Besef jy die waarde daarvan?
1 Dit was ’n opwindende oomblik toe die spreker by die “Seëvierende Geloof”- Internasionale Byeenkoms in 1978 die nuwe Bybelstudiehulp My boek met Bybelverhale uitgereik het. Die boek se potensiaal om die Bybel aan jonk sowel as oud te leer, is spoedig raakgesien. Volwassenes was bly om te hoor dat die verhale chronologies op mekaar volg. Dit het talle gehelp om vertroud te raak met die volgorde van Bybelgebeure.
2 Een moeder wie se driejarige seun gesukkel het om te konsentreer, was aangenaam verras toe hy die boek 20 minute lank stil gesit en “bestudeer” het. Dit het gou ’n gewoonte by hom geword. Kort nadat ’n jong egpaar die Bybel begin studeer het, het hulle hul seun uit die Bybelverhale-boek begin leer. By een geleentheid het die seun, toe die gesin wou begin eet, geweier om te eet voordat hulle gebid het.
3 Vandat die Bybelverhale-boek. sowat agt jaar gelede verskyn het, is 23 miljoen eksemplare in 66 tale gedruk. Ons besef hoe waardevol hierdie uitstekende Bybelstudiehulp is en is in ’n goeie posisie om dit gedurende Desember heelhartig vir jonk en oud aan te bied.
DIE “KYK”-BROSJURE
4 Jehovah het vanjaar vir ons nog ’n skat gegee in die vorm van die nuwe brosjure “Kyk, Ek maak alles nuut”. ’n Pioniersuster van Texas wat gesukkel het om studies te begin, het onlangs geskryf: ‘As jy net die pragtige buitebladprent vir die huisbewoner wys, dit bespreek, die aandag op die tekste onderaan bladsy 4 vestig en dan die eerste vier paragrawe lees, het jy klaar ’n studie begin!’
DIE AANBOD
5 Wanneer jy in jou gebied werk, kan jy sê: “As u naaste wil ek graag goeie nuus met u deel oor ’n betroubare belofte dat daar binnekort aardwye vrede gaan wees. Is dit nie iets wat u verlang nie? [Laat huisbewoner kommentaar lewer.] Ons almal het al gesien hoe die mens probeer om hierdie doelwit te bereik. Maar kyk wie gaan volgens die Bybel blywende vrede bring. [Lees Psalm 46:9, 10.] As oorlog en die wat dit bevorder eers verwyder is, sal God nooit weer vyandskap op die aarde duld nie. Die woorde van die geïnspireerde skrywer van Psalm 72:7 verseker ons hiervan. [Lees.] Diegene wat deur God bewaar gaan word om op ’n vreedsame aarde te bly, sal mense wees wat van hom geleer het en hom dien. My boek met Bybelverhale het baie mense gehelp om dit te doen. Ek is seker dat u grootliks bemoedig sal word as u dit lees. Ek bied dit vir u aan teen ’n bydrae van slegs R4,50.”
6 As die huisbewoner reeds die Bybelverhale-boek het, of as dit meer gepas is om die “Kyk”-brosjure aan te bied, kan jy die voorstel in paragraaf 4 toepas. Of jy kan die aandag vestig op een, van die tussenhofies in die brosjure wat jy meen die huisbewoner se belangstelling sal wek. Die “Kyk”-brosjure is spesiaal saamgestel om nuwe Bybelstudies te begin. Wanneer jy die huisbewoner se aandag op die onderwerp onder bespreking vestig, moet jy hom dus ook die vrae onderaan die bladsy, die gesiteerde tekste en die Bybelgebaseerde antwoorde in die paragraaf wys. Jy sal moontlik ’n studie tydens die eerste besoek kan begin.
7 Ons dank Jehovah vir die Heilige Skrif waarmee “die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:17). Ons is ook dankbaar vir publikasies soos die Bybelverhale-boek en die “Kyk”-brosjure. Ons besef die waarde daarvan en is bly dat ons dit gedurende Desember vir ander kan aanbied.