Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w11 6/1 bl. 28-31
  • Ek het gedroom van ’n lewe op wiele

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het gedroom van ’n lewe op wiele
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die begin van ’n nuwe lewe
  • ’n Ernstige fout
  • Gelukkig ten spyte van beperkings
  • My lewe in die sirkus
    Ontwaak!—2004
  • Waarom ek die sirkus verlaat het
    Ontwaak!—2007
  • Spesiale kampanje in Bulgarye behaal sukses
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Godsdiensvryheid in Bulgarye
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
w11 6/1 bl. 28-31

Ek het gedroom van ’n lewe op wiele

Soos vertel deur Zoja Dimitrowa

Toe ek 15 was, is my droom bewaarheid—om saam met die sirkus te reis en op te tree, wat my baie gelukkig gemaak het. Toe, op 4 September 1970, het iets tragies gebeur. Die een oomblik het ek grasieus deur die lug geseil. Die volgende oomblik het ek grond toe getuimel.

EK IS op 16 Desember 1952 gebore en het saam met my ouers en een suster in Sofia, Bulgarye, gewoon. Destyds was Bulgarye ’n kommunistiese land waar godsdiens geduld maar beslis nie aangemoedig is nie. Die meeste mense het eenvoudig nie aan God geglo nie, en baie van diegene wat wel aan hom geglo het, het hulle oortuigings maar vir hulleself gehou. Hoewel my gesin in naam Ortodoks was, het ek glad nie godsdienstig grootgeword nie en nooit aan God gedink nie.

Dit het vroeg in my lewe al duidelik geword dat my grootste belangstelling sport was, maar veral gimnastiek. Toe ek 13 was, het ’n man na ons skool toe gekom op soek na ’n meisie wat vir die sirkus afgerig kon word. My gimnastiekonderwyser het my aanbeveel. Dit was vir my opwindend om in die bestuurder se Amerikaanse motor na onderhoude en proewe deur ’n groep afrigters geneem te word. Tot my vreugde is ek gekies. Dit was die begin van ’n strawwe oefen- en afrigtingsprogram wat meer as twee jaar geduur het. Toe ek 15 was, het ek my afrigting voltooi en het my lewe op wiele begin—’n lewe op toer saam met die sirkus. Aan die begin het ek deur die hele Bulgarye gereis en daarna na lande van die voormalige Sowjetunie en selfs na Algerië, Hongarye en die voormalige Joego-Slawië.

Ek het drie gelukkige jare lank my droom uitgeleef. Toe, terwyl ek in Titof Weles, Masedonië, opgetree het, het die ongeluk wat aan die begin beskryf is, plaasgevind. Ek het ’n akrobatiese toertjie hoog bo die skare uitgevoer. My spanmaat, wat onderstebo gehang het, het my gewoonlik in die lug opgegooi en my dan weer gevang. Ek het sy hande misgevat, en toe my veiligheidslyn breek, het ek ses meter ver na die grond toe geval. Hulle het met my na die hospitaal gejaag, waar daar vasgestel is dat ek ’n gebreekte arm, etlike gebreekte ribbes en ’n gebreekte rugstring gehad het. Ek was ’n paar dae lank in skok en kon glad nie onthou wat gebeur het nie. Toe ek genoegsaam herstel het, het ek besef dat ek van my middellyf af ondertoe verlam is. Maar ek was jonk en het optimisties gebly dat ek, met behulp van terapie of ’n operasie, weer sou kon loop en dalk selfs weer in die sirkus sou kon optree.

Oor die volgende twee en ’n half jaar is ek in etlike geneesinrigtings behandel, terwyl ek steeds vasgeklou het aan die hoop om te herstel. Uiteindelik moes ek aanvaar dat my droom tot ’n einde gekom het. Nou moes ek my, ironies genoeg, aanpas by “’n lewe op wiele” wat heeltemal verskil het van die een waarvan ek gedroom het—’n lewe in ’n rolstoel.

Die begin van ’n nuwe lewe

Nadat ek so ’n aktiewe lewe gelei het, het ek gedink dat hierdie aanpassing onmoontlik is. Ek het alle hoop verloor en in depressie verval. Later, in 1977, het ’n jong man met die naam Stojan aan my deur geklop. Toe ek uitvind dat hy die broer van ’n voormalige kollega is, het ek hom onmiddellik ingenooi. In die loop van ons gesprek het hy my gevra oor my kanse op herstel. Ek was ontnugter en teleurgesteld met die lewe en het geantwoord dat daar geen hoop is nie. Toe hy vir my sê dat slegs God my kan help, het ek verbitterd geantwoord: “Wel, as daar ’n God is, waarom is ek dan in hierdie situasie?”

Na aanleiding hiervan het Stojan, wat kort tevore een van Jehovah se Getuies geword het terwyl hy in die Verenigde State as ’n sirkuskunstenaar gewerk het, die Bybel se wonderlike beloftes vir die toekoms vriendelik aan my verduidelik. Ek was verheug om uit te vind dat die aarde binnekort ’n paradys sal word. Die belofte dat ‘die dood nie meer daar sal wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn nie meer daar sal wees nie’, het my hart geraak (Openbaring 21:4). Hoe het ek tog daarna gesmag om weer fisies gesond te wees! Ek het onmiddellik tot ’n gereelde Bybelstudie ingestem. So het ’n nuwe lewe vir my begin. Uiteindelik het ek die grondslag vir ware hoop gevind!

Ek het elke week gretig uitgesien na my Bybelstudie. Aan die begin het ek met Stojan studeer en toe met Totka, ’n baie gawe Getuie. Met haar hulp het my kennis van Bybelwaarheid gou toegeneem, en ek het my lewe aan Jehovah God toegewy. Destyds was daar niemand in Sofia wat my kon doop nie, en daarom moes ek wag op die besoek van ’n broer uit Masedonië. Op 11 September 1978, omtrent een jaar nadat ek die Bybel begin studeer het, is ek in die bad in my woonstel gedoop. My doop as een van Jehovah se Getuies het my groot vreugde verskaf, en my lewe het werklik sinvol geword.

Die Bybelwaarhede wat ek geleer het, het soos ’n vuur in my gebrand. Ek het geesdriftig oor my nuutgevonde hoop gepraat met almal wat na my huis toe gekom het. Dit het ongelukkig gelyk asof niemand my ernstig opneem nie, dalk omdat hulle gedink het dat ek as gevolg van my ongeluk nie heeltemal normaal was nie.

’n Ernstige fout

Destyds was die werk van Jehovah se Getuies in Bulgarye verbied, en daar was net ’n paar Getuies in die hele land. Daar was geen gemeentelike vergaderinge wat ek kon bywoon nie, en my assosiasie met medegelowiges was baie beperk. Dit, tesame met die feit dat ek nie besef het hoe gevaarlik dit is om noue omgang te hê met diegene wat nie in ooreenstemming met Bybelstandaarde lewe nie, het daartoe gelei dat ek ’n ernstige fout begaan het.

My gewete het my onophoudelik gekwel, en ek was verskriklik hartseer omdat ek van Jehovah God vervreemd was. Ek het verpletterd en beskaamd gevoel en het my hart in gebed voor Jehovah uitgestort en hom om vergifnis gesmeek. Later het ek met die hulp van liefdevolle Christen- ouer manne geestelik herstel, en ek het my vreugde in Jehovah se diens herwin. Hoe waardeer ek tog die voorreg om Jehovah met ’n rein gewete te dien en om met sy rein organisasie te assosieer!

Gelukkig ten spyte van beperkings

My ongeluk 40 jaar gelede het my droom verpletter om saam met die sirkus te reis en op te tree en het my aan ’n rolstoel gekluister. Maar ek kyk nie terug met hartseer en spyt asof my lewe ’n mislukking was nie. Bybelwaarheid het my gehelp om te besef dat my droom van geluk en voldoening in ’n lewe met die sirkus verband gehou het met dinge wat min blywende waarde het. Ek het gesien hoe voormalige kollegas wat hulle sirkusloopbaan voortgesit het, bittere teleurstellings in hulle lewe ondervind het. Aan die ander kant het ek die grootste skat gevind—’n persoonlike verhouding met my Skepper, Jehovah God. Dit het my baie groter vreugde gebring as wat ek ooit in ’n lewe met die sirkus kon gevind het.

Daarbenewens het ek die vreugde ondervind om te sien hoe baie ander kennis van Bybelwaarheid opdoen en hulle lewe aan ons liefdevolle God, Jehovah, toewy. Toe ek die Bybel in 1977 begin studeer het, was daar slegs ’n handjievol Getuies van Jehovah in Bulgarye. Selfs in 1991, toe Jehovah se Getuies ná die val van die kommunistiese regime geregistreer is, was daar nie baie meer as ’n honderd Getuies in die hele land nie. Hoeveel vreugde het dit my tog gebring om die konstante toename te sien in die aantal Koninkryksverkondigers, wat nou ’n hoogtepunt van byna 1 800 bereik het!

Daar is nog baie werk in Bulgarye. Baie soek na kennis van God se Woord. Dit kan gesien word in die uitsonderlike bywoningsyfer van 3 914 by die Herdenking van Christus se dood in 2010. Ek is verheug oor hierdie bewys dat Jehovah die klein begin in Bulgarye geseën het. Voor my oë het “die geringe ’n magtige nasie” geword, soos in Jesaja 60:22 voorspel is.

Nog ’n bron van vreugde en ’n ware hoogtepunt in my lewe was die vrystelling van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Bulgaars. Dit is in Augustus 2009 by die “Hou aan waak!”-streekbyeenkoms in Sofia vrygestel. Die vrystelling van hierdie Bybel in my eie taal was die verwesenliking van ’n droom! Dit sal ongetwyfeld nog baie mense in Bulgarye grootliks help om kennis van Bybelwaarheid op te doen.

Hoewel my gestremdheid beperk wat ek persoonlik kan doen om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, put ek groot vreugde daaruit om my bure en enigiemand wat na my huis toe kom, van Bybelwaarheid te vertel. By een geleentheid het ek van my balkon af na ’n buurvrou geroep wat verbygeloop het. Sy het my uitnodiging om in te kom, aanvaar, en nadat ek ’n paar aanmoedigende gedagtes uit die Bybel met haar gedeel het, het sy onmiddellik my aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar. Ek was so bly toe sy later as my geestelike suster gedoop is. Ek het die voorreg gehad om vier mense te help om tot die punt te vorder dat hulle hulle lewe aan Jehovah toegewy het.

Wat vir my moontlik die grootste vreugde en aanmoediging gee, is om gereeld Christelike vergaderinge by te woon met meer as ’n honderd broers en susters, wat vir my soos familie geword het. Omdat ek in ’n land woon waar geen spesiale vervoer vir die bejaardes en gestremdes voorsien word nie, is dit vir my moeilik om by gemeentelike vergaderinge uit te kom. Ek is baie dankbaar vir die liefdevolle sorg van ’n jong broer. Vir elke vergadering dra hy my van my woonstel na sy motor, van sy motor na die Koninkryksaal en dan weer terug. Hoe dankbaar is ek tog teenoor Jehovah vir die voorreg om deel te wees van so ’n liefdevolle geestelike familie!

Wanneer ek terugkyk, kan ek sien dat my lewe baie anders uitgedraai het as wat ek gedroom het toe ek jonk was. My diens aan Jehovah het my die grootste geluk gebring wat tans moontlik is, asook ’n wonderlike hoop vir die toekoms. Ek waardeer God se belofte dat die kreupele in die paradysaarde ‘net soos ’n takbok sal klim’ (Jesaja 35:6). Ek sien vol vertroue uit na die dag wanneer ek uit my rolstoel sal spring en weer volmaakte gesondheid en lewenskrag sal hê.

[Lokteks op bladsy 30]

‘Wat vir my die grootste vreugde en aanmoediging gee, is om gereeld Christelike vergaderinge by te woon’

[Lokteks op bladsy 31]

“’n Ware hoogtepunt in my lewe was die vrystelling van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Bulgaars”

[Prent op bladsy 29]

Toe ek 15 was, het ek as sirkuskunstenaar begin optree

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel