Kweek belangstelling in die Paradys op aarde-boek aan
1 Wanneer ons mense by hulle huise besoek, vind ons gewoonlik dat al hulle aandag deur “die sorge van hierdie wêreld” in beslag geneem word (Mark. 4:19). Dit berus by ons om hulle belangstelling met ’n gedagteprikkelende aanbieding te wek. Die meeste mense stel aanvanklik min belang in wat ons te sê het. Indien ons iets kan sê wat ’n invloed op hulle lewe sal hê, kan ons miskien belangstelling in die Koninkryksboodskap prikkel. ’n Manier om gesprekke te begin, is deur interessante geselspunte in die Paradys op aarde-boek te kies. Wat kan jy sê?
2 Jy kan hierdie benadering gebruik:
◼ “Watter sorgwekkende probleem van ons tyd sou jy opgelos het as jy die mag gehad het? [Laat die huisbewoner antwoord en, indien dit gepas is, stem saam dat baie mense dieselfde voel.] Dit lyk of wêreldleiers tot nou toe min sukses behaal het om oplossings te vind vir talle van vandag se onrusbarende probleme. Maar daar is Een wat ’n einde kan en gaan bring aan al die probleme wat die mensdom teister. Let asseblief op wat Psalm 145:16 sê. [Lees die teks en verwys na die prente op bladsye 11-13.] Paragraaf 14 op bladsy 14 opper die vraag wat ons so pas bespreek het en vra dan: ‘Maar wanneer sal dit gebeur?’” Verduidelik dat die boek daardie vraag sal beantwoord en bied dan die boek aan.
3 Of jy kan iets sê soos:
◼ “Jy ken moontlik die leemte wat deur die dood van ’n dierbare gelaat word. Dit het jou waarskynlik hartseer en baie magteloos laat voel. Jy het miskien oor hierdie vrae gedink: [Lees die vrae in paragraaf 1 op bladsy 76.] Sal dit nie vertroostend wees om die antwoorde op hierdie vrae te hê nie? Dit sal jou miskien bemoedig om te weet dat die Bybel ’n vaste hoop bied vir diegene wat gesterf het. [Lees Johannes 5:28,29.] Hierdie boek help ons om die toestand van die dooies te verstaan, asook watter hoop daar vir die toekoms is.” Verwys kortliks na hoofstukke 8 en 20. Gee die huisbewoner ’n geleentheid om deur die boek te blaai.
4 Daar bestaan ’n groot moontlikheid dat jy geleenthede sal kry om informeel te getuig. Indien wel, kan jy in jou eie woorde iets sê soos:
◼ “Die wêreld is vandag vol probleme en jy het ongetwyfeld ook jou eie probleme. Ongelukkig lyk dit of die onskuldiges die meeste ly. Dink jy God sal ooit ’n einde maak aan al die lyding? [Laat die huisbewoner antwoord.] Laat ek jou wys wat God aan diegene belowe wat hom dien. [Lees Psalm 37:40 en maak die Paradys op aarde-boek op bladsy 99 oop.] Hierdie boek verduidelik waarom God goddeloosheid toelaat en hoe hy ’n einde daaraan gaan maak.”
5 Indien jy ’n jonger verkondiger is, kan jy ’n aanbieding gebruik watop die prente op bladsye 156-8 gebaseer is. Jy kan begin deur te vra:
◼ “Sal jy graag in ’n wêreld soos hierdie wil woon? [Laat die huisbewoner antwoord.] Elkeen van hierdie pragtige prente is gebaseer op ’n belofte in God se Woord, die Bybel. [Vestig aandag op die teksverwysings.] Hierdie boek kan jou meer leer omtrent God se belofte om die hele aarde in ’n paradys te omskep. Dit bevat lewensreddende inligting en is beslis die moeite werd om te lees.”—Joh. 17:3.
6 Jehovah sal ons werk seën as ons ’n opregte poging aanwend om skaapgeaardes na die waters van waarheid te rig. Laat ons dus tydens September ons bes doen om belangstelling in die Paradys op aarde-boek aan te kweek.