Hoe ons met ons Gemeentelike Boekstudiehouer kan saamwerk
1 Die Gemeentelike Boekstudie speel ’n baie belangrike rol in die ontwikkeling van ons vermoëns as bedienaars van die goeie nuus. Die groepe word doelbewus klein gehou om ’n hartlike gesinsatmosfeer aan te moedig waarin die Bybel en een van die Genootskap se publikasies bestudeer kan word. Hierdie kleiner groepies voorsien ook die ideale omstandighede waaronder ons opgelei kan word om bekwamer in die veldbediening te word. Deur middel van die boekstudiereëling kan individue makliker persoonlike aanmoediging en aandag ontvang. Hoe kan ons ten volle met die boekstudiehouer saamwerk en by hierdie voortreflike voorsiening baat vind?
2 ’n Ywerige deelname aan die veldbediening: Een van die belangrikste verantwoordelikhede van die boekstudiehouer is om elke lid van die groep te help om ’n ywerige deelname aan die bediening te hê. In hierdie verband herinner die Ons bediening-boek ons op bladsy 44 aan die volgende: “Sy gereeldheid, ywer en geesdrif in die velddiens sal deur die verkondigers nagevolg word.” Die boekstudiehouer sal partykeer saam met sy eie gesinslede in die velddiens werk, maar hy sal ook graag na gelang van sy omstandighede saam met ander aan die verskillende aspekte van die bediening wil deelneem. Kan jy die velddiensvergaderinge gereeld ondersteun? Jou boekstudiehouer en ander verkondigers sal dit baie waardeer.
3 Velddiensvergaderinge word by gerieflike plekke gereël sodat almal ’n ywerige deelname aan die predikingswerk kan hê. Hoewel plaaslike omstandighede in ag geneem word, moet elke groep sorg dat hulle vroeg in die bediening uitkom. Baie verkondigers en pioniers geniet welslae wanneer hulle naweke tot in die vroeë namiddag in die bediening uitbly.
4 Wil jy graag in die een of ander aspek van die bediening gehelp word? Miskien kan jou boekstudiehouer reël dat ’n bekwame verkondiger in die groep saam met jou werk. Maak seker dat jy jou velddiensrapport stiptelik aan die einde van die maand ingee. Die boekstudiehouer sowel as die sekretaris sal jou samewerking in hierdie belangrike saak waardeer.—Vergelyk Lukas 16:10.
5 Wanneer die diensopsiener die groep besoek: Die diensopsiener besoek gewoonlik een boekstudiegroep elke maand om ’n groter en noemenswaardiger deelname aan die veldbediening aan te moedig. Luister aandagtig na die toespraak van 15 minute wat hy aan die einde van die boekstudie hou, aangesien dit spesifieke raad bevat wat die groep sal help om in die verskillende aspekte van die predikingswerk te verbeter. Die diensopsiener wil ook graag oor die naweek saam met verskillende lede van die boekstudie werk. Maak seker dat jy hierdie spesiale voorsiening benut sodat jy by sy ondervinding en vermoë in die velddiens kan baat vind.
6 Ons persoonlike voorbeeld van samewerking en ons gewilligheid om dié met minder ervaring te help, sal bydra tot ’n hartlike, vriendelike atmosfeer by die Gemeentelike Boekstudie terwyl ons “aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof”.—Gal. 6:10.