Bied die Goeie Nuus Aan—Met Die Wagtoring
1 Die Bybel moedig die mensdom sterk aan om kennis van God en van sy Seun, Jesus Christus, te soek. Hierdie kennis is veel kosbaarder as goud of silwer (Spr. 8:10). Waarom? Omdat sulke juiste kennis tot ewige lewe lei (Joh. 17:3). Maar juiste kennis word nie sonder heelwat persoonlike inspanning verkry of behou nie. Dit is geen wonder dat Salomo gesê het nie: “As jy daarna [bly] soek . . . dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind.”—Spr. 1:7; 2: 4, 5, vgl. NW.
2 Die mensewêreld is in duisternis wat God se voornemens betref, maar waardevolle kennis van Jehovah kom na ons deur die kosbare en tydige artikels wat in Die Wagtoring gedruk word (Jes. 60:2). Wat ’n voorreg het ons tog om hierdie lewensbelangrike informasie met ander te deel! Gedurende April en Mei sal ’n reeks artikels oor die ontmaskering van Babilon die Grote en haar teregstelling uitgegee word.
WAT KAN ONS BEKLEMTOON?
3 Die Wagtoring se nommers van April ondersoek die identiteit van “[Babilon die Grote], die moeder van die hoere” (Openb. 17:5, vgl. NW). Nadat jy jouself voorgestel het, kan jy die huisbewoner se belangstelling in die nommer van 1 April wek deur te sê: “Sedert die eerste eeu is die visioene en simbole van die Bybelboek Openbaring vir mense ’n raaisel. Een van die raaiselagtigste simbole is die groot hoer Babilon die Grote, wat in Openbaring hoofstukke 17 en 18 beskryf word. Wat simboliseer hierdie Babilon? Jy sal met behulp van hierdie artikel “’n Verborgenheid—Wie is die hoer Babilon die Grote? die antwoord vind.” As jy die vraag onbeantwoord laat, kan jy die persoon se aandag kry.
4 In die nommer van 15 April verduidelik die artikel “Babilon die Grote se skaamtelose hoerery” wat bedoel word met hoerery in die geestelike sin. Dit bevat ook die “Goddelike Geregtigheid”-Byeenkomstoespraak oor “Die berugte hoer” en die Resolusie. Weer eens kan ons gedagteprikkelende vrae stel soos: Wie is hierdie Babilon die Grote? Waarom word sy met sulke sterk woorde in die Bybel veroordeel? Hoe raak haar vernietiging ons geslag en jou toekoms? Onthou om die aanbieding eenvoudig te hou deur direk ter sake te kom en dat dit nie langer as 30 tot 60 sekondes moet wees nie.
BEPLAN VOORUIT
5 Hoewel ons gewoonlik elke maand die tweede en vierde Saterdae as tydskrifdae beklemtoon, sal dit goed wees om gedurende April al vyf Saterdae te beklemtoon, aangesien ons hierdie belangrike tydskrifte het om aan te bied. Stel jou dit ten doel om op tydskrif dag ’n kort aanbieding van nie meer as 60 sekondes te maak nie. ’n Wye verspreiding van hierdie tydige nommers van die tydskrifte is nodig om ’n waarskuwing te rig sodat almal kan hoor.—Jes. 61:2; Openb. 18:4, 5.
6 In April begin ’n nuwe Wagtoring-intekeningkampanje. Anders as die kort aanbieding wat aanbeveel word vir die weeklikse tydskrifdag, sal ons die ‘Onderwerp vir gesprekke’ gebruik wanneer ons die intekening aanbied. Diegene wat nie op die tydskrifte wil inteken nie, moet aangemoedig word om die jongste nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! teen R1,00 te aanvaar.
7 Waardeer jy die uitstekende waarde van Die Wagtoring ten volle? Dit is ’n belangrike instrument om die mensdom in Jehovah se weë van geregtigheid te onderrig (Matt. 5:6). Wanneer ons hierdie uitmuntende tydskrif versprei, het ons die voorreg om die nasies te waarsku teen die naderende vernietiging van Babilon die Grote.