Jongmense—Rig julle voetstappe op ’n bekwame wyse
1 Ons Vader, Jehovah, stel persoonlik in die geestelike vooruitgang van jongmense belang. Deur verstandig te wees en na sy liefdevolle bevele te luister, maak jongmense nie net sy hart bly nie, maar vind hulle ook verkwikking vir hulle siel (Spr. 27:11; Matt. 11:28-30, NW). Hulle laat toe dat Jehovah hulle voetstappe op ’n bekwame wyse rig.—Spr. 16:9.
2 Christus Jesus het in sy jeug die voorbeeld gestel van iemand wat by God asook by die mense guns gevind het (Luk. 2:52). Jongmense van vandag moet daarna strewe om dieselfde te doen. Die feit dat ’n jongmens sy voetstappe op ’n bekwame wyse rig, moet duidelik wees uit sy najaging van geestelike dinge. Op 12-jarige ouderdom was Jesus daarvoor bekend dat hy graag met ander oor Jehovah wou praat (Luk. 2:46, 47). Jongmense van vandag het ’n soortgelyke begeerte getoon om hulle geloof aan ander te verduidelik.—wAF90 7/1 bl. 29-30; wAF87 12/1 bl. 21.
3 Wat kan julle jongmense nou en veral gedurende die komende maande, onder andere gedurende julle skoolvakansie, doen om ‘Jehovah met julle waardevolle dinge te eer’? (Spr. 3:9, NW). Hoekom bestee jy nie meer tyd as gewoonlik aan die predikings- en onderrigtingswerk van die goeie nuus nie, dalk selfs as ’n hulppionier? Dit sal jou dalk verbaas om groter vreugde en ander voordele te geniet wat uit ’n groter aandeel in die bediening voortspruit. Dit sal jou ook die geleentheid gee om met ’n groter verskeidenheid verkondigers in die velddiens te werk. Dalk kan jy sommer dadelik begin deur een of twee ervare verkondigers te nooi om hierdie naweek saam met jou te werk.
4 Ouers kan hulle kinders baie aanmoedig en ondersteun deur hulle nie net in die bediening te vergesel nie, maar ook oefensessies met hulle te hou. Ander bekwame verkondigers in die gemeente kan die inisiatief neem om jongeres te vra om hulle in die huis-tot-huis-bediening, na herbesoeke en na Bybelstudies te vergesel. Noue omgang met sulke geestelik sterk verkondigers sal jongeres opbou en hulle help om ‘tot rypheid voort te gaan’.—Hebr. 6:1, NW.
5 Dit is nodig dat elke Christen sy onderrigtingsvermoë verbeter. Jongmense is geen uitsondering nie. Berei julle jongeres deeglik voor vir toewysings wat julle bevoorreg is om in die Teokratiese Bedieningskool te hou? Het jy ’n rooster vir jou leeswerk en persoonlike studie asook bepeinsing? Pas jy werklik die dinge wat jy leer persoonlik toe? Berei jy goed vir die vergaderinge voor sodat jy die materiaal ten volle verstaan en kommentare kan lewer? Let jy op nuttige punte wat gedurende vergaderinge uitgebring word en probeer jy die wenke gebruik wat in Ons Koninkryksbediening gegee word?
6 Moenie geleenthede laat verbygaan om die Koninkryksaal te help skoonmaak en ouer of siek broers en susters met takies te help of op ander praktiese maniere by te staan nie. Moenie nalaat om jou eie gereelde bydraes te maak om met die uitgawes van die Koninkryksaal en die Genootskap se wêreldwye werk te help nie.
7 As ons ‘waaksaam bly ooreenkomstig Jehovah se woord’ en toelaat dat hy ons voetstappe rig, sal hy ons na geluk en groter diensvoorregte lei.—Ps. 119:9.