Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 12/15 bl. 16-20
  • Vasbeslote om deeglik te getuig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vasbeslote om deeglik te getuig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hy het deeglik getuig!
  • Gee vandag ’n deeglike getuienis
  • Resultate waarvan ons dalk nie bewus is nie
  • ‘Gee ’n deeglike getuienis’
    Ons Koninkryksbediening—2013
  • Opgelei om ’n deeglike getuienis te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wees ywerig om ‘deeglik te getuig’
    Ons Koninkryksbediening—2003
  • Onderrig in die openbaar en van huis tot huis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 12/15 bl. 16-20

Vasbeslote om deeglik te getuig

“Hy [het] ons beveel om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee.”—HAND. 10:42.

1. Watter opdrag het Petrus beklemtoon toe hy voor Kornelius gespreek het?

DIE Italiaanse leëroffisier het sy familielede en vriende bymekaar laat kom vir ’n geleentheid wat ’n keerpunt in God se handelinge met die mens geword het. Hierdie godvresende man was Kornelius. Die apostel Petrus het vir die groep gesê dat die apostels beveel is “om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee” oor Jesus. Petrus se getuienis het oorvloedige vrugte gedra. Onbesnede nie-Jode het God se gees ontvang, is gedoop en het die vooruitsig gehad om konings saam met Jesus in die hemel te wees. Wat ’n wonderlike resultaat het Petrus se deeglike getuienis tog opgelewer!—Hand. 10:22, 34-48.

2. Hoe weet ons dat die opdrag om te getuig, nie tot die 12 apostels beperk was nie?

2 Dit was in 36 G.J. Omtrent twee jaar vroeër het ’n vurige teenstander van die Christelike godsdiens ’n ondervinding gehad wat sy lewe verander het. Saulus van Tarsus was op pad na Damaskus toe Jesus aan hom verskyn het en gesê het: “Gaan in die stad in, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” Jesus het die dissipel Ananias die versekering gegee dat Saulus vir “die nasies sowel as . . . konings en die kinders van Israel” sou getuig. (Lees Handelinge 9:3-6, 13-20.) Ananias het toe vir Saulus gesê: “Die God van ons voorvaders het jou uitgekies . . . , want jy moet by alle mense vir hom ’n getuie wees” (Hand. 22:12-16). Hoe ernstig het Saulus, wat later Paulus genoem is, die toewysing opgeneem om te getuig?

Hy het deeglik getuig!

3. (a) Na watter spesifieke verslag gaan ons kyk? (b) Hoe het die ouer manne van Efese op Paulus se boodskap gereageer, en watter goeie voorbeeld het hulle sodoende gestel?

3 Dit sal interessant wees om in fynere besonderhede te ondersoek wat Paulus alles hierna gedoen het, maar kom ons kyk eers na ’n toespraak wat Paulus omstreeks 56 G.J. gehou het, soos uiteengesit in Handelinge hoofstuk 20. Paulus het hierdie toespraak teen die einde van sy derde sendingreis gehou. Hy het by Milete, ’n hawestad aan die Egeïese See, aan wal gegaan en die ouer manne van die gemeente in Efese laat roep. Efese was sowat 50 kilometer daarvandaan, maar met die kronkelende paaie langs was dit nog verder. Jy kan jou net indink hoe opgewonde die ouer manne van Efese was toe hulle Paulus se boodskap ontvang het. (Vergelyk Spreuke 10:28). Maar hulle sou reëlings moes tref om na Milete te reis. Moes party van hulle dalk verlof neem of hulle winkels toemaak? Baie Christene doen dit vandag om seker te maak dat hulle selfs nie een sessie van hulle jaarlikse streekbyeenkoms sal misloop nie.

4. Wat het Paulus gedoen toe hy ’n paar jaar lank in Efese was?

4 Wat dink jy het Paulus in Milete gedoen gedurende die drie of vier dae voordat die ouer manne daar aangekom het? Wat sou jy gedoen het? (Vergelyk Handelinge 17:16, 17). Paulus se woorde aan die ouer manne van Efese gee ons ’n idee. Hy het sy lewenspatroon oor die jare heen beskryf, onder andere toe hy vroeër in Efese was. (Lees Handelinge 20:18-21.) Sonder vrees dat enigiemand hom kon weerspreek, het hy gesê: “Julle weet goed hoe ek, van die eerste dag dat ek die landstreek Asië betree het, . . . [deeglik] getuig [het].” Ja, hy was vasbeslote om die opdrag uit te voer wat hy van Jesus ontvang het. Hoe het hy dit in Efese gedoen? Een manier was om vir die Jode te getuig deur te gaan na plekke waar baie van hulle gevind kon word. Lukas berig dat Paulus, toe hy omstreeks 52-55 G.J. in Efese was, in die sinagoge “toesprake gehou en oorredingskrag gebruik het”. Toe die Jode “aanhou om hulle te verhard en steeds nie geglo het nie”, het Paulus hom tot ander gewend deur na ’n ander deel van die stad te gaan, maar hy het aangehou preek. Hy het sodoende vir Jode en Grieke in daardie groot stad getuig.—Hand. 19:1, 8, 9.

5, 6. Waarom kan ons seker wees dat Paulus in sy predikingswerk van huis tot huis vir ongelowiges getuig het?

5 Party wat Christene geword het, het mettertyd aan die vereistes voldoen om ouer manne te wees, dié met wie Paulus in Milete gepraat het. Paulus het hulle herinner aan die metode wat hy gebruik het: “Ek [het] my nie daarvan weerhou . . . om julle alles te vertel wat nuttig is of om julle in die openbaar en van huis tot huis te leer nie.” In ons tyd het party mense beweer dat Paulus hier bloot na herdersbesoeke by gelowiges verwys het. Maar dit is nie so nie. Die uitdrukking ‘om in die openbaar en van huis tot huis te leer’ was hoofsaaklik van toepassing op evangelisasiewerk onder ongelowiges. Dit blyk duidelik uit sy volgende woorde. Paulus het gesê dat hy “aan Jode sowel as Grieke . . . oor berou teenoor God en geloof in ons Here Jesus” getuig het. Dit is duidelik dat Paulus getuig het vir ongelowiges, wat berou moes toon en geloof in Jesus moes stel.—Hand. 20:20, 21.

6 In ’n indringende ontleding van die Christelike Griekse Geskrifte het ’n geleerde oor Handelinge 20:20 gesê: “Paulus het drie jaar in Efese deurgebring. Hy het elke huis besoek, of hy het ten minste vir al die mense gepreek (vers 26). Hier is ’n skriftuurlike grondslag vir evangelisasiewerk wat van huis tot huis sowel as in openbare vergaderinge gedoen word.” Hetsy hy elke huis letterlik besoek het, soos hierdie geleerde beweer, of nie, Paulus wou nie hê dat die ouer manne van Efese moet vergeet hoe hy getuig het en wat die gevolg daarvan was nie. Lukas het berig dat “almal wat in die landstreek Asië gewoon het, die woord van die Here gehoor het, Jode sowel as Grieke” (Hand. 19:10). Maar hoe kon “almal” in Asië gehoor het, en wat gee dit te kenne oor die getuienis wat ons lewer?

7. Hoe het Paulus se predikingswerk waarskynlik mense bereik vir wie hy nie regstreeks getuig het nie?

7 Danksy Paulus se predikingswerk in openbare plekke en van huis tot huis het baie sy boodskap gehoor. Dink jy dit is waarskynlik dat almal wat dit gehoor het, in Efese sou gebly het, dat niemand sou weggetrek het om sake te doen, om naby familielede te wees of om weg te kom van die gewoel van die stadslewe nie? Nouliks. Baie het vandag al om sulke redes getrek; jy het dalk ook. En destyds het mense van ander gebiede Efese ook om sosiale of handelsredes besoek. Terwyl hulle daar was, het hulle Paulus dalk ontmoet of hom hoor getuig. Wat het moontlik gebeur toe hulle teruggekeer het huis toe? Dié wat die waarheid aangeneem het, sou getuig het. Ander het miskien nie gelowiges geword nie, maar hulle het waarskynlik gepraat oor wat hulle in Efese gehoor het. Gevolglik het familielede, bure of klante die waarheid gehoor, en party het dit moontlik aangeneem. (Vergelyk Markus 5:14.) Wat gee dit te kenne oor die uitwerking wat dit kan hê as jy deeglik getuig?

8. Hoe het mense dwarsdeur die landstreek Asië moontlik die waarheid gehoor?

8 Aangaande sy vroeëre bediening in Efese het Paulus geskryf dat ‘’n groot deur wat tot bedrywigheid lei, vir hom oopgemaak is’ (1 Kor. 16:8, 9). Watter deur was dit, en hoe is dit vir hom oopgemaak? Paulus se voortgesette bediening in Efese het tot die verspreiding van die goeie nuus gelei. Dink aan Kolosse, Laodisea en Hiërapolis, drie stede wat van Efese af verder binneland toe gelê het. Paulus het hulle nooit besoek nie, maar die goeie nuus het hulle bereik. Epafras was uit hierdie gebied afkomstig (Kol. 2:1; 4:12, 13). Het Epafras Paulus in Efese hoor getuig en ’n Christen geword? Die Bybel sê nie. Maar toe Epafras die waarheid in sy tuisgebied versprei het, het hy Paulus moontlik verteenwoordig (Kol. 1:7). Die Christelike boodskap het dalk gedurende die jare dat Paulus in Efese getuig het, ook stede soos Filadelfia, Sardis en Tiatira bereik.

9. (a) Watter hartgrondige begeerte het Paulus gehad? (b) Wat sal die jaarteks vir 2009 wees?

9 Gevolglik het die ouer manne van Efese genoegsame rede gehad om Paulus se kommentaar te aanvaar: “Ek [heg] geen waarde aan my siel asof dit vir my dierbaar is nie, as ek maar net my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om deeglik van die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God te getuig.” Hierdie vers bevat die positiewe, besielende jaarteks vir 2009: ‘Getuig deeglik van die goeie nuus.’—Hand. 20:24.

Gee vandag ’n deeglike getuienis

10. Hoe weet ons dat ons ’n deeglike getuienis moet gee?

10 Die bevel “om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee”, het mettertyd ander benewens die apostels ingesluit. Toe die verrese Jesus met dissipels gepraat het wat in Galilea byeen was, waarskynlik 500 van hulle, het hy beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” Hierdie bevel is vandag op alle ware Christene van toepassing, soos blyk uit Jesus se woorde: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.”—Matt. 28:19, 20.

11. Vir watter belangrike werk is Jehovah se Getuies bekend?

11 Ywerige Christene gehoorsaam nog steeds hierdie bevel en streef daarna ‘om deeglik van die goeie nuus te getuig’. ’n Vername metode om dit te doen, is deur middel van wat Paulus aan die ouer manne van Efese genoem het—die predikingswerk van huis tot huis. In ’n boek oor doeltreffende sendingwerk, wat in 2007 uitgegee is, het David G. Stewart jr. gesê: “Die praktiese, toegepaste metode van Jehovah se Getuies om lede te besiel om sendingwerk te doen, is baie doeltreffender as vae, teoretiese [aansporings van die preekstoel af]. Om ander van hulle opvattings te vertel, is vir baie van Jehovah se Getuies ’n gunstelingbedrywigheid.” Die gevolg? “In 1999 het net 2 tot 4 persent van die mense onder wie ek ’n opname in twee Oos-Europese hoofstede gemaak het, gesê dat hulle al deur sendelinge van die Heiliges van die Laaste Dae, oftewel ‘Mormone’, genader is. Meer as 70 persent het gesê dat hulle al persoonlik, en dikwels verskeie kere, deur Jehovah se Getuies genader is.”

12. (a) Waarom besoek ons huise in ons gebied “verskeie kere”? (b) Kan jy ’n ondervinding vertel van iemand wie se gesindheid teenoor ons boodskap verander het?

12 Dieselfde kan gesê word van mense in julle gebied. Jy het waarskynlik hiertoe bygedra. Toe jy mense in jou huis-tot-huis-bediening ‘persoonlik genader’ het, het jy met mans, vroue en jongmense by die deure gepraat. Party het dalk nie geluister nie, al is hulle “verskeie kere” genader. Ander het miskien vlugtig geluister terwyl jy vir hulle ’n Bybelvers gelees of met hulle oor ’n skriftuurlike gedagte gepraat het. Maar vir ander kon jy ’n goeie getuienis gee, en hulle het gunstig gereageer. Dit is alles moontlikhede wanneer ons ‘deeglik van die goeie nuus getuig’. Soos jy waarskynlik weet, is daar tallose voorbeelde van persone wat min belangstelling getoon het toe hulle “verskeie kere” genader is, maar wat toe verander het. Iets het moontlik met hulle of met ’n geliefde gebeur wat hulle verstand en hart vir die waarheid geopen het. Nou is hulle ons broers en susters. Moet dus nie moed opgee nie, selfs as jy nie onlangs veel ontvanklike mense gevind het nie. Ons verwag nie dat almal in die waarheid sal kom nie. Maar wat God van ons verwag, is dat ons pligsgetrou en ywerig aanhou om deeglik te getuig.

Resultate waarvan ons dalk nie bewus is nie

13. Hoe kan ons getuieniswerk resultate oplewer waarvan ons dalk nie bewus is nie?

13 Paulus se bediening het nie net ’n uitwerking gehad op diegene wat hy regstreeks gehelp het om Christene te word nie, en dit is ook so in ons geval. Ons maak ’n punt daarvan om gereeld aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem en vir soveel mense moontlik te getuig. Ons praat met bure, werksmaats, skoolmaats en familielede oor die goeie nuus. Is ons bewus van al die resultate wat dit oplewer? In party gevalle is daar dalk onmiddellik goeie resultate. In ander gevalle lê die saadjies van waarheid miskien ’n tyd lank rustend voordat dit in die grond van iemand se hart wortelskiet en groei. Selfs as dít nie gebeur nie, vertel party van die mense met wie ons praat, dalk vir ander wat ons gesê het, wat ons glo en hoe ons optree. Ja, hulle kan onbewustelik daardie saadjies elders op ontvanklike grond laat val.

14, 15. Watter resultate het ’n broer se getuieniswerk opgelewer?

14 Om maar net een voorbeeld te noem: Ryan en sy vrou, Mandi, woon in Florida, VSA. Ryan het by sy werk informeel vir ’n werksmaat getuig. Hierdie man, wat ’n Hindoe-agtergrond het, was beïndruk deur hoe Ryan aantrek en hoe hy praat. In hulle gesprekke het Ryan onderwerpe soos die opstanding en die toestand van die dooies aangeroer. Een Januarieaand het die man sy vrou, Jodi, gevra wat sy van Jehovah se Getuies weet. Sy was ’n Katoliek, en sy het gesê dat sy net een ding met die Getuies verbind, naamlik dat hulle “van deur tot deur preek”. Jodi het dus “Jehovah’s Witnesses” op die Internet gesoek en by ons webwerf www.watchtower.org uitgekom. Jodi het maande lank van die materiaal op hierdie webwerf gelees, insluitende die Bybel en artikels waarin sy belanggestel het.

15 Later het Jodi vir Mandi ontmoet, aangesien hulle albei verpleegsters is. Mandi het Jodi se vrae met graagte beantwoord. ’n Ruk later het hulle, soos Jodi dit stel, “’n Adam tot Armageddon”-bespreking gehad. Jodi het die aanbod van ’n tuisbybelstudie aanvaar. Kort daarna het sy na die Koninkryksaal begin gaan. In Oktober het Jodi ’n ongedoopte verkondiger geword, en sy is in Februarie gedoop. Sy skryf: “Noudat ek die waarheid ken, het ek ’n baie gelukkige en bevredigende lewe.”

16. Wat toon die ondervinding van die broer in Florida oor ons pogings om deeglik te getuig?

16 Ryan sou nooit kon dink dat die getuienis wat hy vir een man gegee het, iemand anders in die waarheid sou laat kom nie. In sy geval het hy wél uitgevind watter resultate sy vasbeslotenheid om ‘deeglik te getuig’, opgelewer het. Wanneer jý by ’n deur, by die werk, op skool of informeel getuig, kan dit, sonder dat jy dit weet, die kanaal word waardeur die waarheid na ander versprei. Net soos Paulus nie bewus was van al die vrugte wat sy werk in “die landstreek Asië” opgelewer het nie, is jy moontlik ook nie bewus van al die goeie resultate wat jou pogings om deeglik te getuig, oplewer nie. (Lees Handelinge 23:11; 28:23.) Maar hoe noodsaaklik is dit tog dat jy aanhou om dit te doen!

17. Wat is jy vasbeslote om gedurende 2009 te doen?

17 Mag ons almal gedurende 2009 ons opdrag om van huis tot huis en op ander maniere te getuig, ter harte neem. Dan sal ons net soos Paulus kan sê: “Ek [heg] geen waarde aan my siel asof dit vir my dierbaar is nie, as ek maar net my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om deeglik van die goeie nuus van die onverdiende goedhartigheid van God te getuig.”

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe het die apostels Petrus en Paulus en ander in die eerste eeu deeglik getuig?

• Waarom kan ons getuieniswerk baie groter resultate hê as waarvan ons bewus is?

• Wat is die jaarteks vir 2009, en waarom meen jy dat dit gepas is?

[Lokteks op bladsy 19]

Die jaarteks vir 2009 sal wees: ‘Getuig deeglik van die goeie nuus.’ —Hand. 20:24.

[Prent op bladsy 17]

Die ouer manne van Efese het geweet dat dit Paulus se gebruik was om van huis tot huis te getuig

[Prent op bladsy 18]

Watter verreikende resultate sal dit hê as jy deeglik getuig?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel