Bied die Goeie Nuus Aan—Met belangwekkende artikels in ons tydskrifte
1 Toe Jesus voorspel het dat “hierdie evangelie van die koninkryk . . . verkondig [sal] word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies”, sou nie een van sy dissipels die omvang van die werk soos ons dit vandag ken, kon vooruitgesien het nie (Matt. 24:14). Destyds was daar geen drukperse nie, en ook kon niemand hulle MEPS (Multilanguage Electronic Phototypesetting System), wat tans setwerk in 186 tale kan doen, voorstel nie.
2 Wagtoringpublikasies stel oral die goeie nuus beskikbaar aan belangstellendes. Die Wagtoring word in 103 tale uitgegee en het ’n gemiddelde oplaag van 12,315,000, en Ontwaak! word nou in 54 tale uitgegee, met ’n gemiddelde oplaag van 10,610,000. Dit is ons voorreg om hierdie tydskrifte te gebruik om hierdie evangelie vir “alle mense” aan te bied.—1 Tim. 2:4.
BEKLEMTOON BELANGWEKKENDE ARTIKELS
3 Geniet jy dit, wanneer jy ’n nuwe nommer van die tydskrifte kry, om dit deur te lees sodat jy kan uitvind hoe Jehovah ons deur middel van die voorbereide materiaal heilsame dinge leer? (Jes. 48:17). Nadat jy dit gelees het, kan jy gerus besluit watter artikel jy graag in die veld wil aanbied en sodoende vir die velddiens voorberei wees. Miskien sal jy iets opmerk wat sekere mense in jou gebied besonder interessant sal vind. ’n Regter in Ohio het ’n waarderingsbrief aan ’n Getuie-egpaar geskryf nadat hulle ’n nommer van Ontwaak! vir hom gebring het wat die probleem van drink en bestuur bespreek het.
4 Wys jy, behalwe om tydskrifte van huis tot huis aan te bied, artikels wat jy veral interessant gevind het vir mense by jou werk? Besoek jy sakeondernemings op tye wanneer die eienaars nie druk besig is nie om die tydskrifte aan te bied? Deel jy die waarheid met ander deur straatwerk te doen wanneer jy die kans kry? Baie broers en susters, asook diegene wat dit moeilik vind om trappe in stedelike gebied te klim, doen hierdie werk baie bekwaam en nader mense wat andersins nie bereik kan word nie. Op hierdie manier gee hulle Spreuke 1:20 ’n hedendaagse toepassing.
’N NAVOLGENSWAARDIGE VOORBEELD
5 Toe Jesus met die Samaritaanse vrou gepraat het wat water by ’n fontein kom haal het, het hy gesê: “As jy ... geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het” (Joh. 4:7-10). Net soos die vrou nòg Jesus nòg die lewegewende waarheid wat hy gehad het, geken het, weet die mense vandag miskien nie wie ons is of hoe belangrik die boodskap is wat ons vir hulle bring nie. Jesus het by elke gepaste geleentheid en oral met mense gepraat—’n navolgenswaardige voorbeeld vir ons.
6 Mag ons, namate ons die puik geestelike voedsel geniet in die goed geïllustreerde tydskrifte wat ons nou ontvang, doen wat ons kan om dit met ander te deel! Hulle kan moontlik ook reageer soos die Samaritaanse vrou wat vir Jesus gesê het: “Here, gee my daardie water.” Trouens, diegene wat hierdie puik geestelike voedsel nou met waardering ontvang, kan uiteindelik na die “fonteine met die water van die lewe” gelei word.—Joh. 4: 11-15; Openb. 7:17, NAV.