Gemeentelike boekstudiereëling
Deel 1—Verantwoordelikheid Van Die Studiehouer
1 Die Gemeentelike Boekstudie speel ’n belangrike rol in die geestelike vooruitgang van Jehovah se volk. Ons sal gedurende die maande wat voorlê verskeie aspekte van die Gemeentelike Boekstudiereëling ondersoek en sien hoe ons daarby baat kan vind. In hierdie nommer wil ons die aandag vestig op hoe die boekstudiehouer die studie bemoedigend en geloofversterkend kan maak.
2 Die studiehouer moet goed voorberei sodat sy onderrigting doeltreffend kan wees. As ’n ernstige student van God se Woord moet hy nie net die antwoord op elke vraag ken nie, maar hy moet ook verstaan waarom daardie antwoord reg is. Hy moet daarna strewe om almal by die studie te help om te verstaan wat die redes vir die antwoorde is (1 Pet. 3:15). Dit sal hulle waardering vir die materiaal vergroot.
DOELWITTE WANNEER DIE STUDIE GEHOU WORD
3 Een van die studiehouer se doelwitte is om die materiaal in die studie te gebruik om almal wat teenwoordig is se geloof te versterk en hulle aan te spoor om God se wil in groter mate te doen (Ps. 110:3; 2 Thess. 1:3-5). Om dit te bereik, moet die studiehouer op gepaste plekke stilstaan om gedagtes ‘in te skerp’ wat hartgrondige vertroue in Jehovah, sy Woord en sy organisasie opbou. (Gal. 6:6, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.) Gedagteprikkelende vrae kan gebruik word om hierdie geloofopbouende besonderhede te dek soos die tyd dit toelaat.
4 Nog ’n doelwit is om almal te help om te sien hoe hulle die materiaal prakties kan gebruik. Hoe kan hulle dit in die veldbediening gebruik? Om die broers sowel as nuwelinge te bemoedig? Om hulle gesinne en hulleself te versterk? Elke keer wanneer Gemeentelike Boekstudiehouers die les voorberei, moet hulle probeer om vas te stel hoe spesifieke gedagtes in die studie prakties gebruik kan word.
5 Sekere inligting kan gebruik word om ongelowige familielede, skoolmaats of werkmaats te help. Ander materiaal kan diegene help wat in verdeelde gesinne of miskien in enkelouergesinne is. Die studiehouer kan antwoorde uitlok van die aanwesiges deur hulle te help om te redeneer en te sien hoe hulle die materiaal wat bespreek word prakties kan toepas. Die studiehouer moet probeer om die studie interessant te hou en dit nie net ’n vraag-en-antwoorddekking van die materiaal te maak nie.—Vergelyk 1 Korinthiërs 14:9, 19.
TOON PERSOONLIKE BELANGSTELLING
6 Die studiehouer kan volle deelname aanmoedig deur persoonlike belangstelling in elkeen in die groep te toon. Diegene wat skugter is, kan vooraf gevra word om tekste te lees of hulle kan vooraf ’n vraag gegee word wat hulle as antwoord kan voorberei. Almal moet daarna strewe om in hulle eie woorde te antwoord. Deur goed na die kommentare te luister, kan die studiehouer vasstel of sommige persoonlike hulp nodig het. Hy kan ander ervare verkondigers in die groep gebruik om te help om sulke persoonlike aandag te gee.
7 Die Gemeentelike Boekstudie is vir ons ’n seën. Dit gee ons die geleentheid om in klein groepe te vergader en meer persoonlike aandag te ontvang. Ons moet dit nooit as minder belangrik as ander vergaderinge beskou nie. Jou Gemeentelike Boekstudiehouer neem sy verantwoordelikheid ernstig op om elke studie te gebruik om jou geloof in Jehovah te versterk en jou waardering vir God se geestelike voorsieninge op te bou.