Vraebus
◼ Hoe kan saalwagters ouers met hulle kinders help sodat die kinders hulle goed by die vergaderinge gedra?
Kinders is van nature energiek en is nie gewoond daaraan om lank stil te sit nie. Ná ’n vergadering is kinders vol energie, wat daartoe kan lei dat hulle rondhardloop en ander kinders rondjaag in die Koninkryksaal of by ander vergaderplekke, in die parkeerterrein of op die sypaadjie. Maar soos die spreuk tereg sê: ‘’n Kind wat aan homself oorgelaat word, steek sy ouers in die skande.’—Spr. 29:15.
Ongelukkig is van ons ouer broers en susters al ernstig beseer omdat kinders in hulle vasgehardloop en hulle omgestamp het. Dit kan onnodige lyding en onkoste vir die ouers en die gemeente veroorsaak. Vir hulle eie veiligheid en die veiligheid van ander, moet kinders nie toegelaat word om binne of buite die Koninkryksaal rond te hardloop en te speel nie.
Ouers het die skriftuurlike verantwoordelikheid om hulle kinders te leer om die nodige respek vir ons plekke van aanbidding te toon (Pred. 4:17a). By ons Christelike vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste word saalwagters aangestel om toe te sien dat “alles welvoeglik . . . geskied” en dat daar “goeie orde” is (1 Kor. 14:40; Kol. 2:5). Hulle moet voor, gedurende en ná die program hulle oë oophou en bewus wees van wat binne en buite die saal gebeur. As ’n kind rondhardloop of handuit ruk, kan die saalwagter die kind vriendelik keer en aan hom verduidelik waarom sulke gedrag nie aanvaarbaar is nie. Die saalwagter moet die probleem ook taktvol onder die ouers se aandag bring en hulle help om te sien dat hulle ’n ogie oor hulle kind moet hou. Die ouers moet dienooreenkomstig optree.
Dit is te verstane dat babas en kindertjies soms gedurende vergaderinge sal huil of steurend sal raak. As saalwagters ten minste 20 minute voor die vergadering by die saal is, kan hulle die agterste paar rye oophou vir ouers wat graag met hulle jong kinders daar wil sit. Die res van ons moet ons samewerking gee deur daardie sitplekke vir hulle oop te laat.
As ’n kind ’n steuring veroorsaak, moet die ouers iets daaromtrent doen. As die ouers nie iets doen nie en die steuring word ontwrigtend, moet ’n saalwagter die ouer vriendelik vra om die kind uit te neem. Wanneer ons nuwelinge met jong kinders na die vergaderinge nooi, moet ons by hulle sit en aanbied om met die kinders te help as hulle huil of andersins steurend raak.
Dit is vir ons ’n vreugde om kinders van alle ouderdomme by die Koninkryksaal te hê en om hulle goeie gedrag in God se huisgesin te sien (1 Tim. 3:15). As hulle Jehovah se reëling vir aanbidding respekteer, strek hulle hom tot eer en word hulle deur almal in die gemeente waardeer.