Vraebus
◼ Hoe kan almal tydens gemeentelike vergaderinge bydra tot ’n atmosfeer waarin dit maklik is om te leer? (Deut. 31:12).
Uit diepe eerbied vir Jehovah en die gemeentelike vergaderinge wat hy voorsien, word almal aangespoor om vroeg daar te wees en gereed te wees om deur hom onderrig te word. Dit is goed om voor in die saal te gaan sit, sodat dié met klein kindertjies en ander wat soms laat kom, agter kan sit. Voordat die vergadering begin, moet elektroniese toestelle so gestel word dat dit nie die gehoor sal steur nie. As al die aanwesiges deur die hele vergadering ’n eerbiedige gesindheid openbaar, sal steurnisse min en van geringe aard wees.—Pred. 5:1; Fil. 2:4.
Wanneer nuwelinge die vergaderinge begin bywoon, kan iemand in die gemeente wat hulle ken, dalk aanbied om by hulle te sit. Dit is besonder nuttig as daar klein kindertjies is wat geleer moet word. Om vergaderinge by te woon, is dalk ’n nuwe ondervinding vir die gesin. Indien wel, sal hulle dit heel moontlik waardeer as hulle verder agter kan sit waar dit vir ander minder steurend is as die ouers die ouditorium tydelik moet verlaat om na die kinders om te sien (Spr. 22:6, 15). Gesinne met klein kindertjies moenie in ’n aparte kamer sit waar die kinders dink dat hulle ’n lawaai kan maak nie. Dit is gewoonlik beter as die ouer buite die ouditorium dissipline toedien of na ander behoeftes omsien en dan saam met die kinders na die ouditorium terugkeer.
Saalwagters help om ’n atmosfeer te handhaaf wat gepas is vir ’n huis van aanbidding. Hulle help gesinne en dié wat van soms laat kom, om gepaste sitplekke te vind. Die saalwagters probeer taktvol en verstandig wees in hulle pogings om ander te help om gerieflike sitplekke te vind sonder om onnodige steuring te veroorsaak. Hulle lê goeie oordeel aan die dag wanneer hulle enige onverwagte steurnisse hanteer. As ’n kind se gedrag ander se aandag begin aftrek, kan die saalwagters vriendelik hulp aanbied.
Almal wat by vergaderinge vir aanbidding teenwoordig is, kan bydra tot ’n atmosfeer waarin dit maklik is om te leer van Jehovah en sy voorneme om ’n vreedsame en regverdige nuwe wêreld tot stand te bring.—Heb. 10:24, 25.