Bied die Goeie Nuus Aan—Gedurende die vakansietyd
1 Baie mense wend gedurende hierdie tyd van die jaar wanhopige pogings aan om ’n mate van geluk te midde van die sorge van die wêreld te vind. Het jy al ooit negatief gevoel as jy gedurende hierdie ooglopend besige tyd vir sulke mense moet probeer getuig? Ten spyte van al die gefuif en jolyt van die vakansieseisoen dink baie mense aan God wanneer hulle die dikwels herhaalde woorde “Vrede op aarde, in die mense ’n welbehae” hoor.
2 Gedurende die vakansietyd sal ons ongetwyfeld baie mense ontmoet wat regtig besig is. Dit sal bedagsaamheid van ons verg. Toe Jesus op aarde was, het hy nie net die gevoelens van ander in aanmerking geneem en vir hulle innig jammer gevoel nie, maar hy het ook besef wat hulle behoefte is en probeer om hulle te help. Vandag het godvresende mense ook die Koninkryksboodskap nodig.—Matt. 9:36, 37.
3 Wanneer ’n huisbewoner die deur oopmaak, moet jy probeer om die huislike omstandighede in ag te neem en bedagsaam te wees. Is hy besig om gaste te onthaal of druk besig met voorbereidings? Dan is dit miskien beter om ’n kort aanbieding te doen. In ander gevalle sal jy miskien agterkom dat die persoon nie werklik besig is nie, en dan sal vriendelikheid en opregte belangstelling in die persoon jou moontlik help om taktvol ’n getuienis te gee.
WAT KAN JY SÊ?
4 Na ’n vriendelike inleiding kan jy sê: “Daar word deesdae baie gepraat van vrede op aarde en welwillendheid teenoor mense. Het jy al ooit gewonder of daar ware vrede op aarde sal wees, en indien wel, hoe dit tot stand sal kom?” Laat huisbewoner kommentaar lewer, en gaan dan oor tot die jongste ‘Onderwerp vir gesprekke’ en die lektuuraanbod.
5 As jy voel dat ’n korter aanbieding gepas is, kan jy sê: “Ons vind dat baie mense hierdie tyd van die jaar aan die geboorte van Jesus dink. Dit was ’n uiters belangrike gebeurtenis. Mag ek vir u wys wat die Bybel oor ’n ander baie belangrike gebeurtenis—die koms van God se Koninkryk—sê? Dit was Jesus self wat gesê het. . . [Lees Mattheüs 6:33.].” Bied dan die jongste aanbod vir die huisbewoner aan en beklemtoon ’n punt oor die Koninkryk.
6 As mense ons ’n geseënde vakansiedag toewens, is dit nie nodig om ’n geskilpunt daarvan te maak nie. Ons kan hulle eerder kortliks bedank vir hulle vriendelikheid en dat hulle die tyd afstaan om na ons te luister. As hulle spesifiek vra hoe ons oor die vakansiedae voel, sal ons natuurlik eerlik en eerbiedig antwoord. Die Redenering-boek bevat uitstekende informasie op bladsye 400-402 wat jou sal help.
TOON BEDAGSAAMHEID
7 Ons kan op Kersdag en Nuwe-jaar bedagsaamheid toon deur nie te vroeg by mense aan te klop nie. Pleks van mense te steur wat op daardie dae laat wil slaap, sal dit wensliker wees om ons huis-tot-huis-werk ’n bietjie later as gewoonlik te begin. Of ons kan ons diens begin deur herbesoeke te doen by die wat ons weet in staat is om ons te ontvang. Ons besef watter wysheid die apostel Paulus se raad inhou: “In alles beveel ons ons aan as dienaars van God.”—2 Kor. 6:4.
8 Getuieniswerk gedurende die vakansietyd het al baie goeie ondervindinge opgelewer. Ons moet almal egter taktvol wees en die boodskap van waarheid op ’n manier aanbied wat byval by die huisbewoner vind. Hou Paulus se raad in Kolossense 4:6 in gedagte en “laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel”. Hierdie goeie raad is veral gepas gedurende die vakansietyd.