Doeltreffende inleidings
1 Wanneer ons aan die huis-tot-huis-werk deelneem, kom ons voortdurend te staan voor die vraag: “Wat sal ek eerste sê?” Ervare verkondigers wat goeie resultate in die velddiens behaal, gee ’n paar nuttige wenke. Wat is sommige hiervan?
2 In die eerste plek is dit belangrik om opreg belang te stel in die mense met wie ons praat. Sulke persoonlike belangstelling word deur sowel woorde as dade getoon. Dit is belangrik om die huisbewoner se beskouing in ag te neem. Vra gepaste vrae en luister dan aandagtig na sy antwoord. Ons moet op elke manier moontlik probeer om die huisbewoner te laat besef hoe hy persoonlik kan baat vind by ’n bespreking van die onderwerp waaroor ons gesels.
NEEM HULLE BESKOUING IN AG
3 Toe Jesus vir die Samaritaanse vrou by ’n put naby Sigar getuig het, het sommige van sy uitdrukkings vir haar vreemd geklink. Hulle het nie ooreengestem met haar denke of die manier waarop sy aanbid het nie. Jesus het aandagtig geluister, en toe hy geantwoord het, het hy wat sy gesê het in ag geneem. Hy wou haar help (Joh. 4:13, 14, 19-26). Probeer ons in hierdie opsig om Jesus se voorbeeld te volg wanneer ons aan die getuieniswerk deelneem?
4 Wat kan jy doen as mense in jou gebied op jou openingswoorde reageer deur te sê: “Ek het my eie kerk.” Die Bybelskrywer het gesê: “Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord” (Spr. 15:28). Doen jy dit? Het jy die inligting op bladsye 18-19 van die Redenering-boek oorweeg met die beginsel van hierdie teks in gedagte? Jy kan ook saam met verkondigers werk wat bekwaam is in die velddiens sodat jy kan leer hoe om jou inleidings doeltreffender te maak.
5 In gebiede waar baie mense die beswaar opper dat hulle hul eie kerk het, kan jy dit nuttig vind om bedag te wees op hulle kommentaar en die onderwerp eerste aan te roer. Nadat jy gegroet het, kan jy byvoorbeeld sê: “Behoort u aan ’n kerk? [Luister na hulle antwoord.] Ek het gedink u sou, want die meeste mense in hierdie omgewing behoort aan ’n kerk. Maar die rede waarom ek u vanoggend besoek, is. . . ” Gaan dan voort met die onderwerp wat jy wil bespreek.
6 As baie huisbewoners sê: “Ek is besig”, kan jy een of meer van die gedagtes op bladsye 19-20 van die Redenering-boek kies en hulle aanpas by die behoeftes van jou gebied. Variasies van hierdie uitdrukkings kan gebruik word selfs voor die huisbewoner besware wat dikwels gehoor word, opper.
GEBRUIK INLEIDINGS UIT DIE REDENERING-BOEK
7 Baie behaal goeie resultate deur die inleidings op bladsye 9-15 van die Redenering-boek te gebruik. Jy sal merk dat hulle die onderwerpe bespreek waarin mense oor die algemeen belangstel, soos aktuele sake, persoonlike veiligheid, werkgeleenthede, behuising, die gesinslewe en die toekoms. Let egter ook op dat die bewoording van die voorgestelde inleidings in die Redenering-boek die huisbewoner nooi om homself uit te druk. Dit help hom om te besef hoe belangrik die onderwerp is en dat dit hom persoonlik raak. As ons hierdie inleidings goed gebruik, kan dit verhoed dat huisbewoners van die algemener besware opper.
8 Dink goed na oor die inleidings wat na jou mening die doeltreffendste in julle gebied sal wees. Leer om die inleidings in die Redenering-boek te gebruik. Vind baat by die ondervinding van ander verkondigers. Bid vir Jehovah se seën op jou pogings. Met inspanning van ons kant en Jehovah se seën sal mense in jou gebied moontlik gunstig reageer op die goeie nuus van redding.