Die man wat die wêreld verander het
Miljarde mense het al op hierdie aarde geleef en gesterf. Die meeste het geen spoor in die geskiedenis agtergelaat nie. ’n Paar het egter die loop van die geskiedenis beïnvloed—en waarskynlik jou alledaagse lewe.
JY STAAN soggens op en maak gereed om werk toe te gaan. Jy sit die ligte aan terwyl jy regmaak. Jy gryp ’n boek of ’n tydskrif om op die bus te lees. Jy onthou om die voorgeskrewe antibiotika te neem wat jou help om ’n infeksie teë te werk. Jou dag het skaars begin, en jy het alreeds baat gevind by die invloed van ’n paar merkwaardige mans.
Michael Faraday Hierdie Engelse fisikus, gebore in 1791, het die elektriese motor en die dinamo uitgevind. Sy deurbrake het gehelp om elektrisiteit meer toeganklik vir menslike gebruik te maak.
Ts’ai Lun Ts’ai Lun, ’n beampte aan die keiserlike hof van China, het omstreeks 105 HJ klaarblyklik ’n proses ontwikkel om papier te maak, wat tot die massaproduksie van papier gelei het.
Johannes Gutenberg Hierdie Duitse uitvinder het in ongeveer 1450 die eerste drukpers ontwikkel wat los letters gebruik het. Die pers het goedkoop drukwerk moontlik gemaak en het sodoende inligting oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe aan die meeste mense beskikbaar gestel.
Alexander Fleming In 1928 het hierdie Skotse navorser ’n antibiotiese stof ontdek wat hy penisillien genoem het. Antibiotika word nou algemeen gebruik om bakteriële infeksies te behandel.
Daar bestaan geen twyfel nie dat die ontdekkings en uitvindings van ’n paar mans miljarde mense in staat gestel het om sekere voordele of beter gesondheid te geniet.
Daar is egter een man wat uitstaan bo alle ander. Hy is nie bekend vir enige wetenskaplike ontdekking of mediese deurbraak nie. Hierdie man van nederige herkoms wat byna 2 000 jaar gelede gesterf het, het eerder ’n boodskap agtergelaat—’n kragtige boodskap van hoop en vertroosting. Wanneer sy boodskap gemeet word aan die mate waarin dit die lewe van mense regoor die wêreld geraak het, sal baie mense saamstem dat hy waarlik die man is wat die wêreld verander het.
Hierdie man was Jesus Christus. Watter boodskap het hy verkondig? En watter uitwerking kan daardie boodskap op jou lewe hê?