Bied die goeie nuus aan—Met onderskeidingsvermoë
1 ’n Geïnspireerde spreuk sê: “Hy wat onderskeidingsvermoë bewaar, sal die goeie vind” (Spr. 19:8, NW). Die wysheid van hierdie woorde is al dikwels waar bewys tydens ons predikingswerk. Baie verkondigers het byvoorbeeld deur onderskeidingsvermoë en takt aan die dag te lê moontlike gesprekdempers omskep in geleenthede om verder te getuig. Of hulle het ten minste die grondslag gelê vir ’n latere getuienis. Hoe kan dit gedoen word?
OORKOM GESPREKDEMPERS
2 Ons kom dikwels mense teë wat sê: “Ek is besig.” Is die huisbewoner werklik besig of sê hy maar net so om nie by ’n lang gesprek betrokke te raak nie? Onderskeidingsvermoë is nodig. As hy nie werklik besig lyk nie, kan ons probeer om hierdie gesprekdemper te oorkom. Ons kan sê: “Dan sal ek saaklik wees.” Daarna kan ons dit wat ons wou bespreek, opsom terwyl ons in gedagte hou dat ons gesê het ons gesprek kort sal wees. Vanweë ons bedagsaamheid en prikkelende kommentare kan die persoon selfs ’n aanduiding gee dat hy die gesprek sommer daar wil voortsit.
3 Gestel die persoon wat jy besoek, is werklik besig. Hoewel ons nie maklik weggewys moet word nie, kan ons ’n ongunstige indruk skep as ons opdringerig is. As ’n huisbewoner met kookgereedskap in haar hand na die deur kom en ons kos ruik wat kook, is sy waarskynlik werklik besig. Onderskeidingsvermoë en goeie oordeel is dus nodig. Dit sal nie bedagsaam wees om dan met die gesprek voort te gaan nie. Hoeveel beter sal dit tog wees om die huisbewoner ’n traktaat te gee en te sê dat jy later sal terugkom. Dit sal ’n gunstiger indruk skep, en ’n goeie getuienis kan gelewer word wanneer ’n Getuie die volgende keer daar besoek aflê.
ONS REAKSIE OP IEMAND SE GEMOEDSGESTELDHEID
4 Soms vind ons mense wat kortaf is wanneer ons hulle tydens die bediening van huis tot huis besoek. Wat moet ons in hierdie geval doen? Spreuke 17:27 maan: “Hy wat kalm is van gees, is ’n man van verstand.” Watter goeie raad tog! ’n Sagte stem wat besorgdheid weerspieël, laat so iemand dikwels ontspan. As ons hom boonop taktvol sover kan kry om sy gedagtes uit te spreek oor iets waaroor hy besorg is, kan hy ’n minder verdedigende houding inneem. Selfs al beëindig hy die gesprek sal ons sagte antwoord hom waarskynlik in ’n beter gemoedstemming ten opsigte van die werk van Jehovah se Getuies laat. Dan het ’n mens iets goeds bereik. Wanneer ’n huisbewoner natuurlik ontsteld en kwaad raak, sal dit die beste wees om kalm weg te gaan en op ’n ander keer vir hom te probeer getuig.
5 Dan is daar mense wat, hoewel hulle stryerig is, moontlik opreg is. In hierdie omstandighede kan dit ’n ware toets van ons geduld wees om die gesprek met hulle voort te sit. Maar as ons onderskeidingsvermoë aan die dag lê, sal ons nie noodwendig aanvaar dat ’n huisbewoner nie belangstel nie net omdat hy hom sterk uitspreek oor ’n beskouing wat van ons s’n verskil nie. Ons sal moontlik taktvol vrae vra om uit te vind wat die rede vir sy oortuigings is en hom dan wys wat die Bybel oor die onderwerp sê (Spr. 20:5). Sy reaksie sal bepaal of dit voordelig sal wees om die gesprek voort te sit.
6 ’n Verkondiger met onderskeidingsvermoë besef dat tyd en omstandighede dikwels ’n huisbewoner se gesindheid teenoor die Koninkryksboodskap verander. Hy kan heeltemal anders reageer die volgende keer wanneer ons daar kom. Ons moet oppas dat ons nie dink dat ons ’n negatiewe reaksie sal kry vanweë die huisbewoner se reaksie toe ons hom die vorige keer besoek het nie.
7 Dit is nie maklik om te besluit of ons ’n gesprek moet voortsit of nie. Maar as ons die onderrigkuns ontwikkel, sal ons bekwamer word om die goeie nuus met onderskeidingsvermoë aan te bied terwyl ons op Jehovah vertrou om ons pogings te seën.—1 Kor. 3:6; Tit. 1:9.