Verenig in die uitvoering van Jehovah se wil
1 Desember is vir talle mense ’n vakansiemaand. Hulle gedagtes is gevestig op feesvierings, die koop en maak van geskenke, besoeke aan hulle familie en sosiale bedrywighede van die seisoen. Dit kan meer vasbeslotenheid van ons kant verg om in die velddiens uit te gaan. Ons kan nogtans deur goeie beplanning en ywerige inspanning voortgaan om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.
2 Aangesien baie van die feesvierings veronderstel is om ter ere van Christus te wees, kan dit goed wees om in ons predikingswerk dinge te beklemtoon wat op Christus betrekking het. Informele getuieniswerk bied ons ook die geleentheid om die ware doel van Jesus se geboorte te bespreek, en die aandag te vestig op leerstellings van die Skrif oor God se Seun as ons Verlosser. Deur die huis-tot-huisbediening en herbesoeke kan ons benadruk hoe belangrik Jesus werklik in die lewens van Christene is.
DIE AANBOD
3 Ons gaan My boek met Bybelverhale of Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe aanbied teen ’n bydrae van R6,00 elk of die klein uitgawe van die Paradys op aarde-boek teen R3,00. Albei publikasies bied talle moontlikhede waarop ons die goeie nuus van die Koninkryk kan aanbied. Deel 6 van die Bybelverhale-boek begin met verhaal 84 en dek die tydperk van die geboorte van Jesus tot sy dood. Hier het ons ’n skat van kennis oor verskeie onderwerpe wat oor Jesus se geboorte handel. Daar is die verhale met die titels “’n Engel besoek Maria”, “Jesus word in ’n stal gebore” en “Manne gelei deur ’n ster”. Dit is maklik om te sien dat net hierdie drie verhale talle gedagtes bevat wat jy kan gebruik om met diegene te praat wat jy gedurende die Kersvakansie in die velddiens ontmoet. Dit sal veral die geval wees waar daar kinders in die gesin is.
4 Die titel van hoofstuk 6 op bladsy 57 van die Paradys op aarde-boek. is “Is Jesus Christus deur God gestuur?” Dit verskaf talle gesprekspunte oor Jesus se voormenslike bestaan, sy lewe op aarde en die rede vir sy koms, asook sy huidige rol as Heerser van God se Koninkryk. Omdat baie mense gedurende hierdie tyd van die jaar aan die geboorte van Jesus dink, is dit voordelig om hulle aandag op die Paradys op aarde-boek te vestig ten einde hulle belangstelling in juiste informasie oor ons Heer te verhoog.
5 As die boek nie aanvaar word nie, kan jy die “Kyk!”-brosjure aanbied. Hier is dit ook moontlik dat jy die rol kan beklemtoon wat Jesus speel om ons van sonde en die dood los te koop.Jy kan veral na bladsye 18 en 19 gaan om hierdie onderwerp te beklemtoon.
6 Aangesien Desember ’n vakansietyd vir jong verkondigers is, kan hulle ook saam met hulle gesin en ander in die gemeente ’n volle deelname aan die uiters belangrike Koninkrykswerk hê. Sommige kan dalk hulppioniers wees. Die liggaam van ouere manne moet velddiensvergaderinge reël om in die behoeftes van die gemeente te voorsien. As jy met vakansie gaan of ’n streekbyeenkoms aan die einde van die maand gaan bywoon, moet jy asseblief jou velddiensrapport ingee voordat jy met vakansie of na jou byeenkoms vertrek.
7 Almal moet daarna strewe om gedurende Desember ’n betekenisvolle deelname daaraan te hê om verenig te wees in die uitvoering van Jehovah se wil. Een van die beste maniere om belangstelling in die Koninkryksboodskap te wek, is om dit in verband te bring met iets waaraan mense tans dink. Desember bied ons ’n puik geleentheid om juis dit te doen, aangesien mense in baie gevalle aan die godsdiensvakansiedae sal dink.