Bied die goeie nuus aan—Met onderskeidingsvermoë
1 Die apostel Paulus het beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons onderskeidingsvermoë gebruik wanneer ons die goeie nuus vir mense met verskillende opvattings en agtergronde aanbied. Vandag beweer party mense dat hulle godsdienstig is, terwyl ander hulle nie oor geestelike dinge bekommer nie en geen waardering vir geestelike waardes het nie. As verkondigers van die goeie nuus moet ons die Koninkryksboodskap vir “alle soorte mense” aantreklik maak deur onderskeidingsvermoë in die bediening te openbaar.—1 Kor. 9:19-23, NW.
VIND MEER UIT OOR DIE HUISBEWONER
2 Om onderskeidingsvermoë in die velddiens aan die dag te lê, behels die vermoë om ons aanbieding aan te pas by die dinge waarin die huisbewoner belangstel. Dit vereis goeie voorbereiding. Die verkondiger kan gereed wees om die goeie nuus met behulp van ’n verskeidenheid gesprekspunte aan te bied indien hy deeglik vertroud is met die groot verskeidenheid onderwerpe wat in die beskikbare boeke en tydskrifte bespreek word. Wanneer ons met ouer persone, jongmense, gesinshoofde, huisvroue, vroue wat werk en andere praat, moet ons hulle persoonlike omstandighede in ag neem en onderskeidingsvermoë gebruik wanneer ons besluit watter gedagtes ons aan hulle gaan meld.
3 Wanneer jy die huisbewoner nader, moet jy oplettend wees. Jy sal dalk sien dat die huisbewoner ’n ouer is, ’n bepaalde godsdiensagtergrond het, baie belangstel in die instandhouding van sy huis, ensovoorts. Met hierdie inligting kan jy jou inleiding verander om by die huisbewoner se omstandighede en die dinge waarin hy belangstel te pas. As jy taktvolle, oordeelkundige vrae vra en aandagtig na die persoon se kommentare luister, kan jy agterkom wat sy opvattings en gevoelens is en dan vasstel wat die beste manier sal wees om met jou aanbieding voort te gaan.
PAS JOU AANBIEDING AAN
4 Wanneer jy die huis nader en jy speelgoed of kinders sien, kan jy die huidige ‘Onderwerp vir gesprekke’ inlei deur te sê: “Ons gesels met ouers in die omgewing oor riglyne wat hulle vir hul kinders neerlê. Baie ouers is besorg oor die gebrek aan morele leiding vir kinders in die skoolstelsel. Dink u dat dit ’n probleem is?” Luister na die huisbewoner se antwoord. As die huisbewoner se antwoord toon dat hy godsdienstig is, kan jy voortgaan: “Dit is interessant dat die Bybel wys hoe belangrik dit is dat ons en ons kinders wyse leiding ontvang. Let op wat dit hier in Spreuke 14:12 sê.” Nadat jy die teks gelees het, kan jy sê: “Ek het net onlangs iets gelees wat beklemtoon hoe prakties die Bybel se raad vir ons is.” Blaai na bladsy 174 van Die Bybel—God se woord of die mens s’n en lees die laaste paragraaf van die hoofstuk. Bied die boek teen R2,50 aan.
5 Indien die huisbewoner se antwoord toon dat hy nie waarde aan die Bybel se raad heg nie, kan jy onderskeidingsvermoë openbaar deur jou aanbieding te verander en te sê: “Gee u om as ek vra waarom u tot daardie gevolgtrekking gekom het?” Nadat jy na sy antwoord geluister het, kan jy voortgaan: “Ek verstaan waarom u so voel. Trouens, ek het onlangs iets in hierdie publikasie gelees wat ek seker is u interessant sal vind.” Blaai na bladsy 6 en lees paragrawe 3 en 4. Lees ook die eerste sin van paragraaf 5 op bladsy 7. Vra die huisbewoner of hy graag wil sien wat ander mense as bewys van die Bybel se egtheid aanvaar.
6 As ons goed voorberei en onderskeidingsvermoë in Jehovah se diens openbaar, sal ons soos die apostel Paulus kan sê: “Ek het alles vir alle soorte mense geword sodat ek in alle geval sommige kan red.”—1 Kor. 9:22, NW; Spr. 19:8, NW.