Wat sal ons gedurende hierdie diensjaar bereik?
1 Met die aanvang van die 1994-diensjaar op 1 September is dit nou vir ons almal as Jehovah se volk ’n gepaste tyd om ’n vaste besluit te neem oor wat ons as individue en as ’n organisasie gedurende hierdie nuwe diensjaar wil bereik.
2 Hou aan om geestelik te groei: As ons onlangs met die waarheid in aanraking gekom het, moet dit ons begeerte wees om ’n sterk geloof op te bou (Hebr. 6:1-3). As ons reeds geestelik sterk is, moet ons nie alleen nuwelinge en ander help nie, maar ook na ons eie geestelikheid omsien en nooit dink dat ons al die Bybelkennis en ondervinding het wat ’n Christen in sy lewe nodig het nie. Lees ons die dagteks, hou ons by die Bybelleesprogram wat in die rooster vir die Teokratiese Bedieningskool uiteengesit is en berei ons vir die Gemeentelike Boekstudie en die Wagtoring-studie voor? Ons almal moet probeer om ten minste dit te doen. Ons moet aanhou om geestelik te groei as ons die vernietiging van hierdie bose stelsel van dinge wil oorleef en tot in God se nuwe wêreld behoue wil bly.—Vergelyk Filippense 3:12-16.
3 Bly geestelik rein: Om ten volle vir Jehovah aanneemlik te wees, moet ons rein wees van “alle besoedeling van die vlees en die gees” (2 Kor. 7:1). Waarom sal ons, wanneer ons eers rein is, weer in hierdie bose ou wêreld se ‘modder wil rol’? (Vergelyk 2 Petrus 2:22.) Ons moet vasbeslote wees om geestelik sterk en rein te bly. Dan sal ons nie onbekend met Satan se bose planne wees en oorval word sodat ons sondig en Jehovah se guns verloor nie.—2 Kor. 2:11.
4 Gee ag op wyse raad: Spreuke 15:22 sê: ‘Deur die veelheid van raadgewers kom dinge tot stand.’ Onthou egter dat Salomo, die man wat hierdie woorde gespreek het, later toegelaat het dat “sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan” omdat hy God se raad om nie met vreemde vroue te trou nie, verontagsaam het (1 Kon. 11:1-4). Hoe kan ons dus verwag om Jehovah doeltreffend te dien of ’n navolgenswaardige voorbeeld te stel as ons nie persoonlik op wyse raad ag slaan nie? (1 Tim. 4:15). Die Bybel se raad sal ons help om ons hart te bewaak (Spr. 4:23). Dit is beslis ’n beskerming as ons dít liefhet wat Jehovah liefhet, haat wat hy haat, voortdurend sy leiding soek en doen wat hom behaag.—Spr. 8:13; Joh. 8:29; Hebr. 1:9.
5 Ons aanbidding van Jehovah is nie iets meganies nie, dit is nie ’n gedaante van godvrugtige toegewydheid soos dié van naamchristene in die wêreld nie, maar dit is vurig, bedrywig en lewend ooreenkomstig die waarheid soos dit in God se Woord gevind word.—Joh. 4:23, 24.
6 Ons vasbeslotenheid om God se wil te doen, word moontlik daagliks getoets. Ons moet versterk word deur die wete dat ons ganse “broederskap” voor dieselfde toetse te staan kom en dat dit Jehovah is wat ons sterk maak (1 Pet. 5:9, 10). Ons sal dus gedurende die 1994-diensjaar ons bediening ten volle kan vervul.—2 Tim. 4:5.