Help ander om die kennis op te doen wat tot die lewe lei
1 Die apostel Paulus het verduidelik dat dit ‘God se wil is dat alle soorte mense tot juiste kennis van die waarheid moet kom’ (1 Tim. 2:4). Hoe kan ons ander help om daardie kennis in te neem? Een manier is deur herbesoeke te doen by mense wie se belangstelling gewek is deur middel van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Hierdie publikasie bied Bybelwaarhede in duidelike, eenvoudige, goed gekose woorde aan. Deur dit te bestudeer, kan alle soorte mense na die lewe gelei word. Wat kan ons sê wat ander sal aanmoedig om dit saam met ons te studeer?
2 Jy kan teruggaan na diegene wat belangstelling in die Bybel as ’n praktiese gids getoon het en ’n studie aanbied deur miskien te sê:
◼ “Toe ek laas hier was, het ons bespreek waarom ons op die Bybel kan vertrou as ’n praktiese bron van leiding. Omdat die Bybel deur God geïnspireer is, is dit ook ’n gewisse bron van vertroosting en hoop, net soos een van Christus se apostels gesê het. [Lees Romeine 15:4.] Aan die einde van ons vorige gesprek het ek die vraag geopper: Hoe kan ons persoonlik baat vind by die kennis wat die Bybel bevat?” Lees paragraaf 18 op bladsy 11 in die Kennis-boek. Wys daarop dat Jehovah se Getuies wêreldwyd ongeveer vyfmiljoen Bybelstudies hou en oral mense help om die kennis in te neem wat tot die ewige lewe lei. Demonstreer kortliks hoe ’n studie gehou word deur die eerste vyf paragrawe in hoofstuk 1 te gebruik.
3 As gebed die onderwerp was wat jy aanvanklik met iemand bespreek het, kan jy hierdie benadering probeer om ’n studie te begin:
◼ “Ek hoop jy het die inligting oor gebed geniet wat ons uit die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei bespreek het. Ek het belowe om terug te kom en met jou te gesels oor hoe diegene wat tot God bid weer op hulle beurt na hom kan luister. Let op wat op bladsy 158 gesê word. [Lees paragraaf 18.] Deur self die Bybel te bestudeer, luister ons dus na wat God vir ons sê. Sodoende kom ons nader aan hom en help dit ons om die daaglikse probleme waaroor ons bid die hoof te bied. Ek sal baie graag die Bybel met jou wil studeer.” As die persoon gewillig is, kan jy met die eerste hoofstuk van die Kennis-boek begin.
4 As jy die direkte benadering gebruik het om ’n studie te begin, kan jy die aanvanklike bespreking voortsit deur te sê:
◼ “Ek het spesiaal weer hier langs gekom omdat ek jou meer oor ons gratis Bybelstudieprogram wil vertel. Ek het ’n eksemplaar van hierdie boek, Kennis wat tot die ewige lewe lei, by jou gelaat, en dit is die studiehulp wat ons gebruik. Let op hoe dit ons aanspoor om God se Woord te beskou. [Lees paragraaf 23 op bladsy 22.] Sal jy asseblief jou boek kry, dan kan ons dalk die studie voortsit waar ons laas opgehou het.” As jy nie ’n studie met die eerste besoek begin het nie, kan jy sê: “Dalk is dit nou ’n goeie tyd vir my om te demonstreer hoe ons die Bybel bestudeer.” Nadat julle ’n paar paragrawe bespreek het, kan jy ’n definitiewe tyd reël om vir die volgende studie terug te keer.
5 As ons die Kennis-boek doeltreffend gebruik, sal dit ons in staat stel om juiste kennis tot seën van ander te versprei (Spr. 15:7). Sulke kennis sal vreugde verskaf aan diegene met die regte hartsgesindheid, en dit sal vir hulle ’n kragtige aansporing wees om in ooreenstemming met Jehovah se regverdigheid te lewe, wat uiteindelik tot die ewige lewe sal lei.