Wat is God se Koninkryk?
“Hierdie goeie nuus van die koninkryk . . . ”—MATTEUS 24:14.
IN SY bekende Bergpredikasie het Jesus ’n modelgebed gegee, wat hierdie versoek aan God insluit: “Laat u koninkryk kom.” Tallose miljoene het hierdie gebed uit die kop geleer en herhaal dit dikwels. Volgens een ensiklopedie is dit “die vernaamste gebed wat alle Christene in aanbidding gebruik”. Maar baie wat dit opsê, weet nie wat die Koninkryk is of wat dit sal doen wanneer dit kom nie.—Matteus 6:9, 10.
Dit is nie verbasend nie. Die Christendom se leiers bied teenstrydige, verwarrende en ingewikkelde verduidelikings van wat die Koninkryk is. Een skryf dat God se Koninkryk “iets bonatuurliks is, . . . ’n band met die lewende God . . . , ’n ervaring met God waarin mans en vroue redding vind”. ’n Ander omskryf die evangelie van die Koninkryk as “onderrigting oor die kerk”. En die Catechism of the Catholic Church sê: “Die koninkryk van God [is] regverdigheid en vrede en vreugde in die Heilige Gees.”
Jy sal ’n baie duideliker verduideliking op bladsy 2 van hierdie tydskrif vind. Dit sê dat “God se Koninkryk, wat ’n werklike regering in die hemel is, binnekort ’n einde sal maak aan alle goddeloosheid en die aarde in ’n paradys sal omskep”. Kom ons kyk hoe die Bybel hierdie beskouing ondersteun.
Die toekomstige heersers van die hele aarde
’n Koninkryk is ’n regering wat deur ’n koning regeer word. Die Koning van God se Koninkryk is die verrese Jesus Christus. Sy kroning in die hemel is beskryf in ’n visioen wat gegee is aan die profeet Daniël, wat geskryf het: “Ek het in die nagvisioene gesien, en kyk! met die wolke van die hemel het iemand soos ’n seun van die mens [Jesus] gekom; en hy het toegang tot die Oue van Dae [Jehovah God] verkry, en hulle het hom tot naby, ja, tot voor Hom gebring. En aan hom is heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien. Sy heerskappy is ’n heerskappy van onbepaalde duur wat nie sal verbygaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”—Daniël 7:13, 14.
Die Bybelboek Daniël toon ook dat die Koninkryk stewig deur God gevestig sal word, dat dit ’n einde sal maak aan alle menseregerings en dat dit nooit omvergewerp sal word nie. Hoofstuk 2 beskryf ’n geïnspireerde droom wat die koning van Babilon gehad het, waarin hy ’n groot beeld gesien het wat ’n opeenvolging van wêreldmoondhede afbeeld. Die profeet Daniël het hierdie droom uitgelê. “Aan die einde van die dae”, het hy geskryf, “sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”—Daniël 2:28, 44.
Die Koning van God se Koninkryk heers nie alleen nie. Gedurende sy bediening op die aarde het Jesus sy getroue apostels verseker dat hulle, tesame met ander, tot hemelse lewe opgewek sal word en op trone sal sit (Lukas 22:28-30). Hy het nie van letterlike trone gepraat nie, want soos Jesus aangedui het, sou die Koninkryk in die hemel wees. Die Bybel sê dat hierdie medeheersers uit “elke stam en taal en volk en nasie” sou kom. Hulle sou “’n koninkryk en priesters vir ons God [wees], en hulle gaan as konings oor die aarde heers”.—Openbaring 5:9, 10.
Waarom die nuus van die Koninkryk goed is
Let daarop dat Christus Jesus heerskappy oor alle “volke, volksgroepe en tale” gegee word en dat sy medeheersers saam met hom “as konings oor die aarde [sal] heers”. Wie sal dan die onderdane van hierdie Koninkryk wees? Diegene wat gunstig reageer op die goeie nuus wat vandag verkondig word. Die onderdane sluit ook dié in wat tot lewe op die aarde opgewek sal word en wat die vooruitsig op ewige lewe sal hê.
Die Bybel gee ’n pragtige beskrywing van die seëninge wat mense onder die Koninkryk sal geniet. Hier volg ’n paar:
“Hy laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur.”—Psalm 46:9.
“Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie.”—Jesaja 65:21, 22.
“God . . . sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.
“Dan sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word. Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep.”—Jesaja 35:5, 6.
“Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het, tot ’n opstanding van die lewe.”—Johannes 5:28, 29.
“Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11.
Dit is beslis goeie nuus! Wat meer is, vervulde Bybelprofesieë toon dat die tyd naby is wanneer die Koninkryk sy regverdige heerskappy oor die hele aarde sal vestig.