Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w11 3/1 bl. 24-25
  • “Het Jehovah ons lief al is ons Indiane?”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Het Jehovah ons lief al is ons Indiane?”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Soortgelyke materiaal
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die Koninkrykspredikingswerk help om lewens te red!
    Ons Koninkryksbediening—2002
  • Ek dien met my hele siel ondanks beproewinge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hoe kan die vergaderinge van Jehovah se Getuies jou help?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
w11 3/1 bl. 24-25

’n Brief uit Mexiko

“Het Jehovah ons lief al is ons Indiane?”

MELESIO, ’n O’dam-sprekende man, het nou en dan van die berge af gekom om werk te soek. Hy het Christelike vergaderinge bygewoon en Bybellektuur teruggeneem om by sy familie te laat. Hy het gesmeek dat iemand hulle besoek en hulle meer van die Bybel leer.

Die O’dams, ’n baie afgesonderde etniese groep, bly hoog in die siërras in Noord-Sentraal-Mexiko, sowat 240 kilometer van die naaste gemeente van Jehovah se Getuies af. ’n Paar van ons het besluit om hulle te besoek.

Ons het ’n bakkie, tente en slaapsakke gekry en met genoeg kos en petrol vir drie dae uit die stad Durango vertrek. Van vieruur die oggend af het ons agt uur lank met ’n stowwerige bergpad gery tot waar dit geëindig het. Dit was die ingang van die O’dams se gebied. Voor ons het ’n diep kloof en nog ’n berg gelê.

Ons het die bakkie by ’n ranchito (afgeleë dorpie) gelos en die volgende drie uur te voet verder gegaan en ons toerusting tot onder in die kloof gedra. Ons het daar kamp opgeslaan, genoeg hout bymekaargemaak vir ’n groot vuur om wilde diere weg te hou en het om die beurt drie uur lank geslaap sodat ons die vuur aan die gang kon hou.

Vroeg die volgende oggend het ons die berg begin klim. Daar was baie paadjies, en ons het ’n paar keer verdwaal. Een in ons groep kon ’n bietjie O’dams praat, en ons het dus ’n kort Bybelboodskap by huise langs die pad gegee. Tot ons verbasing het mense ons begin vertel dat daar in Los Arenales, ons bestemming, mense is wat hulleself Jehovah se Getuies noem en dat hulle Bybelvergaderinge daar gehou het. Dit was verbasende maar tog aanmoedigende nuus.

Ons het met voete vol blase by Los Arenales aangekom. Die gemeenskap het bestaan uit verspreide kleihuise met kartondakke—geen skool, geen elektrisiteit. Die mense was afgesny van die buitewêreld en het in volslae armoede gelewe terwyl hulle aan die lewe gebly het van mielietortillas en omtrent niks anders nie. Ons het Melesio gevind, ’n skraal jong man wat oorstelp was van vreugde om ons te sien. Hy het ons na sy eenvoudige huis genooi en vir ons vertel dat hy elke dag gebid het dat Jehovah Sy Getuies sou stuur om sy gesin en sy mede-O’dams die Bybel te leer. Hy het gevoel dat hy nie al hulle vrae kon beantwoord nie.

Die O’dams beoefen sjamanisme. Hulle gebruik gelukbringers soos arendsvere en bene, aanbid natuurkragte en lewe in vrees vir die sjamane, wat hulle uitbuit. Melesio het verduidelik dat hy, toe hy op sy reise na die stad geleer het dat Jehovah die ware God is, al sy afgodiese voorwerpe vernietig het. Die gemeenskap het verwag dat hulle gode hom met die dood sal straf. Toe niks gebeur nie, het hulle besef dat Jehovah sterker is as hulle gode. Gevolglik het hulle die Bybelstudie begin bywoon wat Melesio met behulp van ons lektuur met sy gesin gehou het.

“Ek het vir hulle gesê dat hulle eers al hulle amulette en afgode moet verbrand”, het Melesio gesê. Baie het hulle bygelowige vrese oorkom, en die bywoningsyfer het tot meer as 80 gegroei. Verstom om dit te hoor, het ons besluit om daardie selfde middag ’n vergadering te hou. Ons het boodskappers te perd gestuur na diegene wat gereeld by Melesio se huis vergader het. Al was dit in die middel van die week en op kort kennisgewing het 25 te voet en op donkies opgedaag.

Met Melesio as tolk het ons ’n vraag-en-antwoord-bespreking oor die Bybel gehou. Hulle het vrae gevra soos: “Het Jehovah ons lief al is ons Indiane?” “Verhoor hy gebede in O’dams?” “Wanneer Armageddon kom, sal Jehovah ons in aanmerking neem al woon ons so ver van die stede af?” Ons was bly dat ons die Bybel kon gebruik om hierdie nederige mense te verseker dat Jehovah vir die sagmoediges omgee ongeag die taal wat hulle praat of hoe afgesonderd hulle is. Hulle het ons gesmeek om iemand te stuur wat hulle meer kon leer.

Ná die vergadering het ons ons kos met hierdie nuutgevonde vriende gedeel. Dit was al aand, en dit was baie koud teen daardie hoogte, en daarom was ons baie dankbaar toe hulle vir ons ’n kamer wat in aanbou was, aangebied het om in te slaap. Hulle het ons die volgende oggend met ’n kortpad na ons bakkie teruggegelei, en ons het moeg maar tevrede na Durango teruggereis.

Wat ’n voorreg was dit tog om hierdie opregte mense te ontmoet, van wie die meeste nie kon lees of skryf of Spaans kon praat nie, maar wat van die ware God wil leer en hom aanbid! Sedert ons besoek het ses Getuies al na die gebied gegaan, en hulle het drie weke lank gebly. Hulle het geestelike hulp verleen aan ongeveer 45 mense wat Jehovah graag wil dien. Hulle woon almal die vergaderinge gereeld by.

’n Laaste gedagte. Die enigste winkeltjie in Los Arenales verkoop nie meer sigarette nie. Dit is omdat so baie mense die Bybel studeer en hulle almal ophou rook het. Hulle het ook hulle huwelike gewettig.

[Prent op bladsy 24]

Melesio saam met sy vrou, vier dogters en skoonma

[Prente op bladsy 25]

’n Bybelstudie en ’n Christelike vergadering in Los Arenales

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Servicio Postal Mexicano, Correos de Mexico

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel