Goeie nuus vir die armes
GOD SE WOORD verseker ons: “Die arme sal nie vir altyd vergeet word nie” (Psalm 9:18). Die Bybel sê ook van ons Skepper: “U maak u hand oop en bevredig die begeerte van alles wat lewe” (Psalm 145:16). Hierdie hoop wat God se Woord bied, is nie net ’n droom nie. God die Almagtige kan voorsien wat nodig is om armoede te beëindig. Wat het die armes nodig?
’n Ekonoom uit Afrika het gesê dat arm lande eintlik ’n “welwillende diktator” nodig het. Hieruit kan afgelei word dat armoede slegs beëindig kan word deur iemand wat magtig genoeg is om op te tree en goedhartig genoeg is om om te gee. Ons kan byvoeg dat ’n heerser wat armoede kan beëindig, ’n wêreldheerser sal moet wees omdat volslae armoede dikwels die gevolg is van internasionale ongelykheid. ’n Heerser wat armoede kan beëindig, sal ook iets moet kan doen omtrent die oorsaak van armoede—ons selfsugtige menslike natuur. Waar kan so ’n ideale heerser gevind word?
God het Jesus gestuur met goeie nuus vir die armes. Toe Jesus opgestaan het om die opdrag te lees wat hy van God ontvang het, het hy gesê: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak.”—Lukas 4:16-18.
Wat is die goeie nuus?
God het Jesus as Koning aangestel. Dit is inderdaad goeie nuus. Hy is die ideale Heerser om armoede te beëindig, want (1) hy sal oor die hele mensdom heers en het die mag om op te tree; (2) hy tree met medelye ten behoewe van die armes op en leer sy volgelinge om vir hulle om te gee; en (3) hy kan die oorsaak van armoede, ons oorgeërfde neiging om selfsugtig te wees, uit die weg ruim. Kom ons bespreek hierdie drie aspekte van die goeie nuus.
1. Jesus se gesag oor al die nasies God se Woord sê van Jesus: “Aan hom is heerskappy . . . gegee, sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien” (Daniël 7:14). Kan jy jou voorstel watter voordele dit sal inhou om net een regering te hê wat oor die hele mensdom heers? Daar sal nie meer konflik oor die aarde se hulpbronne wees nie. Almal sal ewe veel daarby baat vind. Jesus self het die versekering gegee dat hy ’n Wêreldheerser sal wees met die mag om op te tree. Hy het gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee.”—Matteus 28:18.
2. Jesus se medelye met die armes Deur sy hele aardse bediening het Jesus die armes met medelye behandel. Byvoorbeeld, ’n vrou wat al haar middele gebruik het om vir mediese behandeling te betaal, het Jesus se kleed aangeraak in die hoop om genees te word. Sy het 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely en het ongetwyfeld ernstige bloedarmoede gehad. Volgens die Wet sou sy enigiemand wat sy aanraak, onrein maak. Maar Jesus was goedhartig teenoor haar. Hy het gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede, en wees van jou ernstige siekte genees.”—Markus 5:25-34.
Jesus se leringe het die vermoë om mense se hart te verander sodat hulle ook met medelye kan optree. Kyk byvoorbeeld na hoe Jesus ’n man geantwoord het wat wou weet hoe om God te behaag. Die man het geweet dat God wil hê dat ons ons naaste moet liefhê, maar hy het Jesus gevra: “Wie is dan my naaste?”
In antwoord hierop het Jesus sy bekende illustrasie vertel oor ’n man wat van Jerusalem na Jerigo gereis het en wat beroof en “halfdood” agtergelaat is. ’n Priester wat met daardie pad afgegaan het, het aan die oorkant verbygegaan. ’n Leviet het dieselfde gedoen. “Maar ’n sekere Samaritaan wat op die pad gereis het, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, is hy ontroer deur innige jammerte.” Hy het die man se wonde skoongemaak, hom na ’n herberg geneem en die herbergier betaal om vir die beseerde man te sorg. “Wie . . . het hom die naaste gemaak van die man wat in die hande van die rowers geval het?” het Jesus gevra. “Die een wat barmhartig . . . opgetree het”, was die antwoord. Jesus het toe gesê: “Gaan en doen jy net so.”—Lukas 10:25-37.
Mense wat Jehovah se Getuies word, bestudeer sulke leringe van Jesus en verander hulle beskouing van hulpverlening aan die behoeftiges. Byvoorbeeld, ’n Lettiese skryfster het in haar boek Women in Soviet Prisons vertel van haar siekte toe sy in die middel-1960’s in die Potma-strafkamp gewerk het. “Die hele tyd terwyl ek siek was, was [die Getuies] getroue verpleegsters. Ek kon nie vir beter sorg gevra het nie.” Sy het bygevoeg: “Jehovah se Getuies beskou dit as hulle plig om almal te help, ongeag hulle godsdiens of nasionaliteit.”
Toe ’n finansiële krisis party van Jehovah se Getuies in Ancón, Ecuador, sonder werk of inkomste gelaat het, het hulle mede-Getuies ’n manier gevind om geld vir hulle in te samel; hulle het kos voorberei om aan vissermanne te verkoop wat teruggekeer het ná ’n nag op die see (prent regs). Almal in die gemeente het saamgewerk, die kinders inkluis. Hulle het eenuur elke oggend begin sodat die kos gereed sou wees wanneer die bote teen vieruur ingekom het. Die geld wat die Getuies ingesamel het, is volgens elkeen se behoefte verdeel.
Sulke ondervindinge toon dat Jesus se voorbeeld en leringe werklik die vermoë het om mense se beskouing van hulpverlening aan die behoeftiges te verander.
3. Jesus se vermoë om die menslike natuur te verander. Die mens se neiging om selfsugtig op te tree, is ’n alom erkende feit. Die Bybel noem dit sonde. Selfs die apostel Paulus het geskryf: “Ek vind dus hierdie wet in my geval: wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig.” Toe het hy bygevoeg: “Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan? Aan God die dank deur middel van Jesus Christus” (Romeine 7:21-25). Hier het Paulus verwys na die manier waarop God, deur middel van Jesus, ware aanbidders sal red van oorgeërfde sondige neigings, onder meer selfsugtigheid, die grondoorsaak van armoede. Hoe sal dit gebeur?
Die een of ander tyd ná Jesus se doop het Johannes die Doper Jesus met die volgende woorde bekend gestel: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Binnekort sal die aarde vol mense wees wat bevry is van oorgeërfde sonde, wat die neiging insluit om hulle eie belange te soek (Jesaja 11:9). Jesus sal die oorsaak van armoede uit die weg geruim het.
Wat ’n vreugde is dit tog om na te dink oor die tyd wanneer almal sal hê wat hulle nodig het! God se Woord sê: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie” (Miga 4:4). Hierdie woorde beskryf op digterlike wyse die tyd wanneer almal bevredigende werk en sekuriteit sal hê asook oorvloedige geleentheid om ’n wêreld sonder armoede te geniet, tot Jehovah se eer.