Toon dat jy omgee deur herbesoeke te doen
1 As jy van deur tot deur na belangstellendes soek, toon dit jou begeerte om ander die geleentheid te bied om die Koninkryksboodskap te hoor. Maak dus seker dat jy gedurende Januarie teruggaan na waar jy lektuur gelaat het, aangesien dit ’n goeie manier is om te toon dat jy vir ander omgee.
2 As jy die boek “Wêreldwye veiligheid onder die ‘Vredevors’” by iemand gelaat het, kan jy die gesprek so probeer hervat:
◼ “Ons het voorheen gepraat oor God se Koninkryk en wat dit vir ons gaan doen. Daardie Koninkryk gaan hierdie aarde binnekort in ’n paradys omskep. Aangesien ons nog nooit ’n paradys gesien het nie, is dit dalk moeilik om jou dit voor te stel. Dit is hoe dit moontlik sal lyk. [Verwys na die prent op bladsye 172 en 173.] So ’n paradys word in die Bybel belowe.” Lees Psalm 72:7. As daar belangstelling getoon word, kan jy paragrawe 5 en 6 onder die prent lees. Bied ’n gratis tuisbybelstudie aan en verduidelik hoe so ’n studie die huisbewoner sal toerus om in die komende Paradys te woon.
3 Waar jy die boek “Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?” gelaat het, kan jy ’n kort aanbieding soos hierdie gebruik:
◼ “Hedendaagse wêreldleiers kry dit nie reg om vrede en veiligheid te bewerkstellig nie. Jehovah God is die enigste een wat dit kan doen. Die Bybel toon vir ons wat ons moet doen. [Bespreek punte in paragrawe 1 en 2 op bladsy 175, en lees dan Jesaja 26:4.] Ek sal graag vir jou wil wys hoe hierdie boek jou kan help.”
4 Waar jy die brosjure “Gee God werklik vir ons om?” gelaat het, kan jy die opvolgbesoek moontlik so doen:
◼ “Toe ek laas hier was, het ek ’n eksemplaar van hierdie brosjure by jou gelaat wat ’n lewensbelangrike vraag vra: ‘Gee God werklik vir ons om?’ Tot watter gevolgtrekking het jy gekom nadat jy hierdie brosjure deurgegaan het? [Laat die huisbewoner antwoord.] Jy is waarskynlik bemoedig toe jy die tekste gelees het wat ’n nuwe paradyswêreld belowe waar ons in vrede kan lewe. [Wys die prente op bladsye 2 en 3, en wys op party van die aantreklike aspekte van die nuwe wêreld.] Ek is seker dat jy en jou geliefdes graag in so ’n wêreld wil woon. Let op wat paragraaf 16 op bladsy 31 hieroor sê.” Lees die paragraaf en wys daarop dat ’n soeke na Jehovah beteken dat ons meer oor hom en sy voornemens moet leer deur sy Woord, die Bybel, te bestudeer.
5 Om doeltreffende herbesoeke te doen, moet ons toon dat ons vir mense omgee. Dit sal nuttig wees om drie grondbeginsels in gedagte te hou. Wees aanpasbaar. Die huisbewoner is moontlik nie daaraan gewoond om ’n spesifieke tyd vir ’n Bybelbespreking opsy te sit nie. Wees saaklik. Moet aanvanklik nie te lank bly of te veel punte dek nie. Die reaksie op jou besoeke sal in die meeste gevalle gunstiger wees as jy net ’n paar punte in ’n kort tydjie dek. Wees hartlik en vriendelik. Wys vir die huisbewoner dat jy in hom as persoon belangstel. Ons onmiddellike doel is om die huisbewoner by ’n skriftuurlike gesprek te betrek. Daarna moet ons ’n produktiewe tuisbybelstudie begin.
6 Jehovah stel die volmaakte voorbeeld as ’n liefdevolle Herder wat vir sy skape sorg (Eseg. 34:11-14). Ons opregte poging om sy liefdevolle sorg na te volg, is bewys van ons liefde en bring vir ander seëninge mee.