Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 3/97 bl. 3-6
  • Skraap die vrymoedigheid bymekaar om herbesoeke te doen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Skraap die vrymoedigheid bymekaar om herbesoeke te doen
  • Ons Koninkryksbediening—1997
  • Soortgelyke materiaal
  • Herbesoeke lei tot Bybelstudies
    Ons Koninkryksbediening—2003
  • Maak seker dat jy teruggaan
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Op soek na meer Bybelstudies
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • Kweek belangstelling aan deur doeltreffende herbesoeke te doen
    Ons Koninkryksbediening—1993
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1997
km 3/97 bl. 3-6

Skraap die vrymoedigheid bymekaar om herbesoeke te doen

1 Geniet jy dit om herbesoeke te doen? Baie verkondigers geniet dit wel. Aan die begin was jy dalk bang, veral toe jy teruggegaan het na huisbewoners wat min belangstelling getoon het toe daar aanvanklik met hulle in aanraking gekom is. Maar namate jy ‘deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaarskraap om die goeie nuus te verkondig’ deur herbesoeke te doen, sal dit jou moontlik verbaas om te sien hoe maklik en lonend hierdie werk kan wees (1 Tess. 2:2). Hoe so?

2 In die eerste plek is daar ’n belangrike verskil tussen ’n herbesoek en die eerste besoek. Die herbesoek word by ’n kennis gedoen, nie by ’n vreemdeling nie, en dit is gewoonlik makliker om met ’n kennis te gesels as met ’n vreemdeling. Herbesoeke kan tot produktiewe tuisbybelstudies lei, wat een van die ryk belonings is wat uit ons deelname aan hierdie werk voortspruit .

3 Wanneer ons van huis tot huis werk, besoek ons mense herhaaldelik wat nie belanggestel het toe ons hulle voorheen besoek het nie. Waarom gaan ons dan aanhoudend terug? Ons besef dat mense se omstandighede verander en dat iemand wat met ’n vorige besoek onverskillig of selfs opponerend gelyk het dalk sal belangstel wanneer ons weer besoek aflê. Met dit in gedagte berei ons goed voor en bid ons vir Jehovah se seën sodat iets wat ons hierdie keer sê ’n gunstige reaksie sal uitlok.

4 As ons in ons huis-tot-huis-werk gewillig vir mense getuig wat voorheen glad nie belanggestel het nie, behoort ons dan nie selfs gewilliger te wees om na enigiemand toe terug te gaan wat ’n bietjie belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het nie?—Hand. 10:34, 35.

5 Baie van ons is vandag in die waarheid omdat ’n verkondiger geduldig herbesoeke by ons gedoen het. As jy een van hulle is, kan jy jou afvra: ‘Watter eerste indruk het ek op daardie verkondiger gemaak? Het ek onmiddellik die Koninkryksboodskap aangeneem toe ek dit die eerste keer gehoor het? Het ek dalk onverskillig gelyk?’ Ons moet bly wees dat die verkondiger wat teruggekom het ons ’n herbesoek waardig geag het, “deur middel van God die vrymoedigheid bymekaargeskraap het”, die besoek gedoen het en ons toe die waarheid geleer het. Wat van diegene wat aanvanklik belangstelling toon, maar ons later blykbaar vermy? ’n Positiewe gesindheid is noodsaaklik, soos die volgende ondervinding toelig.

6 Terwyl twee verkondigers vroeg een oggend straatwerk gedoen het, het hulle ’n jong vrou ontmoet wat ’n baba in ’n kinderwaentjie stoot. Die vrou het ’n tydskrif geneem en die susters genooi om die volgende Sondag na haar huis toe te kom. Hulle het op die afgespreekte tyd daar aangekom, maar die huisbewoner het vir hulle gesê dat sy nie tyd het om te gesels nie. Sy het egter belowe om die volgende week beskikbaar te wees. Die susters het getwyfel of sy die afspraak sou nakom, maar die vrou het vir hulle gewag toe hulle teruggaan. ’n Studie is begin, en die vrou se vordering was verbasend. Binne ’n kort tydjie het sy begin om die vergaderinge by te woon en aan velddiens deel te neem. Sy is nou gedoop.

7 Lê grondslag met die eerste besoek: Die grondslag vir ’n suksesvolle herbesoek word dikwels met die eerste besoek gelê. Luister aandagtig na die huisbewoner se kommentare. Wat sê dit vir jou? Is hy godsdienstig? Is hy besorg oor maatskaplike kwessies? Stel hy belang in wetenskap? geskiedenis? die omgewing? Aan die einde van jou besoek kan jy ’n gedagteprikkelende vraag vra en belowe om die Bybel se antwoord te bespreek wanneer jy terugkom.

8 As die huisbewoner byvoorbeeld gunstig reageer op die Bybel se belofte van ’n paradysaarde, sal dit dalk gepas wees om die onderwerp verder te bespreek. Net voordat jy vertrek, kan jy vra: “Hoe kan ons seker wees dat God hierdie belofte sal vervul?” Voeg dan by: “Dalk kan ek weer kom wanneer die res van die gesin tuis is, en dan kan ek vir julle die Bybel se antwoord op hierdie vraag wys.”

9 As die huisbewoner nie in enige spesifieke onderwerp belangstelling getoon het nie, kan jy een van die vrae opper wat in die aanbiedings op die agterste bladsy van Ons Koninkryksbediening verskyn en dit as die grondslag vir jou volgende bespreking gebruik.

10 Hou akkurate geskrewe verslae: Jou huis-tot-huis-verslag moet akkuraat en volledig wees. Skryf die naam en adres van die huisbewoner neer sodra jy die huis verlaat. Moenie raai wat die huisnommer of die straatnaam is nie—gaan die inligting na om seker te maak dat dit akkuraat is. Skryf ’n beskrywing van die persoon neer. Maak ’n aantekening van die onderwerp wat julle bespreek het, die tekste wat jy gelees het, enige lektuur wat jy gelaat het en die vraag wat jy gaan beantwoord wanneer jy teruggaan. Sluit die dag en tyd van die eerste besoek in, asook wanneer jy gesê het jy sal teruggaan. Noudat jou aantekening volledig is, moet jy dit nie verloor nie! Bêre dit op ’n veilige plek sodat jy later daarna kan verwys. Hou aan om oor die persoon te dink en oor hoe jy die besoek die volgende keer gaan behartig.

11 Weet wat jou doelwitte is: Eerstens, deur hartlik en vriendelik te wees, moet jy jou bes doen om die huisbewoner op sy gemak te laat voel. Toon dat jy in hom as persoon belangstel sonder om te familiêr te wees. Herinner hom dan aan enige vraag wat jy met die vorige besoek geopper het. Luister aandagtig na sy mening en spreek opregte waardering vir sy kommentare uit. Toon dan waarom die Bybel se beskouing prakties is. Vestig sy aandag, indien moontlik, op ’n verwante gedagte in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Hou altyd in gedagte dat jou hoofdoelwit met herbesoeke is om ’n Bybelstudie te begin.

12 Die Kennis-boek se direkte benadering het baie van ons aangespoor om tydens Bybelstudies ‘vrymoedigheid bymekaar te skraap’ om studente aan te moedig om vergaderinge by te woon en met Jehovah se organisasie om te gaan. In die verlede was ons geneig om te wag totdat mense al ’n hele rukkie gestudeer het voordat ons hulle genooi het om met ons om te gaan. Nou woon baie studente vergaderinge by sodra hulle begin studeer, en hulle vorder gevolglik baie vinniger.

13 ’n Egpaar het informeel vir ’n medewerker getuig. Toe hy belangstelling in die waarheid getoon het, het hulle hom genooi om ’n Bybelstudie in die Kennis-boek te hê. Terselfdertyd het hulle vir hom gesê dat hy die vergaderinge behoort by te woon, waar baie van sy vrae beantwoord sou word. Die man het nie net hulle uitnodiging om te studeer gewillig aanvaar nie, maar het ook twee keer per week gestudeer en vergaderinge gereeld by die Koninkryksaal begin bywoon.

14 Gebruik die brosjure Wat vereis God van ons?: By die “Boodskappers van Goddelike Vrede”-Streekbyeenkomste het ons die brosjure Wat vereis God van ons? ontvang. Hierdie brosjure is nuttig om Bybelstudies met godvresende mense te begin, ongeag hoeveel skoolopleiding hulle het. Dit bevat ’n omvattende studiekursus, wat die basiese leringe van die Bybel dek. Die publikasie sal ’n baie doeltreffende instrument wees om mense die kennis van God te leer. Dit verduidelik die waarheid op so ’n duidelike en eenvoudige manier dat feitlik elkeen van ons dit sal kan gebruik om ander God se vereistes te leer. Baie verkondigers sal waarskynlik die voorreg hê om ’n Bybelstudie in hierdie brosjure te hou.

15 Party mense wat voel dat hulle nie die tyd het om die Kennis-boek te bestudeer nie, sal dalk gewillig wees om die Vereis-brosjure in kort sessies te bestudeer. Hulle sal baie opgewonde wees oor wat hulle leer! In net twee of drie bladsye sal hulle die antwoorde vind op vrae waaroor mense al eeue lank wonder: Wie is God? Wie is die Duiwel? Wat is God se voorneme met die aarde? Wat is die Koninkryk van God? Hoe kan jy die ware godsdiens vind? Hoewel die brosjure die waarheid in eenvoudige taal aanbied, is die boodskap daarvan baie kragtig. Dit dek sleutelgedagtes wat die ouer manne met doopkandidate sal hersien en kan dien as ’n afspringplek vir ’n deegliker studie in die Kennis-boek.

16 Om ’n studie tydens ’n herbesoek aan te bied, kan jy net sê: “Het jy geweet dat jy, deur net ’n paar minute te gebruik, die antwoord op ’n belangrike Bybelvraag kan hê?” Vra dan ’n vraag wat aan die begin van een van die lesse in die brosjure verskyn. As jy byvoorbeeld ’n ouer persoon besoek, kan jy sê: “Ons weet dat Jesus mense in die verlede genees het. Maar wat sal Jesus in die toekoms doen vir die siekes? die bejaardes? die dooies?” Die antwoorde word in les 5 gevind. ’n Godsdienstige persoon se nuuskierigheid sal dalk geprikkel word deur die vraag: “Luister God na alle gebede?” Dit word in les 7 beantwoord. Gesinslede sal wil weet: “Wat vereis God van ouers en van kinders?” Hulle sal uitvind terwyl hulle les 8 bestudeer. Ander vrae is: “Kan die dooies die lewendes leed aandoen?” wat in les 11 verduidelik word; “Waarom is daar soveel godsdienste wat beweer dat hulle Christelik is?” wat in les 13 bespreek word en “Wat moet jy doen om ’n vriend van God te word?” wat in les 16 gedek word.

17 Help diegene wat ’n ander taal praat: Wat van huisbewoners wat ’n ander taal praat? Indien moontlik moet hulle in die taal geleer word wat hulle die beste ken (1 Kor. 14:9). Gee die naam en adres van die belangstellende, asook enige ander toepaslike besonderhede, aan julle diensopsiener. Hy sal ’n anderstalige gemeente of groep in die omgewing vind wat na die belangstellende kan omsien. Hierdie inligting moet alleenlik na die Genootskap toe gestuur word as ’n geskikte gemeente nie gevind kan word nie. As daar geen nabygeleë gemeentes of groepe is nie en daar geen plaaslike verkondigers is wat die taal van die huisbewoner kan praat nie, kan die verkondiger met die huisbewoner probeer studeer deur die Vereis-brosjure in die twee tale te gebruik.

18 ’n Engelssprekende verkondiger het ’n studie begin met ’n man wat Viëtnamees praat en met sy vrou, wat Thai praat. Publikasies en Bybels in Engels, Viëtnamees en Thai is gedurende die studie gebruik. Hoewel die taalgrens aanvanklik ’n uitdaging gebied het, skryf die verkondiger: “Die egpaar het onmiddellik geestelik begin groei. Hulle het die nodigheid gesien om vergaderinge saam met hulle twee kinders te begin bywoon, en hulle lees as ’n gesin elke aand die Bybel. Hulle sesjarige dogter hou haar eie Bybelstudie.”

19 Wanneer jy met mense studeer wat ’n ander taal praat, moet jy stadig praat, jou woorde duidelik uitspreek en eenvoudige woorde en frases gebruik. Hou egter in gedagte dat mense wat ’n ander taal praat met waardigheid behandel moet word. Hulle moet nie behandel word asof hulle babas is nie.

20 Maak goed gebruik van die pragtige prente in die Vereis-brosjure. As “’n prent duisend woorde werd is”, sal die talle prente in die brosjure vir die huisbewoner boekdele spreek. Vra hom om die tekste in sy eie Bybel te lees. As die studie op ’n tyd gehou kan word wanneer ’n familielid wat die plaaslike taal magtig is beskikbaar is om te tolk, sal dit ongetwyfeld voordelig wees.—Sien Ons Koninkryksbediening, Mei 1984, bladsy 8.

21 Doen herbesoeke sonder versuim: Hoe lank moet jy wag voordat jy ’n herbesoek doen? Party verkondigers gaan binne ’n dag of twee ná die eerste besoek terug. Ander gaan later dieselfde dag terug! Is dit te gou? Gewoonlik lyk dit nie of huisbewoners omgee nie. Dit is dikwels die verkondiger wat die besoek doen wat ’n positiewer gesindheid moet aankweek tesame met ’n bietjie vrymoedigheid. Beskou die volgende ondervindinge.

22 ’n Dertienjarige verkondiger het eendag van huis tot huis gewerk toe hy twee vroue saam sien stap. Gedagtig aan die aanmoediging om vir mense te getuig waar ons hulle ook al vind, het hy die vroue op straat genader. Hulle het belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon en het elk ’n Kennis-boek geneem. Die jong broer het hulle adresse gekry, twee dae later teruggegaan en ’n Bybelstudie met hulle albei begin.

23 Een suster tref reëlings om die volgende week terug te gaan. Maar ’n dag of twee ná die oorspronklike besoek gaan sy by die huisbewoner aan om hom ’n tydskrif te gee oor die onderwerp wat hulle voorheen bespreek het. Sy sê vir die huisbewoner: “Ek het hierdie artikel gesien en gedink dat jy dit sou wou lees. Ek kan nie nou bly om te gesels nie, maar ek sal Woensdagmiddag terugkom soos ons gereël het. Is daardie tyd nog vir jou geleë?”

24 Wanneer iemand in die waarheid belangstel, kan ons seker wees dat hy teenstand in die een of ander vorm sal ondervind. As ons teruggaan kort nadat die eerste besoek gedoen is, sal dit hom versterk om enige druk te weerstaan wat hy van familielede, goeie vriende en ander kry.

25 Kweek belangstelling van diegene wat in openbare plekke gevind word: Baie van ons geniet dit om die predikingswerk te doen op straat, in parkeerterreine, op openbare vervoer, in winkelsentrums, in parke, ensovoorts. Behalwe dat ons lektuur moet versprei, moet ons ook belangstelling kweek. Met dié doel moet ’n poging aangewend word om die naam, adres en, indien moontlik, die telefoonnommer te verkry van elke belangstellende wat ons ontmoet. Dit is nie so moeilik om hierdie inligting te verkry as wat jy dalk dink nie. Aan die einde van julle gesprek kan jy jou notaboek uithaal en vra: “Is daar enige manier waarop ons hierdie gesprek op ’n ander tyd kan voortsit?” Of sê: “Ek wil graag hê dat jy ’n artikel moet lees waarin ek seker is jy sal belangstel. Kan ek dit na jou huis of kantoor toe bring?” Een broer vra eenvoudig: “By watter nommer kan ek met jou in aanraking kom?” Hy sê in drie maande het net drie mense geweier om hulle telefoonnommer vir hom te gee.

26 Gebruik die telefoon om belangstelling te vind en te kweek: ’n Pioniersuster gebruik die telefoon om inwoners van geboue met streng sekuriteit te bereik. Sy doen ook herbesoeke op dieselfde manier. Met die eerste besoek sê sy: “Ek weet jy ken my nie. Ek wend ’n spesiale poging aan om met mense in jou omgewing in aanraking te kom om ’n gedagte uit die Bybel te deel. As jy ’n oomblik het, sal ek graag die belofte wil lees wat in . . . gevind word.” Nadat sy die teks gelees het, sê sy: “Sou dit nie wonderlik wees as ons daardie tyd kan beleef nie? Ek het dit geniet om dit vir jou te lees. As jy dit ook geniet het, sal ek graag weer wil skakel en ’n ander teks bespreek.”

27 Wanneer sy weer skakel, herinner sy die huisbewoner aan hulle vorige gesprek en sê sy dat sy uit die Bybel wil lees watter toestande gaan heers wanneer goddeloosheid verwyder is. Dan het sy ’n kort Bybelbespreking met die huisbewoner. In die loop van baie telefoongesprekke het 35 mense haar na hulle huis toe genooi, en sewe tuisbybelstudies is begin! Is dit partykeer vir jou moeilik om herbesoeke by belangstellendes te doen tydens gure weer of siekte? Indien wel, kan jy gerus telefonies met hulle in aanraking bly.

28 Gaan terug na belangstellendes in sakegebied: Winkel-tot-winkel-getuieniswerk behels veel meer as om net tydskrifte aan te bied. Baie winkeliers het ’n opregte belangstelling in die waarheid, en daardie belangstelling moet gekweek word. In party gevalle kan dit selfs moontlik wees om ’n Bybelbespreking of selfs ’n studie daar by die werksplek te hou. In ander gevalle sal jy en die belangstellende dalk gedurende middagete of op ’n ander geleë tyd kan ontmoet.

29 ’n Reisende opsiener het die eienaar van ’n klein kruidenierswinkel besoek en aangebied om ’n Bybelstudie te demonstreer. Toe die reisende opsiener gevra is hoe lank dit sou neem, het hy gesê dat dit net 15 minute sou neem. Daarop het die winkelier ’n teken aan die deur gehang: “Binne 20 minute terug”, ’n paar stoele nadergetrek en hulle twee het die eerste vyf paragrawe van die Kennis-boek bespreek. Hierdie opregte man was so beïndruk deur wat hy geleer het dat hy die Openbare Vergadering en die Wagtoring-studie daardie Sondag bygewoon het en ingestem het om die studie die volgende week voort te sit.

30 Om ’n studie in sakegebied aan te bied, kan jy sê: “Ons Bybelstudieprogram neem net 15 minute om te demonstreer. As dit geleë is, sal ek jou graag wil wys hoe dit gedoen word.” Bly dan by die tydsbeperking. As dit nie moontlik is om ’n lang bespreking by die werksplek te hê nie, sal dit dalk meer gepas wees om die winkelier tuis te besoek.

31 Gaan terug selfs wanneer geen lektuur gelaat is nie: Elke greintjie belangstelling verdien ’n herbesoek, hetsy lektuur gelaat is of nie. As dit natuurlik duidelik word dat die huisbewoner werklik nie in die Koninkryksboodskap belangstel nie, is dit beter om jou elders in te span.

32 ’n Suster het in die deur-tot-deur-werk ’n vrou ontmoet wat baie vriendelik was, maar wat die tydskrifaanbod uitdruklik geweier het. Die verkondiger skryf: “Ek het dae lank aan haar gedink en besluit dat ek weer met haar wou praat.” Uiteindelik het die suster gebid, vrymoedigheid bymekaargeskraap en aan die vrou se deur geklop. Tot haar vreugde het die huisbewoner haar ingenooi. ’n Bybelstudie is begin, en dit is weer die volgende dag gehou. Mettertyd het die huisbewoner in die waarheid gekom.

33 Beplan vooruit om die meeste te verrig: Daar word aanbeveel dat tyd elke week daaraan bestee word om herbesoeke te doen. Baie kan deur goeie beplanning verrig word. Reël om herbesoeke te doen in dieselfde gebied waar jy van huis tot huis gaan werk. Wanneer julle ’n motor gebruik om besoeke te doen, moet die groep klein gehou word sodat elkeen genoeg geleenthede sal hê om herbesoeke te doen. Die bestuurder moet voor die tyd weet waar die herbesoeke gedoen gaan word sodat onnodige ryery vermy kan word.

34 Diegene wat met welslae herbesoeke doen en tuisbybelstudies begin, sê dat dit noodsaaklik is om opregte persoonlike belangstelling in mense te toon en om aan hulle te bly dink selfs nadat die besoek gedoen is. Dit is ook nodig om ’n aangrypende Bybelonderwerp te hê om te bespreek en om die grondslag vir die herbesoek te lê voordat jy van die eerste besoek af weggaan. Daarbenewens is dit belangrik om stiptelik terug te gaan om die belangstelling verder te kweek. Die doelwit om ’n Bybelstudie te begin, moet altyd goed in gedagte gehou word.

35 ’n Noodsaaklike eienskap om welslae in die herbesoekwerk te behaal, is vrymoedigheid. Hoe word dit aangekweek? Die apostel Paulus antwoord deur te sê dat ons ‘deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaarskraap’ om die goeie nuus aan ander te verkondig. As jy op hierdie gebied moet groei, moet jy tot Jehovah om hulp bid. Gaan dan, in ooreenstemming met jou gebede, terug na alle belangstellendes. Jehovah sal jou pogings beslis seën!

[Venster op bladsy 3]

Hoe om herbesoeke met welslae te doen

■ Toon opregte persoonlike belangstelling in mense.

■ Kies ’n aangrypende Bybelonderwerp om te bespreek.

■ Lê die grondslag vir elke agtereenvolgende besoek.

■ Bly dink aan die persoon nadat jy daar weggaan.

■ Gaan ná ’n dag of twee terug om die belangstelling verder te kweek.

■ Hou in gedagte dat dit jou doelwit is om ’n Bybelstudie te begin.

■ Bid om hulp sodat jy vrymoedigheid bymekaar kan skraap vir hierdie werk.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel