Bied die Goeie Nuus Aan—In Desember
1 In Desember is daar dikwels spesiale geleenthede vir getuieniswerk weens die langer somerdae en die wêreld se vakansieseisoen. Is jy bereid om hierdie geleenthede te benut?
2 Meer dagligure bied ’n uitdaging oor hoe ons ons tyd sal benut. Tans heers daar ’n vakansiegees dwarsdeur die land. Wat sal jy in sulke omstandighede doen om ‘jou bediening te vervul’? (2 Tim. 4:5). Hoe sal jy die goeie nuus by mense aanbied wat die vakansiedae vier?
3 Goeie oordeel en ’n positiewe gesindheid is sleutelfaktore. Kan jy van die langer dae gebruik maak om as ’n hulppionier te dien of om jou deel aan die bediening te vergroot? Kan jy, waar dit veilig is, laat in die middag of vroeg saans getuig? Indien jy beplan om voor die streekbyeenkoms op vakansie te gaan, moet jy seker maak dat die hele gesin vroeg in die maand aan velddiens deelneem en sulke bedrywighede rapporteer. Elke boekstudiehouer kan rapporte by verkondigers in sy groep kry voordat hulle op vakansie gaan of na die streekbyeenkoms vertrek. Almal moet voorbereid wees om Vrydag by die streekbyeenkoms aan velddiens deel te neem.
VAKANSIEGETUIENIS
4 Desember gaan natuurlik met die wêreld se vakansieseisoen gepaard. Party mense sal meer geneig wees om oor godsdiensaangeleenthede te gesels. Dit sal goed wees as ons die geleentheid aangryp en miskien onder meer sê: “Ons merk op dat talle mense hierdie tyd van die jaar veral oor godsdiensonderwerpe besorg is.” Jy kan vra: “Vind u dat mense in u gemeenskap vandag minder aan God dink? [Laat huisbewoner kommentaar lewer.] Waarom dink u is dit so?” Nadat die huisbewoner geantwoord het, kan jy met jou bespreking voortgaan en die aanbod maak.
5 Omdat ons nie op vakansiedae hoef te werk of skool te gaan nie, is daar bykomende geleenthede om die goeie nuus te verkondig. Ouere manne moet spesiale velddiensreëlings vir hierdie dae tref. Dit sal egter goed wees om in gedagte te hou dat ons mense wat laat wil slaap dalk steur as ons vroegoggend op ’n vakansiedag besoek aflê. Dit sal verstandig wees om julle huis-tot-huis bedrywigheid ’n bietjie later as gewoonlik te begin. Hou ook in gedagte dat as mense julle ’n geseënde vakansiedag toewens dit nie raadsaam sal wees om hulle onnodig te na te kom oor hulle gesindheid ten opsigte van vakansiedae nie. As hulle jou spesifiek vra hoe jy oor die saak voel, kan jy eerlik en eerbiedig antwoord.
6 Tydskrifdae in Desember bied ook die geleentheid om die uitstekende artikels in die nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! vir Desember aan te bied. As ons vroegtydig hierdie tydskrifte lees en met die artikels vertroud raak, sal ons hulle op ’n interessante manier kan aanbied.
7 Hoewel die sonnige dae en plaaslike feesgebruike besondere uitdagings kan bied, sal dit Jehovah se volk nie daarvan weerhou om die goeie nuus ywerig aan te bied nie. Ons hoop om in Desember baie in Jehovah se diens te bereik en deur sy guns verkwik te word.—Matt. 25:21-23