Gemeentelike boekstudiereëling
Deel 3—’n Sentrum vir die veldbediening
1 Die plek waar die Gemeentelike Boekstudie gehou word, voorsien nie net ’n plek waar ’n groepstudie gehou kan word nie, maar dien ook as ’n vergaderplek vir velddiens. Die tye vir sulke vergaderinge moet vir die meeste verkondigers gerieflik wees, en die vergaderinge moet praktiese hulp verleen om die verkondigers vir velddiens te organiseer.
2 Groepe wat behoorlik vir studie en velddiens georganiseer is, bou geestelikheid op. Wie het nog nie baat gevind by aanmoediging of wenke oor hoe om besware te oorkom, hoe om ’n gesprek te begin, hoe om ’n Bybelstudie aan te bied of wat om te sê wanneer jy ’n herbesoek doen nie? Medeverkondigers en pioniers wat by die boekstudiesentrum bymekaarkom, gee presies sulke hulp.—Gal. 6:9, 10.
3 Boekstudiehouer se rol: Die Ge- meentelike Boekstudiehouer neem die leiding en hy is daarvoor verantwoordelik om die groep se bedrywighede te organiseer. Hy werk gereeld saam met die verkondigers in die veld (1 Pet. 5:2, 3). Goed voorbereide vergaderinge vir velddiens verleen skriftuurlike en praktiese onderrig om die groep vir die velddiens toe te rus. Dit is gewoonlik verkieslik dat elke boekstudiegroep eerder sy eie vergadering vir velddiens hou as dat al die groepe saam by een plek vergader. Maar twee klein groepe kan gekombineer word as dit nodig is. Wanneer velddiens ná die Wagtoring-studie gedoen word, moet die velddiensvergadering kort wees. Daarna sal elke boekstudiehouer na sy eie groep omsien.
4 Wanneer velddiensreëlings gereeld gehou word, moedig dit gereelde deelname aan die veldbediening aan. As die velddiensvergaderinge op ’n vasgestelde tyd en plek gehou word, reël die verkondigers hulle sake daarvolgens, en hulle word aangemoedig deur die feit dat daar gebied sal wees en ander saam met wie hulle kan werk. (Vergelyk Lukas 10:1.) Selfs wanneer die studiehouer nie daar kan wees nie, voorsien hy gebied en tref hy reëlings vir die groep (omAF bl. 44-5). As daar nie ’n gekwalifiseerde broer is wat ’n velddiensvergadering kan hou nie, kan die studiehouer ’n suster aanwys om dit te doen (omAF bl. 77-8; kmAF 3/88 bl. 3). Verwarring word uitgeskakel as die groep gereeld op die gewone tyd en plek vir velddiens bymekaarkom. Enige tydelike verandering hiervoor moet, indien moontlik, ’n week voor die tyd aangekondig word.
5 Samewerking is nodig: Almal moet daarna strewe om ’n sinvolle aandeel aan die verskillende aspekte van die bediening te hê. Verkondigers kan die inisiatief neem om saam voor te berei deur middel van oefensessies, en hulle kan realistiese besware en situasies gebruik wat in die plaaslike gebied kan voorkom.—Spr. 27:17.
6 Wil jy graag hê dat ’n ervare verkondiger jou help om bekwamer te word in die dissipelmaakwerk? As dit die geval is, moet jy met jou Gemeentelike Boekstudiehouer praat. Hy sal moontlik kan reël dat ’n bekwame verkondiger jou help. As jy daarby wil baat vind, moet jy wenke wat jy ontvang het ywerig toepas en afsprake vir velddiens nakom.
7 Diegene wat deur die boekstudiehouer aangewys word om te help, moet tegemoetkomend en redelik wees in hulle verwagtinge. Ondervinding het getoon dat diegene met ’n positiewe en gebalanseerde beskouing van velddiens en wat ’n praktiese benadering het ander die beste kan oplei (kmAF 8/79 bl. 1, 4; kmAF 10/79 bl. 3). Diegene wat gehelp word, moet altyd geprys word terwyl hulle vooruitgang maak. Dan kan ander doelwitte gestel word.—Vergelyk Lukas 19:17-19.
8 Ons wil mekaar help om bekwaam te wees om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak. Verslegtende wêreldtoestande getuig van die dringendheid van hierdie werk. Lewens is daarby betrokke, en Jehovah bespoedig die insameling (Jes. 60:22). As ons die bediening wat vir ons gegee is in gedagte hou, sal ons ten nouste met ons Gemeentelike Boekstudiegroep saamwerk sodat ons ons toewysing ten volle kan vervul terwyl ons mekaar vermaan en aanmoedig.—Rom. 12:6-8; 2 Tim. 4:1, 2, 5.