Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 12/1 bl. 18-21
  • Vroeë Christene in die Griekse wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vroeë Christene in die Griekse wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verspreiding van die Griekse kultuur
  • Die rol van die Septuagint
  • Proseliete en godvresers
  • Predikingswerk onder die Grieke
  • Word alles vir alle soorte mense
  • ’n Bybelvertaling wat die wêreld verander het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Christene en die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Die “Septuagint”—Destyds en vandag nuttig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Hebreeus en Grieks—Moet jy dit leer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 12/1 bl. 18-21

Vroeë Christene in die Griekse wêreld

’N GROOT deel van die wêreld waarin die eerste-eeuse Christene gepreek het, was Griekssprekend. Die Skrif wat hulle gebruik het om die boodskap oor Jesus te staaf, is in Grieks versprei. Toe skrywers geïnspireer is om op skrif te stel wat later die Christelike Griekse Geskrifte geword het, het die meeste van hulle in Grieks geskryf en uitdrukkings en illustrasies gebruik wat maklik verstaan kon word deur mense wat kontak gehad het met die Griekse kultuur. Maar nóg Jesus, nóg sy apostels nóg enige van die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte was Grieke. Trouens, hulle was almal Jode.—Romeine 3:1, 2. 

Hoe het dit gebeur dat Grieks so ’n belangrike rol in die verspreiding van die Christelike godsdiens gespeel het? Hoe het eerste-eeuse Christenskrywers en -sendelinge hulle boodskap oorgedra sodat dit by Griekssprekende gehore byval gevind het? En waarom is hierdie hoofstuk in die antieke geskiedenis vir ons van belang?

Die verspreiding van die Griekse kultuur

In die vierde eeu v.G.J. het Aleksander die Grote die Persiese Ryk omvergewerp en sy veldtog van wêreldverowering voortgesit. Om die dele van sy nuwe ryk te verenig, het hy en die konings wat hom opgevolg het, “hellenisering” bevorder, dit wil sê om die Griekse taal en lewenwyse aan te neem.

Selfs nadat Rome Griekeland onderwerp en dit van al sy politieke mag gestroop het, het die Griekse kultuur nog steeds ’n sterk invloed op omliggende volke uitgeoefen. Gedurende die tweede en eerste eeu v.G.J. het die Romeinse aristokrasie groot bewondering gehad vir alles wat Grieks is—kuns, argitektuur, letterkunde en filosofie—sodat die digter Horatius gesê het: “Gevange Griekeland het haar onbeskaafde veroweraar gevange geneem.”

Onder Romeinse heerskappy het belangrike stede deur die hele Klein-Asië, Sirië en Egipte as sentrums van Griekse kultuur gefloreer. As ’n beskawende faktor het Hellenisme elke aspek van die lewe geraak, van staats- en wetgewende instellings tot die handel, nywerhede en selfs die mode. In die meeste Griekse stede was daar gewoonlik die gimnasium, waar jong mans geoefen het, en die teater, waar Griekse dramas opgevoer is.

“Die Jode is ook deur hierdie stroom van Hellenistiese kultuur meegevoer, stadig en teësinnig, maar onvermydelik”, sê die geskiedskrywer Emil Schürer. Aanvanklik het Joodse godsdiensywer die bedreiging van die heidendom wat saam met die Griekse denkwyse versprei het, teëgehou, maar uiteindelik is baie aspekte van die Joodse lewenswyse geraak. “Die klein Joodse gebied”, sê Schürer, was immers “byna heeltemal omring deur Hellenistiese streke, waarmee die Jode ter wille van die handel voortdurend in aanraking moes bly”.

Die rol van die Septuagint

Baie van die Jode wat getrek en hulle oral in die Mediterreense gebied gevestig het, het hulle in stede met ’n Hellenistiese kultuur bevind, waar die taal Grieks was. Sulke setlaars het steeds hulle Joodse godsdiens beoefen en vir die jaarlikse Joodse feeste na Jerusalem gereis. Maar baie van hulle het ná verloop van tyd nie meer die Hebreeuse taal geken nie.a Daar het dus ’n behoefte ontstaan aan ’n vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in die Grieks wat deur die massa gepraat is. Joodse geleerdes, waarskynlik in Aleksandrië, Egipte—’n belangrike sentrum van Hellenistiese kultuur—het omstreeks 280 v.G.J. die taak aangepak. Die resultaat was die Septuagint.

Daar is al gesê dat die Septuagint uiters betekenisvol is. Dit was die sleutel wat die skatte van die Hebreeuse Geskrifte vir die Westerse beskawing ontsluit het. Daarsonder sou die kennis van God se handelinge met Israel opgesluit gebly het in relatief onbekende geskrifte in ’n taal wat nie meer algemeen verstaan is nie en sou dit min kon doen om stukrag te gee aan ’n wêreldwye evangelisasiewerk. Die Septuagint het in werklikheid die agtergrond, konsepte en taal voorsien wat dit moontlik gemaak het om die kennis van Jehovah God aan mense uit diverse etniese agtergronde oor te dra. Omdat Grieks so algemeen bekend was, was dit weergaloos as ’n medium om heilige waarhede aan die wêreld bekend te maak.

Proseliete en godvresers

Teen die tweede eeu v.G.J. het die Jode reeds baie van hulle letterkundige werke in Grieks vertaal en het hulle nuwes direk in dié taal geskryf. Dit het ’n belangrike rol daarin gespeel om kennis van Israel se geskiedenis en godsdiens aan die nie-Joodse wêreld oor te dra. Geskiedkundiges sê dat daar gedurende hierdie tydperk baie nie-Jode was wat “in sekere mate met Joodse gemeenskappe verbintenisse gevorm het, aan die Joodse godsdiens deelgeneem het en Joodse voorskrifte nagekom het, al was dit nie altyd ewe nougeset nie”.—The History of the Jewish People in the Age of Jesus Christ.

Party nie-Jode het in só ’n mate vooruitgang gemaak dat hulle die Judaïsme aangeneem het, besny is en proseliete geword het. Ander het sekere aspekte van die Judaïsme aanvaar, maar het gehuiwer om hulle te bekeer. Daar is dikwels in die Griekse letterkunde na hulle verwys as “godvresers”. Kornelius word beskryf as “’n vroom man en iemand wat . . . God gevrees het”. Die apostel Paulus het baie godvresers onder die Jode in die hele Klein-Asië en Griekeland ontmoet. Byvoorbeeld, in Pisidiese Antiogië het hy diegene wat in die sinagoge bymekaargekom het, aangespreek as “manne, Israeliete en julle ander wat God vrees”.—Handelinge 10:2; 13:16, 26; 17:4; 18:4.

Toe Jesus se dissipels die goeie nuus in Joodse gemeenskappe buite die grense van Judea begin verkondig het, was baie van dié wat dit gehoor het, dus hoofsaaklik uit ’n Griekse agtergrond. Sulke gemeenskappe was vrugbare grond vir die Christelike godsdiens. Toe dit duidelik geword het dat God die hoop op redding selfs aan nie-Jode bied, het die dissipels besef dat daar in God se oë “nie Jood of Griek” is nie.—Galasiërs 3:28.

Predikingswerk onder die Grieke

Weens die lae godsdiens- en sedelike standaarde van die mense van die nasies was party vroeë Joodse Christene aanvanklik huiwerig om nie-Joodse bekeerlinge in die Christengemeente toe te laat. Toe dit duidelik geword het dat God bereid is om nie-Jode te aanvaar, het die apostels en ouer manne in Jerusalem dit dus duidelik gemaak dat sulke bekeerlinge hulle van bloed, hoerery en afgodediens moet onthou (Handelinge 15:29). Dit was noodsaaklik vir almal wat voorheen die Griekse lewenswyse gevolg het, omdat “skandelike geslagsdrifte” en homoseksualiteit uiters algemeen was in die Grieks-Romeinse samelewing. Daar was geen plek vir sulke gebruike onder Christene nie.—Romeine 1:26, 27; 1 Korintiërs 6:9, 10.

Onder die eerste-eeuse Christensendelinge wat in die Griekse wêreld gepreek het, was die apostel Paulus die prominentste. Besoekers aan Atene, Griekeland, kan vandag nog aan die voet van die Areopagus ’n bronsplaat sien ter herdenking van Paulus se beroemde toespraak in daardie stad. Die verslag is opgeteken in hoofstuk 17 van die Bybelboek Handelinge. Sy openingswoorde, “Manne van Atene”, was gebruiklik vir ’n Griekse redenaar en het sekerlik sy gehoor—onder andere die Epikuriese en Stoïsynse filosowe—op hulle gemak gestel. Paulus het nie sy irritasie laat blyk of die geloof van sy toehoorders gekritiseer nie, maar het eerder ’n goeie verhouding met hulle probeer kweek deur te erken dat hulle blykbaar baie godsdienstig is. Hy het gepraat van hulle altaar “Aan ’n Onbekende God” en gemeenskaplike grond gevind deur te sê dat dít die God is oor wie hy wil praat.—Handelinge 17:16-23.

Paulus het sy toehoorders bereik deur na konsepte te verwys wat hulle kon aanvaar. Die Stoïsyne kon met hom saamstem oor die feit dat God die Bron van menselewe is, dat alle mense aan dieselfde ras behoort, dat God nie ver van elkeen van ons af is nie en dat menselewe van God afhanklik is. Paulus het hierdie laaste punt gestaaf deur werke van die Stoïsynse digters Aratos (Phaenomena) en Kleantes (Lofsang aan Zeus) aan te haal. Ook die Epikureërs het gevind dat hulle baie met Paulus in gemeen het—God is lewend en kan geken word. Hy is selfonderhoudend, het niks van die mens nodig nie en woon nie in handgemaakte tempels nie.

Paulus se toehoorders was vertroud met die terme wat hy gebruik het. Trouens, volgens een bron was “die wêreld (kosmos)”, “nakomelinge” en “die Goddelike Wese” alles uitdrukkings wat dikwels deur Griekse filosowe gebruik is (Handelinge 17:24-29). Paulus was nie bereid om die waarheid af te water om hulle oor te haal nie. Inteendeel, sy slotopmerkings oor die opstanding en die oordeel was in stryd met hulle oortuigings. Nogtans het hy sy boodskap, wat vorm en inhoud betref, vaardig aangepas, sodat hy die harte van sy filosofies-ingestelde gehoor kon bereik.

Baie van Paulus se briewe is gerig aan gemeentes in Griekse stede of Romeinse kolonies wat heeltemal gehelleniseer is. Hierdie geskrifte, in vloeiende en kragtige Grieks, het goeie gebruik gemaak van idees en voorbeelde wat algemeen was in die Griekse kultuur. Paulus verwys na die atletiese spele, die oorwinnaar se beloning, die tugmeester wat ’n seun skool toe geneem het en baie ander tonele uit die Griekse lewe (1 Korintiërs 9:24-27; Galasiërs 3:24, 25). Hoewel Paulus bereid was om terme aan die Griekse taal te ontleen, het hy Griekse sedes en godsdiensopvattings heftig verwerp.

Word alles vir alle soorte mense

Die apostel Paulus het besef dat hy ‘alles vir alle soorte mense moes word’ om die goeie nuus aan ander te verkondig. “Vir die Jode [het ek] soos ’n Jood geword om Jode te wen”, het hy geskryf, en vir die Grieke het hy soos ’n Griek geword om hulle te help om God se voornemens te verstaan. Paulus was natuurlik besonder bevoeg om dit te doen, aangesien hy ’n Joodse burger van ’n gehelleniseerde stad was. Alle Christene moet vandag iets soortgelyks doen.—1 Korintiërs 9:20-23.

Vandag trek miljoene mense van een land na die ander, van een kultuur na die ander. Dit bied ’n groot uitdaging vir Christene, wat hulle beywer om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en Jesus se opdrag uit te voer om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak’ (Matteus 24:14; 28:19). Hulle vind keer op keer dat dit mense se harte raak en dat hulle gunstig reageer wanneer hulle die goeie nuus in hulle moedertaal hoor.

Om dié rede word hierdie tydskrif, Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan, elke maand in 169 tale uitgegee, en sy medetydskrif, Ontwaak!, in 81 tale. Daarbenewens doen baie van Jehovah se Getuies die moeite om ’n nuwe taal te leer—selfs moeilike tale soos Arabies, Chinees en Russies—sodat hulle met mense wat na hulle buurt getrek het, oor die goeie nuus kan praat. Die oogmerk is vandag dieselfde as in die eerste eeu. Die apostel Paulus het dit goed uitgedruk toe hy gesê het: “Ek het alles vir alle soorte mense geword om op elke moontlike manier sommige te red.”—1 Korintiërs 9:22.

[Voetnoot]

a Baie Jode in Jerusalem was Griekssprekend. Daar was byvoorbeeld “dié wat tot die sogenaamde Sinagoge van die Vrygelatenes behoort het, en van die Sireneërs en Aleksandryne en van dié wat uit Silisië en Asië was”, wat vermoedelik Grieks gepraat het.—Handelinge 6:1, 9.

[Kaart op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Rome

GRIEKE-LAND

Atene

ASIË

Antiogië (van Pisidië)

SILISIË

SIRIË

JUDEA

Jerusalem

EGIPTE

Aleksandrië

Sirene

MIDDELLANDSE SEE

[Prent op bladsy 19]

In die eerste eeu het die “Septuagint” gehelp om kennis van Jehovah te versprei

[Erkenning]

Israel Antiquities Authority

[Prent op bladsy 20]

Die plaat by die Areopagus ter herdenking van Paulus se toespraak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel