Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 12/1 bl. 5-7
  • ’n Wêreldwye probleem, ’n wêreldwye oplossing

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Wêreldwye probleem, ’n wêreldwye oplossing
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat God se Koninkryk sal doen
  • ’n Nuwe wêreld sonder lyding
    Ontwaak!—1990
  • Wat sê die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Ons kan daarby baat vind as ons lyding verduur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • God gaan lyding nie meer lank toelaat nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 12/1 bl. 5-7

’n Wêreldwye probleem, ’n wêreldwye oplossing

LYDING word oral gesien, en daar is baie mense wat medelydend optree teenoor dié wat ly. Byvoorbeeld, mediese personeel werk lang skofte in hospitale om mense te help wat siek of beseer is. Brandweermanne, polisiemanne, wetgewers en reddingswerkers probeer die lyding van ander verlig of voorkom. Sulke pogings help mense beslis op ’n persoonlike vlak, maar dit is onmoontlik vir enige individu of organisasie om lyding regoor die wêreld uit die weg te ruim. In teenstelling hiermee kan en wil God ’n wêreldwye oplossing teweegbring.

Ons word hiervan verseker in die laaste boek van die Bybel: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Dink aan die omvang van hierdie belofte. Dit som God se voorneme op om ’n einde aan alle lyding te maak. Hy sal dit doen deur die aarde te bevry van oorlog, honger, siekte en ongeregtigheid, sowel as van al die goddelose mense. Geen mens kan dit doen nie.

Wat God se Koninkryk sal doen

God sal sy beloftes vervul deur middel van die tweede magtigste persoon in die heelal—die verrese Jesus Christus. Die tyd sal aanbreek wanneer Jesus sonder enige opposisie as Koning oor die hele aarde regeer. Die mensdom sal nie meer regeer word deur mensekonings, -presidente of -politici nie. Hulle sal eerder regeer word deur een Koning en een regering—die Koninkryk van God.

Daardie Koninkryk sal alle menseregerings uitwis. Die Bybel het lank gelede al voorspel: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Daniël 2:44). Alle mense op die aarde sal verenig wees onder een regverdige regering—God se Koninkryk.

Toe Jesus as ’n mens op die aarde was, het hy by baie geleenthede oor hierdie Koninkryk gepraat. Hy het in die modelgebed daarna verwys en vir sy dissipels gesê om só te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Let op dat Jesus aangedui het dat die Koninkryk verband hou met God se wil wat op die aarde sal geskied, en God se wil is dat lyding regoor die wêreld verwyder moet word.

God se regverdige regering sal seëninge bring wat onmoontlik is vir enige menseregering. Onthou dat Jehovah sy Seun as ’n losprys gegee het sodat mense die ewige lewe kan ontvang. Onder die liefdevolle heerskappy van die Koninkryk sal mense tot volmaaktheid groei. Die gevolg? Jehovah “sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee”.—Jesaja 25:8.

Party vra dalk: ‘Waarom het God nog nie opgetree nie? Waarvoor wag hy?’ Jehovah kon lank gelede al opgetree het om alle lyding uit die weg te ruim of selfs te voorkom. In plaas daarvan het hy toegelaat dat dit voortduur, nie om enige selfsugtige rede nie, maar tot die ewige voordeel van sy kinders op aarde. Liefdevolle ouers sal toelaat dat hulle kind ly as hulle weet dat dit langtermynvoordele inhou. Daar is eweneens goeie redes waarom Jehovah toelaat dat mense tydelik ly, en hierdie redes word in die Bybel verduidelik. Dit behels dinge soos wilsvryheid, sonde en ’n geskil in verband met die regmatigheid van Jehovah se heerskappy. Die Bybel verduidelik ook dat ’n bose geesskepsel vir ’n beperkte tyd toegelaat is om oor die wêreld te regeer.a

Hoewel ons hier nie genoeg ruimte het om daardie redes te bespreek nie, is daar twee feite wat ons hoop en aanmoediging kan gee. Die eerste is: Jehovah sal meer as vergoed vir enige lyding wat ons dalk deurgemaak het. Daarbenewens verseker God ons: “Die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie” (Jesaja 65:17). God sal die ellende en lyding wat weens die tydelike toelating van goddeloosheid veroorsaak is, heeltemal en permanent ongedaan maak.

Die tweede feit is: God het ’n onveranderlike tyd vasgestel om ’n einde aan lyding te maak. Onthou dat die profeet Habakuk gevra het hoe lank Jehovah geweld en twis sou toelaat. Jehovah het geantwoord: “Die visioen is nog vir die vasgestelde tyd . . . Dit sal nie laat wees nie” (Habakuk 2:3). Soos ons in die volgende artikel sal sien, is daardie “vasgestelde tyd” naby.

[Voetnoot]

a Vir ’n breedvoerige bespreking van die redes waarom God lyding toelaat, sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster op bladsy 7]

Bybeltekste wat dui op ’n rooskleurige toekoms

GEEN OORLOË MEER NIE:

“Kom, aanskou die dade van Jehovah, hoe hy verbasende dinge op die aarde tot stand gebring het. Hy laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde.”—Psalm 46:8, 9.

GELIEFDES WORD OPGEWEK:

“Daar [sal] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees.”—Handelinge 24:15.

VOEDSEL VIR ALMAL:

“Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16.

GEEN SIEKTE MEER NIE:

“Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jesaja 33:24.

GEEN GODDELOSE MENSE MEER NIE:

“Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.”—Spreuke 2:22.

GEREGTIGHEID SAL SEËVIER:

“Kyk! ’n Koning [Christus Jesus] sal vir regverdigheid regeer; en wat vorste betref, hulle sal as vorste vir geregtigheid heers.”—Jesaja 32:1.

[Prente op bladsy 7]

God se Koninkryk sal enige lyding wat ons dalk verduur het, ongedaan maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel