Help kinders om Jehovah te loof
1 My boek met Bybelverhale is al sedert 1978, toe dit uitgereik is, ’n hulpmiddel van onskatbare waarde vir beide ouers en jongmense. Een moeder was verheug toe haar negejarige seun, wat dit voorheen nooit geniet het om te gaan sit en studeer nie, die huis binnegekom en gevra het: “Mamma, sal Ma my nuwe boek vir my bring?” Dit is kenmerkend van die uitwerking wat My boek met Bybelverhale op kinders gehad het. Hoe kan ons dit in groter mate gebruik ten einde kinders te help om Jehovah te loof?
HOE DIT GEDOEN KAN WORD
2 Die Bybelverhale-boek kan gebruik word om geestelike eienskappe in die verstand en hart van jou kinders in te skerp. Verhaal 58 beklemtoon byvoorbeeld die eienskappe moed en vertroue op Jehovah wanneer dit beskryf hoe Dawid die Filistynse reus Goliat aangedurf het (1 Sam. 17:45-51). Partymaal kom kinders voor hindernisse te staan wat vir hulle reusagtig lyk. As ouers kinders vroegtydig daarop voorberei, sal jongmense Jehovah se naam ten spyte van druk en versoekings manmoedig kan loof.—Spr. 22:6; kyk Genesis 18:19.
3 Dalk het jy nie jong kinders nie. Maar jy kan moontlik saam met jongmense in die gemeente werk en hulle help om die naam van Jehovah te loof. Jong Christene word bemoedig en besiel wanneer aangestelde knegte in die gemeente persoonlike belangstelling in hulle toon (Spr. 27:23). Kan jy meer tyd saam met die jongmense deurbring? Dit is veral voordelig as ons hulle in die velddiens help.
BIED DIE BYBELVERHALE-BOEK AAN
4 Gedurende Desember gaan ons My boek met Bybelverhale aanbied. Jongmense kan gehelp word om dit bekwaam tydens velddiens aan te bied. Hulle kan dalk selfs ’n studie daaruit begin.
5 Ons spoor julle jongmense aan om in Desember ’n spesiale poging aan te wend om Jehovah gedurende julle skoolvakansie te loof. Dit sal moed verg om dit te doen, maar Jehovah sal julle die nodige krag gee. Skep geleenthede om jong- en ouer mense te help om met My boek met Bybelverhale vertroud te raak.
6 Ouers, hersien ’n paar voorgestelde aanbiedings met julle kinders. Help hulle om die tekste van die ‘Onderwerp vir gesprekke’ te gebruik. Jonk en oud sal aandag skenk as hulle goed voorbereide kinders sien wat Jehovah loof.
7 Kom ons toon ons kinders ook hoe waardevol ’n goeie huis-tot-huisverslag is, sodat hulle herbesoeke kan doen by diegene wat belangstelling toon. Hou hulle die doel om tuisbybelstudies te begin voor. Julle sal hulle moontlik moet help om die studie te hou as hulle een begin het.
8 Ons wil hê dat ons jongmense onder diegene moet wees waarvan die psalmis gepraat het toe hy gesê het: “Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!” (Ps. 150:6). Bid om Jehovah se leiding ten einde die nodige bystand te verleen.