Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 9/1 bl. 16-17
  • Herwinning van ’n Bybelse skat

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Herwinning van ’n Bybelse skat
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Codex Sinaiticus word gered
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die Vatikaanse Kodeks—Waarom so kosbaar?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Antieke manuskripte—Hoe word hulle ouderdom vasgestel?
    Ontwaak!—2008
  • Die raaisel van die Vatikaanse Kodeks
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 9/1 bl. 16-17

Herwinning van ’n Bybelse skat

EEUE gelede was skryfmateriaal nie so geredelik beskikbaar soos vandag nie. Perkamentvelle en ander materiale is herbenut deur die ink van teks wat nie meer nodig was nie, af te krap of af te was. Die resultaat staan bekend as ’n palimpses, ’n woord wat van die Grieks afgelei is en “weer skoon vryf” beteken. Selfs Bybelteks is van fyn perkamentvelle afgekrap sodat dit weer gebruik kon word om ander inligting daarop te skryf.

Een belangrike Bybelse palimpses is die Codex Ephraemi Syri rescriptus, met rescriptus wat “oorgeskryf” beteken. Hierdie kodeks is uiters waardevol omdat dit een van die oudste afskrifte is wat bestaan van dele van die Christelike Griekse Geskrifte. As sodanig is dit een van die beste hulpmiddele om die akkuraatheid van hierdie deel van God se Woord vas te stel.

Die skriftuurlike teks wat oorspronklik op hierdie vyfde-eeuse kodeks verskyn het, is in die 12de eeu HJ verwyder, en ’n Griekse vertaling van 38 preke van die Siriese geleerde Ephraem is daaroor geskryf. Teen die einde van die 17de eeu het deskundiges vir die eerste keer die Bybelse teks daaronder opgemerk. Die volgende paar jaar is ’n mate van vooruitgang daarin gemaak om die oorspronklike teks van die manuskrip te ontsyfer. Maar dit was baie moeilik om alles te ontsyfer omdat die uitgewiste ink vaag en onduidelik was, baie van die blaaie verflenterd was en die twee tekste oor mekaar gevloei het. Chemikalieë is op die manuskrip gebruik in ’n poging om die Bybelteks te laat uitstaan en leesbaar te maak—sonder veel sukses. Die meeste geleerdes het dus tot die slotsom gekom dat die uitgewiste materiaal as ’n geheel nie herwin kon word nie.

In die vroeë 1840’s het Konstantin von Tischendorf, ’n begaafde Duitse taalkenner, hom op ’n studie van die kodeks toegelê. Tischendorf het twee jaar geneem om die manuskrip te ontsyfer. Hoe het hy dit reggekry, terwyl ander gefaal het?

Tischendorf het ’n deeglike begrip gehad van Griekse unsiaalskrif—wat uit groot, losstaande hoofletters bestaan.a Hy kon goed sien en het gevind dat hy die oorspronklike teks kon uitmaak deur die perkament bloot na die lig toe te hou. Vir soortgelyke take gebruik geleerdes vandag optiese hulpmiddels, waaronder infrarooi, ultraviolet en gepolariseerde lig.

Tischendorf het in 1843 en 1845 gepubliseer wat hy uit die Codex Ephraemi herwin of ontsyfer het. Dít het hom bekendheid laat verwerf as ’n leier in Griekse paleografie.

Die Codex Ephraemi is omtrent 31 sentimeter by 23 sentimeter, en dit is die vroegste voorbeeld van ’n manuskrip met net een geskrewe kolom per bladsy. Van die 209 blaaie wat behoue gebly het, bevat 145 blaaie dele van al die boeke van die Christelike Griekse Geskrifte buiten 2 Tessalonisense en 2 Johannes. Die res van die blaaie bevat ’n Griekse vertaling van dele van die Hebreeuse Geskrifte.

Hierdie kodeks word tans in die Nasionale Biblioteek in Parys, Frankryk, bewaar. Die oorsprong van die manuskrip is onbekend, hoewel Tischendorf van mening was dat dit uit Egipte gekom het. Geleerdes beskou die Codex Ephraemi as een van ’n groep van vier belangrike unsiale manuskripte van die Griekse Bybel, waarvan die ander die Sinaïtiese, die Aleksandrynse en die Vatikaanse 1209 is, wat almal uit die vierde en vyfde eeu HJ dateer.

Die boodskap van die Heilige Skrif is op merkwaardige wyse in baie vorme, insluitende palimpseste, vir ons bewaar. Hoewel ’n onwaarderende hand in hierdie geval die Bybelteks probeer uitwis het, het die boodskap daarvan behoue gebly. Dit gee ons nog groter vertroue in die apostel Petrus se woorde: “Die woord van Jehovah bly vir ewig.”—1 Petrus 1:25.

[Voetnoot]

a Tischendorf was veral bekend vir die ontdekking van ’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte—een van die oudstes wat nog gevind is—in die St. Catharina-klooster aan die voet van die berg Sinai. Hierdie manuskrip staan bekend as die Codex Sinaiticus.

[Diagram/Prent op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Codex Ephraemi Syri rescriptus, ’n belangrike palimpses wat ontsyfer is deur Tischendorf (1815-1874)

OORSPRONKLIKE SKRIFTUURLIKE TEKS

TEKS VAN DIE GRIEKSE PREEK WAT DAAROOR GESKRYF IS

[Erkenning]

© Bibliothèque nationale de France

[Prent op bladsy 17]

Codex Sinaiticus, wat in die St. Catharina-klooster ontdek is

[Prent op bladsy 17]

Tischendorf

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel