Wanneer ons in gebied werk wat gereeld gedek word
1 Ons is verheug om te verneem dat baie gemeentes hulle gebied gereeld dek (Matt. 24:14; 1 Tim. 2:3, 4). Hoewel dit ’n unieke uitdaging bied, toon ondervinding dat ons dit suksesvol die hoof kan bied as ons goed voorbereid en toegerus is om verskillende omstandighede wat opduik te hanteer.
2 Doeltreffende inleidings is die sleutel: Dit is baie belangrik om voorbereid te wees sodat ons een of meer weldeurdagte inleidings kan gebruik. Dit moet gepaste verklarings insluit wat die lewensbelangrike redes vir ons gereelde besoeke duidelik uiteensit.
3 Die Redenering-boek voorsien talle puik voorbeelde van gepaste inleidings wat ons kan gebruik. Op bladsy 15 verskyn daar drie onder die tussenhofie “In gebied wat dikwels gedek word”. Oefen die inleidings wat jy in julle gebied wil gebruik.
4 Party verkondigers behaal welslae deur plaaslike koerantberigte te gebruik om gesprekke aan te knoop in gebied wat gereeld gedek word. Die Redenering-boek gee drie voorbeelde van hoe dit gedoen kan word. Kyk na die tweede inleiding onder die opskrif “Misdadigheid/Veiligheid” op bladsy 13 en die eerste twee inleidings onder die opskrif “Aktuele sake” op bladsye 9 en 10.
5 Inleidings wat jy voorberei: Jy kan gerus gepaste inleidende kommentare wat op dié in die Redenering-boek gegrond is, ontwikkel en gebruik. Druk hulle op jou eie natuurlike manier, in jou eie woorde, uit. Jy kan dit saam met ’n ervare verkondiger oefen voordat jy dit in die velddiens gebruik.
6 Jy kan byvoorbeeld iets sê soos:
◼ “Sedert ons jou laas besoek het, [meld ’n onlangse gebeurtenis waaroor mense in die gemeenskap praat]. Omdat ons almal op die een of ander manier daardeur geraak word, het baie van ons bure ernstige besorgdheid daaroor uitgespreek. Miskien het jy ook daaroor nagedink. [Wag ’n oomblik vir moontlike reaksie.] As jy vandag na wêreldtoestande kyk, stem jy nie saam met wat die profeet Jeremia in hoofstuk 10, vers 23, geskryf het nie?” Nadat jy die teks gelees het, kan jy die huisbewoner vir sy mening vra en dan sy aandag vestig op ’n spesifieke teks wat toon hoe Jehovah die probleem onder bespreking gaan oplos.
7 Of jy kan sê:
◼ “Jy het seker vandag in die nuus gemerk dat [meld ’n spesifieke gebeurtenis]. Jy sal moontlik saamstem dat dit ons almal raak. [Wag ’n oomblik vir moontlike reaksie.] Ons kan hoop dat regerings met ’n korttermynoplossing vorendag sal kom; maar die Bybel toon dat die probleem permanent opgelos gaan word.” Vestig die aandag op ’n spesifieke teks wat verduidelik wat God gaan doen.
8 “Waarom besoek julle ons so dikwels?” Gepaste antwoorde op hierdie potensiële gesprekdemper word in die Redenering-boek op bladsy 20 onder die opskrif “Waarom besoek julle ons so dikwels?” gegee. Selfs al word ons nie gevra nie, kan ons ’n goeie getuienis lewer as ons elke gepaste geleentheid aangryp om ander te help besef dat opregte liefde vir God en ons naaste ons beweeg om hulle so dikwels moontlik te besoek. ’n Bespreking van Jesus se woorde in Johannes 21:15-17 kan baie nuttig in hierdie opsig wees.
9 Ons moet voortgaan om die uitdaging die hoof te bied om gebied te werk wat dikwels gedek word totdat Jehovah sê dit is genoeg. Met hierdie vasbeslotenheid kan ons tot die einde toe verseker wees van sy leiding, beskerming en seën.—Matt. 28:19, 20.