vreugde van voltydse dienaars sien, het dit my begeerte versterk om Jehovah as ’n pionier te dien. In Mei 1945 het ek die vreugde gehad om as ’n spesiale pionier te begin dien. Gedurende my eerste dag in die pionierdiens het dit heeltyd gereën. Tog was ek so bly om in die predikingswerk te wees dat die reën my glad nie gepla het nie. In werklikheid het dit my gesondheid goed gedoen om elke dag buite te wees en gereeld oefening te kry terwyl ek fietsgery het in die bediening. Hoewel ek nooit meer as 42 kilogram geweeg het nie, was dit nooit vir my nodig om my pionierdiens te onderbreek nie. Oor die jare heen het ek in ’n baie letterlike sin ervaar dat ‘Jehovah my sterkte is’.—Ps. 28:7.
Ek is as ’n spesiale pionier na dorpe gestuur waar daar nie Getuies was nie sodat nuwe gemeentes gevorm kon word. Ek het eers drie jaar in Engeland gedien en toe drie jaar in Ierland. Terwyl ek in Lisburn, Ierland, gepionier het, het ek met ’n man gestudeer wat ’n assistentpastoor in ’n Protestantse kerk was. Terwyl hy die waarheid oor basiese Bybelleerstellings geleer het, het hy sy nuutgevonde kennis aan sy gemeente oorgedra. Party van hulle het by die kerkowerheid gekla, en hy is natuurlik vir ’n verduideliking gevra. Hy het gesê dat hy dit as sy Christelike plig beskou om die kudde te vertel dat hy hulle talle valshede geleer het. Hoewel sy familie hom hewig teëgestaan het, het hy sy lewe aan Jehovah toegewy en hom tot sy dood getrou gedien.
In Larne, my tweede pioniertoewysing in Ierland, het ek ses weke lank alleen gedien omdat my pioniermaat die “Teokrasie se vermeerdering”-byeenkoms in 1950 in New York bygewoon het. Dít was ’n moeilike tyd vir my. Ek wou baie graag by die byeenkoms wees. Maar gedurende daardie weke het ek ’n hele paar bemoedigende velddiensondervindinge gehad. Ek het ’n bejaarde man ontmoet wat meer as 20 jaar vroeër een van ons publikasies geneem het. Oor die jare heen het hy dit soveel keer gelees dat hy dit byna uit sy kop geken het. Hy, sowel as sy seun en dogter, het die waarheid aangeneem.
Opleiding by die Gileadskool
In 1951 is ek en tien ander pioniers uit Engeland genooi om die 17de klas van die Gileadskool in South Lansing, New York, by te woon. Ek het die Bybelonderrig wat ons gedurende daardie maande ontvang het, baie geniet! Destyds het susters nog nie toesprake op die Teokratiese Bedieningskool in die plaaslike gemeentes gehou nie, maar by Gilead het ons toewysings ontvang om studentetoesprake te hou en verslae te gee. En was ons senuweeagtig! Gedurende my eerste toespraak het my hand waarin my aantekeninge was, heeltyd gebewe. Die instrukteur, broer Maxwell Friend, het skertsend gesê: “Jy was nie net, soos alle goeie sprekers, aan die begin senuweeagtig nie—jy was sommer tot die einde toe senuweeagtig.” Gedurende die kursus het ons almal verbeter in ons vermoë om ons voor die klas uit te druk. Ons opleiding het alte gou tot ’n einde gekom, en ons is as gegradueerdes na ’n aantal ander lande gestuur. My toewysing was Thailand!
“Die land van glimlagte”
Astrid Anderson is as my sendelingmaat na Thailand toegewys, en ek het dit as ’n gawe van Jehovah beskou. Dit het ons sewe weke op ’n vragskip geneem om daar te kom. Toe ons in die hoofstad, Bangkok, aankom, het ons ’n stad gesien met besige markte en ’n netwerk kanale wat as die hoofpaaie gedien het. In 1952 was daar minder as 150 Koninkryksverkondigers in Thailand.
Toe ons Die Wagtoring vir die eerste keer in Thai gesien het, het ons gewonder: ‘Hoe gaan ons ooit hierdie taal kan praat?’ Dit was veral moeilik om die woorde met die regte toon te sê. As die woord khaù byvoorbeeld uitgespreek word met ’n toon wat hoog begin en dan daal, beteken dit “rys”, maar as dieselfde woord uitgespreek word met ’n diep toon, beteken dit “nuus”. In die veldbediening het ons dus aanvanklik vir mense gesê: “Ek bring vir jou goeie rys” in plaas van “goeie nuus”! Maar mettertyd—en ná talle lagwekkende situasies—het ons daarin geslaag.
Die Thaise volk is baie vriendelik. Thailand word dus heel gepas “die land van glimlagte” genoem. Ons eerste toewysing was in die stad Khorat (nou Nakhon Ratchasima), waar ons twee jaar lank gedien het. Later is ons na die stad Chiang Mai toegewys. Die meeste Thailanders is Boeddhiste en ken nie die Bybel nie. In Khorat het ek met die posmeester gestudeer. Ons het oor die aartsvader Abraham gesels. Aangesien die man die naam Abraham al voorheen gehoor het, het hy sy kop geesdriftig geknik. Ek het egter gou uitgevind dat ons nie van dieselfde Abraham praat nie. Die posmeester het gedink aan Abraham Lincoln, ’n voormalige president van die Verenigde State!
Ons het dit geniet om vir opregtes van hart onder die Thaise volk die Bybel te leer, maar terselfdertyd het die Thailanders ons geleer hoe om met ’n eenvoudige lewe tevrede te wees. Dit was ’n nuttige les, want in die eerste sendinghuis in Khorat het ons nie elektrisiteit of lopende water gehad nie. In sulke toewysings het ons “die geheim daarvan geleer . . . om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly”. Soos die apostel Paulus, het ons ervaar wat dit beteken om “sterk genoeg [te wees] deur hom wat [ons] krag gee”.—Fil. 4:12, 13.
’n Nuwe maat en ’n nuwe toewysing
In 1945 het ek Londen besoek. Gedurende daardie besoek het ek saam met ander pioniers en Betheliete na die Britse Museum gegaan. Een van hulle was Allan Coville, wat kort daarna die 11de Gileadklas bygewoon het. Hy is na Frankryk en daarna na België gestuur.b Hy het my later, terwyl ek nog as ’n sendeling in Thailand gedien het, gevra om met hom te trou, en ek het ja gesê.
Ons is op 9 Julie 1955 in Brussel, België, getroud. Ek het nog altyd gedroom van ’n wittebrood in Parys, en Allan het dus gereël dat ons die volgende week ’n byeenkoms daar bywoon. Maar toe ons daar aankom, is Allan dadelik gevra om gedurende die hele byeenkoms as ’n tolk te dien. Hy moes elke oggend vroeg vertrek, en ons het eers laat in die aand na ons verblyf teruggekeer. Ek het my wittebrood dus wel in Parys deurgebring, maar ek het Allan meestal net op ’n afstand gesien—op die verhoog! Nogtans was ek bly om te sien dat my nuwe man gebruik word om sy broers en susters te dien, en ek was vas oortuig dat ons werklik gelukkig sal wees as Jehovah die middelpunt van ons huwelik is.
Saam met my huwelik het ook ’n nuwe predikingsgebied gekom—België. Feitlik al wat ek van België geweet het, was dat etlike oorloë daar gevoer is, maar ek het gou uitgevind dat die meeste Belge in werklikheid vredeliewend is. My toewysing het ook beteken dat ek Frans moes leer, wat in die suide van die land gepraat word.
In 1955 was daar ongeveer 4 500 verkondigers in België. Ek en Allan het byna 49 jaar lank by Bethel en in die reisende werk gedien. Die eerste twee en ’n half jaar het ons per fiets gereis, teen heuwels op en af, in reënweer of sonskyn. Oor die jare het ons in meer as 2 000 verskillende huise van mede-Getuies oornag! Ek het dikwels broers en susters ontmoet wat nie fisies sterk was nie, maar wat Jehovah met al hulle krag gedien het. Hulle voorbeeld het my aangespoor om in my diens te volhard. Aan die einde van elke week waarin ons ’n gemeente besoek het, het ons altyd aangemoedig gevoel (Rom. 1:11, 12). Allan was ’n ware metgesel. Hoe waar is die woorde tog in Prediker 4:9, 10: “Twee is beter as een, want . . . as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp”!
Seëninge van lewenslange diens met ‘Jehovah as my sterkte’
Oor die jare heen het ek en Allan talle vreugdevolle ondervindinge gehad terwyl ons ander gehelp het om Jehovah te dien. In 1983 het ons byvoorbeeld die Franse gemeente in Antwerpen besoek, waar ons by ’n gesin gebly het wat ook verblyf voorsien het aan Benjamin Bandiwila, ’n jong broer uit Zaïre (nou Demokratiese Republiek van die Kongo). Benjamin het na België verhuis om hoër onderwys na te streef. Hy het vir ons gesê: “Ek beny julle regtig die lewe wat julle het, ’n lewe wat ten volle aan Jehovah se diens gewy word.” Allan het geantwoord: “Jy sê dat jy ons beny; tog streef jy ’n wêreldse loopbaan na. Dink jy nie dit is teenstrydig nie?” Hierdie reguit kommentaar het Benjamin oor sy lewe laat dink. Hy het later, toe hy terug was in Zaïre, begin pionier, en tans dien hy as ’n lid van die Takkomitee.
In 1999 het ek ’n operasie gehad om ’n sweer uit my slukderm te verwyder. Sedertdien weeg ek net 30 kilogram. Ek is werklik ’n brose ‘erdehouer’. Maar ek is dankbaar dat Jehovah my “die krag wat bo die normale is”, gegee het. Ná my operasie het hy dit vir my moontlik gemaak om Allan weer in die reisende werk te vergesel (2 Kor. 4:7). Toe, in Maart 2004, is Allan in sy slaap oorlede. Ek mis hom ontsettend baie, maar die wete dat hy in Jehovah se geheue is, vertroos my.
Vandag, op 83-jarige ouderdom, kyk ek terug op meer as 63 jaar in die voltydse diens. Ek is nog steeds bedrywig in die bediening—ek hou ’n Bybelstudie in my huis en gebruik elke dag geleenthede om oor Jehovah se wonderlike voorneme te praat. Soms wonder ek: ‘Hoe sou my lewe uitgedraai het as ek nie in 1945 begin pionier het nie?’ Destyds het my swak gesondheid na ’n geldige rede gelyk om dit nie te doen nie. Maar hoe dankbaar is ek tog dat ek wel begin pionier het toe ek jonk was! Ek het die voorreg gehad om persoonlik te ondervind dat Jehovah ons sterkte sal wees as ons hom eerste stel.
[Voetnote]
a Redding is in 1939 uitgegee. Dit is nou uit druk.
b Broer Coville se lewensverhaal het in The Watchtower van 15 Maart 1961 verskyn.
[Prent op bladsy 18]
Saam met my sendelingmaat, Astrid Anderson (regs)
[Prent op bladsy 18]
In die reisende werk saam met my man, 1956
[Prent op bladsy 20]
Saam met Allan in 2000