Gaan terug om belangstelling in die Bybel aan te wakker
1 Soms ontmoet ons mense in die velddiens wat belangstelling in die goeie nuus toon, maar te besig is om met ons te praat wanneer ons hulle besoek. Probeer ons op ’n ander tyd teruggaan om die Koninkryksboodskap aan hulle te vertel? Of ons het miskien ’n interessante gesprek met ’n huisbewoner, maar hy neem nie lektuur nie. Gaan ons terug om verder met hom oor die waarheid te praat?
2 Dit is belangrik dat ons ons gebied deeglik dek en na alle belangstellendes teruggaan wat ons vind. Doen ons herbesoeke net by dié wat ’n boek of die tydskrifte geneem het? Indien wel, kan ons party belangstellendes oorslaan. Ons wil beslis nie oordeel dat iemand dit nie werd is om verdere geestelike aanmoediging te ontvang net omdat hy nie lektuur geneem het nie. (Vergelyk Romeine 14:4.) ’n Huisbewoner sal dalk ná ons besoek nadink oor wat ons gesê het of die poging waardeer wat ons aangewend het om hom te besoek. Hy sal ons dalk gunstiger gesind wees wanneer ons teruggaan.
3 Wanneer jy na iemand teruggaan wat besig was, kan jy sê:
◼ “Ek is bly om jou weer te sien. Toe ek laas hier was, kon ons nie gesels nie omdat jy nie tyd gehad het nie. Ek kan sien dat jy ’n besige mens is, en ek sal kort wees. Jy is waarskynlik besorg oor goeie gesondheid vir jou en vir dié wat jy liefhet. Wel, het jy geweet dat God belowe het om ’n einde aan alle siekte te maak? Sal dit nie wonderlik wees nie? [Laat huisbewoner antwoord.] Let op die gedagte in paragraaf 4 van hierdie brosjure ‘Kyk, Ek maak alles nuut’.” As daar genoeg tyd is, kan jy die paragraaf lees en dan een van die tekste onderaan bladsy 4 bespreek wat die nuwewêreldtoestande uitbeeld. As die huisbewoner ontvanklik is, sal jy moontlik ’n tuisbybelstudie kan begin.
4 Wanneer jy na iemand teruggaan wat ’n traktaat geneem het, kan jy iets soos die volgende sê:
◼ “Toe ek jou laas gesien het, het jy een van hierdie traktate Wie heers werklik oor die wêreld? geneem. Is dit vir jou moeilik om te aanvaar dat Satan oor hierdie wêreld heers? [Laat huisbewoner antwoord.] Kyk na die eerste paragraaf op bladsy 6.” Lees die paragraaf, en vra dan: “Waarom probeer Satan ons mislei?” Nadat die huisbewoner geantwoord het, kan jy die vierde paragraaf op bladsy 3 bespreek. Jy wil dalk met ’n deeglike bespreking van die traktaat voortgaan of moontlik die brosjure Gee God werklik vir ons om? bekend stel en paragraaf 8 op bladsy 13 bespreek.
5 Daar is goeie rede om positief te wees en na belangstellendes terug te gaan wat ons in ons predikingswerk vind, selfs al toon hulle net ’n bietjie belangstelling. Dit is belangrik om vir ander om te gee, om gemotiveerd te wees om hulle die waarheid te help leer. Jehovah se organisasie voorsien lektuur en wenke vir aanbiedinge wat ons kan help om ander van hulle geestelike behoefte bewus te maak.—Matt. 5:3, NW.
6 As jy ’n aangename gesprek gehad het met iemand wat selfs net ’n bietjie belangstelling toon, moet jy nie versuim om terug te gaan en die belangstelling aan te wakker nie. Dit kan daartoe lei dat jy ’n tuisbybelstudie begin en iemand op die weg na die lewe help. Ons moedig almal aan om aan te hou om pligsgetrou aan hierdie lewensreddende werk deel te neem.—1 Tim. 4:16.