Help die bejaardes en die siekes
1 Die meeste gemeentes het verkondigers wat op gevorderde leeftyd is of wat fisiese beperkings het. Hulle het moontlik hulp nodig om by vergaderinge te kom of in die velddiens uit te gaan.
2 Sommige lewer al jare lank getroue diens, en hulle wil graag ondanks hulle beperkings, aanhou om aan gemeentelike aktiwiteite deel te neem. Een suster in haar laat tagtigerjare het gesê: “Ek het Jehovah so lief dat ek eenvoudig net aan die velddiens moet deelneem en vergaderinge moet bywoon om dit vir hom te bewys”(1 Kor. 15:58). Stem jy nie saam dat sulke persone ons hulp verdien nie?
VELDDIENS
3 Hoewel talle van die bejaardes en siekes vreugde daaruit put om hulle Skepper te dien, voel sommige dat hulle nie baie kan doen nie. “Ek voel dat my diens tans nie veel is nie, maar dit is ’n groot vreugde om my Skepper te dien” het ’n 93-jarige pionier gesê. Nadat hy saam met haar gewerk het, het ’n kringopsiener gesê: “Sy was ’n groter aansporing vir my as ek vir haar. Sy dra besonder baie tot die pioniergees by.” Is daar iets wat ons kan doen om sulke persone te laat weet hoeveel ons hulle waardeer?
4 Hulle waardeer dit dikwels baie wanneer ons hulle uitnooi om saam met ons aan die velddiens deel te neem. Kan ons hulle in ’n rolstoel saamneem wanneer ons straatwerk doen as hulle sukkel om te loop? (Spr. 17:17). Kan ons sulke verkondigers in gebiede inneem waar daar woonstelblokke met hysbakke of huise sonder trappe is? Kan hulle saam met ons na herbesoeke of Bybelstudies gaan? Of studeer ons die Bybel met iemand wat bereid sal wees om na die bejaarde se huis te gaan vir die studie?
5 Is daar enigiets wat ons kan doen om diegene wat huisgebonde is te help om ’n betekenisvolle deelname aan die velddiens te hê? Kan ons dalk voorstel dat hulle die telefoon gebruik? Ons kan miskien ook name en adresse verskaf van mense wat in ontoeganklike gebiede woon, diegene wat nie tuis is nie, of belangstellendes aan wie briewe geskryf kan word. Een pionier wat siek is, het geskryf: “My hele lyf is van artritis deurtrek, en ek kan nie loop nie. Maar. . .ek kan nog praat, skryf, bel en tydskrifte pos.” Sy bedank haar getroue broers en susters dat hulle haar help om ’n volle deelname aan die bediening te hê.—Hebr. 6:10-12.
REËLINGS OM BY DIE VERGADERINGE TE KOM
6 Efesiërs 4:25 (NAV) sê: “Ons is lede van dieselfde liggaam.” Ons wil derhalwe ons bejaarde en siek broers help om by die vergaderinge te kom (Filip. 2:4). Hoe kan dit gedoen word? Kan ons hulle met ons motor gaan haal as party bang is om in die aand te bestuur? Ander kan miskien openbare vervoer gebruik of selfs stap mits iemand hulle vergesel. Kan jy op hierdie manier help?
7 Sommige bejaardes wat huisgebonde is, het baat gevind by vergaderinge wat opgeneem en dan later vir hulle gespeel is. Een suster is gevra om ’n siek suster elke week te besoek om die hoofgedagtes van die vergaderinge te hersien. “Ek bestee ’n paar minute daaraan om haar op hoogte te bring met aankondigings en dinge wat in die gemeente gebeur. Ek neem ook die jongste Teokratiese Bedieningskoolhersiening vir haar. Ons geniet hierdie tydjie saam terdeë. Hoewel sy afwesig is, stel dit haar in staat om tred te hou met die gemeente.”
SLUIT HULLE BY JOU ROOSTER IN
8 Kan jy die inisiatief neem om hulp vir bejaarde broers en susters aan te bied? Soek na maniere om behulpsaam te wees. Bied jou hulp vrywillig aan. Is daar ander maniere waarop jy kan help, soos om inkopies vir hulle te doen of hulle na afsprake te neem? Ons bejaarde broers en susters sal ons besorgdheid en liefdevolle hulp baie waardeer.
9 Dit kan baie verrykend wees om die bejaardes en siekes te help. Bejaardes het baie lewensondervinding en het dikwels geleer om moeilike omstandighede te verduur; hulle beskouings en herinneringe kan dus van groot waarde vir ons wees (Spr. 16:31, NW). Geniet die plesier en persoonlike voordeel wat dit inhou om die bejaardes en die siekes te help.—Hand. 20:35; Rom. 1:12, NAV.