Begin Bybelstudies met die Paradys op aarde-boek
1 Liefde vir mense behoort ons te beweeg om gou terug te gaan om diegene te help wat honger en dors na die waarheid (Matt. 5:6). Ons moet kennis neem van enige vonkie belangstelling wat ons vind en dit lewendig hou as ons nie wil hê dit moet doodgaan nie. Voorbereiding is die sleutel tot sukses.
2 Ons doel moet wees om Bybelstudies te begin (Matt. 28:19). Toe die Paradys op aarde-boek die eerste keer gedruk is, het dit hierdie inleidingskommentare gehad: “Dit is inderdaad ’n voortreflike boek om te gebruik wanneer ons met ander studeer, ongeag hulle ouderdom of geleerdheid.” Die manier waarop dit geskryf is, maak dit makliker om Bybelstudies te hou sodat selfs nuwer verkondigers ’n aandeel daaraan kan hê. Ons welslae om nuwe studies te begin, hang af van hoe doeltreffend ons herbesoeke is.
3 Hoe kan ons studies begin? Wanneer ons teruggaan, is dit gewoonlik goed om ons bespreking in te skakel by die een of ander gedagte of vraag wat tydens ons eerste besoek geopper is. Jy het miskien die toestand van die dooies bespreek en die volgende vraag gevra: “Watter hoop is daar vir ons afgestorwe dierbares?” Verduidelik dat die opstanding nie ’n ongegronde hoop is nie; die Bybel meld talryke voorbeelde van opstandings wat reeds plaasgevind het. Hersien prente op bladsye 167-9. Bespreek dan paragrawe 1 en 2 op bladsy 166. Indien belangstelling getoon word, kan jy aanbied om terug te kom en die bespreking voort te sit.
4 Jy het moontlik met ’n ouer gepraat wat kommer uitgespreek het oor die toenemende probleme wat met die grootmaak van kinders ondervind word. Jy kan, in jou eie woorde, iets sê soos:
◼ “Alle ouers wil die beste vir hulle kinders hê. Die Bybel bevat onderrigting wat ouers kan help om hulle kinders te leer om ’n bevredigende lewe te lei wat sinvol en doelgerig is. Daarom beveel ons ten sterkste aan dat gesinne die Bybel saam studeer. [Verwys na paragraaf 23 op bladsy 246.] Die kennis wat opgedoen word, kan ewige seëninge vir die hele gesin meebring.” Lees Johannes 17:3. Sê dat jy gewillig is om terug te kom om die gesin te wys hoe hulle hulle studie kan begin.
5 Indien jy ’n jong of nuwer verkondiger is en jy tydens die eerste besoek kortliks oor die Paradyshoop gepraat het, kan jy, met die boek op bladsy3 oop, bloot iets sê soos:
◼ “Die Bybel belowe dat diegene wat God se wil doen, kan uitsien na ’n lewe in ’n wêreld soos hierdie waar daar geluk en vrede sal wees. Hierdie boek toon wat ons moet doen om daardie seën te geniet.” Beskryf kortliks ons studiemetode en bied aan om dit te demonstreer.
6 As Jesus se dissipels is dit ons plig om mense te help (Rom. 10:14). Indien ons lektuur gelaat het of bloot lekker gesels het, is dit ons verantwoordelikheid om die belangstelling aan te wakker (Matt. 9:37, 38). As ons hierdie toewysing behoorlik uitvoer, kan almal ’n aandeel hê aan die seëninge wat sal volg.—1 Tim. 4:16.