Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 4/92 bl. 3-4
  • Bly geestelik sterk, bly rein vir Jehovah se diens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly geestelik sterk, bly rein vir Jehovah se diens
  • Ons Koninkryksbediening—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat sal ons gedurende hierdie diensjaar bereik?
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • Behou sterk geloof deur persoonlike Studie
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • God is lief vir rein mense
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Jehovah se volk moet skoon en rein wees
    Hoe om in God se liefde te bly
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1992
km 4/92 bl. 3-4

Bly geestelik sterk, bly rein vir Jehovah se diens

1 In Jesaja 60:22 het Jehovah ’n belofte gemaak wat voor ons oë in vervulling gaan: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom.” Wanneer ons aan ’n nasie dink, stel ons ons ’n ontsaglike menigte voor wat deur gemeenskaplike belange verenig word en wat onder die gesag van ’n regering funksioneer.

2 Volgens die velddiensrapport vir 1991 was daar ’n hoogtepunt van 4278 820 verkondigers van die goeie nuus wêreldwyd, wat ’n vermeerdering van 6,5 persent is vergeleke met die vorige jaar. Jehovah het waarlik ’n ontsaglike menigte opregte mense byeengebring, mense wat hulle van hierdie verdrukkende stelsel wil afskei en lojale onderdane van die Messiaanse Koninkryksregering deur sy Seun, Jesus Christus, wil word. Die getalle van dié wat versamel word, neem jaar ná jaar toe. Ons is verheug om ’n deel van hierdie nasie te wees wat letterlik as ’n nuwe wêreldgemeenskap beskryf kan word. Tydens die herdenking van die Gedenkmaal in 1991 was die totale bywoningsyfer 10 650 158, ’n vermeerdering van 7 persent vergeleke met 1990. Dit verteenwoordig ’n geweldige potensiaal vir baie meer om by ons as Koninkryksonderdane aan te sluit.

3 Ons besef natuurlik dat nie almal wat in die Gedenkmaalbywoningsyfer hierbo ingesluit is hulle van hierdie wêreld afgeskei het in die mate wat nodig is om ten volle as ’n deel van Jehovah se volk aanvaar te word nie. Mense van al die nasies ‘stroom na die huis van Jehovah’, maar hulle moet ten volle in ‘sy weë geleer’ word, sodat hulle “in sy paaie kan wandel” (Jes. 2:2-4). Meer as viermiljoen wat die Gedenkmaal bygewoon het, het God se onderrigting aangeneem en geestelike krag gekry wat hulle beweeg het om hulle gedrag rein te hou en aan die vereistes te voldoen om deel te neem aan die Koninkrykspredikingswerk wat nou gedoen word (Matt. 24:14). Hulle het ’n goeie naam by Jehovah en geniet die voordele van al die wonderlike voorsieninge wat hy vir hulle beskikbaar stel. Wat moet die res van die meer as sesmiljoen doen as hulle ook geestelik sterk en rein vir Jehovah se diens wil word?

4 Hulle moet ‘kragtig stry vir die geloof’ (Jud. 3). Wanneer hulle gekies het om in Jehovah se weg te wandel, kom hulle onder druk van die Duiwel deur beproewinge, versoekinge en slegte invloede. Hulle moet soos Paulus op Jehovah vertrou vir krag om te volhard (Filip. 4:13, vgl. NW). Jehovah versterk hulle met die hulp van diegene wat reeds sterk in die geloof is. Paulus het vermaan: “Op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie” (Rom. 15:1, 2). Wanneer die sterkes en die swakkes verenig word, is daar krag om vas te staan. “Twee is beter as een . . . as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied.”—Pred. 4:9, 12.

5 Dit beteken dat nuwes met reg op ons staatmaak as die kanaal waardeur hulle krag van Jehovah kan ontvang. Dié van ons wat toegewyde Christene is, moet self geestelik sterk bly as ons nuwes wil help. Christene wat sterk is, kan ‘geestelike gawes’ aan ander meedeel, wat tot ‘’n uitwisseling van aanmoediging’ lei (Rom. 1:11, 12, NW). Dit is een van die vernaamste maniere wat Jehovah gebruik om ons te verenig en ons almal ‘sterk en standvastig te maak’.—1 Pet. 5:9-11, NAV.

6 Ons moet ons dit ten doel stel om hierdie nuwes te help terwyl ons terselfdertyd bewus bly van ons eie geestelike behoeftes (Matt. 5:3, NW). Geestelikheid is die sleutel tot ons krag. Dít is ’n eienskap wat gevoed en versterk moet word deur ’n gereelde inname van geestelike voedsel. Jehovah voorsien deur sy organisasie ’n gebalanseerde program om sy Woord te bestudeer. Die vyf weeklikse gemeentelike vergaderinge speel ’n belangrike rol om ons te versterk en ons “tot liefde en goeie werke aan te spoor”.—Hebr. 10:24.

7 Die voordele van hierdie vergaderinge vermeerder wanneer hulle met goeie gewoontes van persoonlike en gesinstudie gepaardgaan. Ons almal moet ten minste daarna streef om die dagteks te lees en te bespreek, die rooster vir Bybellesing te volg soos dit in die Teokratiese Bedieningskoolrooster uiteengesit word en vir die Gemeentelike Boekstudie en Wagtoring-studie voor te berei. Elke gesin sal moet bepaal hoe hulle dit gaan reël, en dan moet hulle seker maak dat dit op ’n gereelde grondslag gedoen word. Die gesinshoof moet ook toesien dat die studieprogram aangepas word om in die spesifieke geestelike behoeftes van die gesin te voorsien. Op hierdie manier sal die “huisgesin opgebou word . . . en . . . sal dit stewig bevestig blyk te wees” (Spr. 24:3, NW). As ons as individue en as gesinne pligsgetrou by ons studieprogram bly, kan ons vol vertroue wees dat Jehovah ons sal seën en dat sy gees ons sal help om verskillende beproewinge met welslae te verduur.—Jak. 1:2, 3; 1 Pet. 4:11.

8 Bly rein en sonder blaam: Hoewel Jehovah ons hartlik nooi om tot hom te nader, maak hy dit terselfdertyd duidelik dat dit gedoen word op grond van ons geloof in Jesus se gegote bloed, wat ‘ons van alle sonde reinig’. (1 Joh. 1:7; sien ook Hebreërs 9:14.) Ons kan aanhou om ons geloof te versterk deur persoonlike studie van God se Woord en deur toe te pas wat ons leer. Sommige bly nie staande nie omdat hulle óf versuim om geestelike voedsel in te neem, óf min moeite doen om dit in hulle lewe toe te pas. Dit laat hulle kwesbaar vir Satan se aanvalle. Sommige het geestelik swak geword, wat tot onbedrywigheid gelei het. Ongelukkig het ander toegelaat dat hulle hulle aan ernstige oortreding skuldig maak, sodat hulle uitgesit moes word. Paulus het gewaarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:12). As ons ons studieprogram, vergaderingbywoning en bediening moedswillig verwaarloos, kan ons maklik deur onheilige invloede en versoekinge verstrik word.—Hebr. 2:1; 2 Pet. 2:20-22.

9 Dit is noodsaaklik dat ons ons in elke opsig rein hou: fisies, verstandelik, geestelik en sedelik (2 Kor. 7:1). Die wêreld om ons word by die dag meer pervers en verdorwe. Die Duiwel kom voortdurend met slinkser maniere vorendag om ons te verstrik. As ons ons geestelik sterk hou, sal dit verseker dat ons nie ‘deur hom bedrieg word nie, want ons is met sy planne nie onbekend nie’ (2 Kor. 2:10, 11). Die onderrigting en raad wat ons van Jehovah se organisasie ontvang, help ons om slegte invloede raak te sien en te weerstaan.

10 Diegene wat die leiding in die gemeente neem, het die verantwoordelikheid om ’n goeie voorbeeld vir ander te stel deur sterk geestelikheid en reinheid te handhaaf. Paulus het hierdie verantwoordelikheid beklemtoon toe hy gesê het: “Hou diegene in gedagte wat onder julle die leiding neem . . . en volg hulle geloof na terwyl julle op die uiteinde van hulle wandel let” (Hebr. 13:7, NW). Dit is van die allergrootste belang dat aangestelde ouere manne en bedieningsknegte die voorbeeld stel in hulle persoonlike gedrag, asook in die manier waarop hulle na hulle verantwoordelikhede as gesinshoofde omsien. Hulle moet daarna streef om soos jong Timotheüs te wees wat aangespoor is om “’n voorbeeld te wees in woord, in wandel, in liefde, . . . in geloof, in reinheid” (1 Tim. 4:12; 1 Pet. 5:3). Die res van ons dra hierdie verantwoordelikheid om goeie voorbeelde te wees deur ons gedrag eerbaar te hou. Nuwes beoordeel dikwels die waarheid, asook Jehovah se organisasie, na wat hulle in ons sien. Ons wil seker maak dat wat hulle sien hulle sal aanmoedig om hulle plek in Jehovah se rein organisasie in te neem.

11 Die tempo waarteen diegene ingesamel word wat “die groot verdrukking” gaan oorleef, versnel (Openb. 7:14). Slegs diegene wat geestelik sterk word en hulleself rein hou, sal dit uiteindelik oorleef. Baie hang van die volgende faktore af: (1) dat ons goeie persoonlike studiegewoontes handhaaf en oor God se Woord peins; (2) dat ons opregte persoonlike belangstelling in mekaar toon met ’n begeerte om mekaar aan te moedig en (3) dat ons in eenheid saamwerk om rein gedrag te handhaaf wat tot eer van Jehovah se naam sal strek. As ons hierdie dinge doen, kan ons verseker wees van Jehovah se seën en beskerming wanneer hierdie wêreld aan sy einde kom. Ons kan vol vertroue wees dat ons onder die ‘getroues sal wees wat Jehovah bewaar’.—Ps. 31:24.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel