Vraebus
• Wat is die pligte van diegene wat as saalwagters by gemeentelike vergaderinge dien?
Saalwagters moet almal wat na die vergaderinge kom hartlik verwelkom. Hulle pligte behels onder meer dat hulle sitplekke vir laatkommers vind, verslag hou van die opkoms, orde en sekuriteit handhaaf en na die ventilasie van die Koninkryksaal omsien. Saalwagters moet vriendelike, verantwoordelike broers wees wat die inisiatief neem om hulle verantwoordelikhede na te kom.—omAF bl. 63-4.
Saalwagters moet oplet na die behoeftes van nuwelinge, hulle welkom laat voel en hulle help om sitplekke te vind. Almal in die gemeente moet bereid wees om nuwelinge te help om die gemeente te leer ken en welkom te voel. Wanneer saalwagters beskikbare sitplekke vir laatkommers aanwys, moet hulle probeer om nie diegene wat reeds sit te steur nie. Soms voorsien hulle nuwelinge van die tydskrif wat bestudeer word.
Dit is noodsaaklik dat orde gedurende die vergaderinge gehandhaaf word. Aangesien ons ouers aanmoedig om hulle kinders na die vergaderinge te bring, sal daar soms ’n bietjie steuringe wees. Maar wanneer kinders aanhou om rusteloos of lastig te wees, moet ’n saalwagter vriendelik hulp aanbied en miskien voorstel dat die ouer die kind vir ’n rukkie uit die saal uitneem. As ouers met jong kinders sit waar hulle maklik kan uitgaan indien nodig kan hulle na die behoeftes van hulle klein kindertjies omsien sonder om ander te veel te steur.
In gebiede waar sekuriteit ’n probleem is, moet saalwagters aangewys word om te waak teen vandalisme of steurnisse deur teenstanders. Indien iemand binne-in die Koninkryksaal die vergadering probeer ontwrig, moet hy gevra word om die saal te verlaat. As hy weier en voortgaan om ’n steurnis te veroorsaak, kan die ouere manne die polisie ontbied. (Ouere manne het bykomende geskrewe riglyne wat in so ’n situasie vir hulle nuttig sal wees.) In sommige gebiede is dit dalk nodig dat aangewese broers gedurende vergaderinge die parkeerterrein van die Koninkryksaal oppas.—kmAF 2/85 bl. 3.
Wanneer die aanwesiges getel word, moet alle volwassenes asook jong kinders wat luister en, selfs in ’n beperkte mate, by vergaderinge baat, getel word.—kmAF 8/79 bl. 4.