Kennis van die ware God lei tot die lewe
1 “Dít beteken die ewige lewe”, het Jesus in gebed tot sy Vader gesê, “dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God” (Joh. 17:3). Wat ’n milddadige beloning is dit tog! Deur die publikasie Kennis wat tot die ewige lewe lei te gebruik, kan ons ander help om te leer wat hulle moet doen om vir ewig te lewe. Wat kan ons sê om hulle belangstelling te wek en hulle te beweeg om die Kennis-boek te lees?
2 Jy kan ’n aanbieding gebruik wat die aandag vestig op die Bybel as ’n praktiese bron van leiding deur te sê:
◼ “Ons bespreek met ons bure waar ons ’n praktiese bron van leiding kan vind om lewensprobleme die hoof te bied. In die verlede het baie mense eers die Bybel geraadpleeg. Maar nou het mense se gesindheid verander; baie is skepties oor die Bybel en beskou dit bloot as ’n boek wat deur mense geskryf is. Hoe voel jy hieromtrent? [Laat die huisbewoner antwoord.] Daar is ’n baie goeie rede waarom daar gesê kan word dat die Bybel vir ons dag prakties is. [Lees 2 Timoteus 3:16, 17.] Bybelbeginsels is vandag net soveel van toepassing as toe God mense geïnspireer het om die Bybel te skryf.” Blaai na bladsy 16 in die Kennis-boek en lewer kortliks kommentaar oor die praktiese leiding wat in Jesus se Bergpredikasie gevind word. Lees die aanhaling in paragraaf 11 of die een in paragraaf 13. Bied die boek aan teen ’n bydrae van R3,50 en reël om terug te gaan om die vraag te beantwoord: Hoe kan ons persoonlik baat vind by die kennis wat die Bybel bevat?
3 Aangesien gebed ’n onderwerp is waarin baie mense belangstel, sal jy dit dalk wil bespreek deur te vra:
◼ “Met al die uitdagings waarvoor ons in die hedendaagse lewe te staan kom, dink jy dat gebed ons werklik kan help? [Laat die huisbewoner antwoord.] Baie meen dat hulle na aan God gekom het deur tot hom te bid en dat hulle sodoende innerlike krag gekry het, en dit is presies wat die Bybel belowe. [Maak die Kennis-boek op bladsy 156 oop en lees Filippense 4:6, 7.] Maar ’n mens voel dalk dat jou gebede soms nie verhoor word nie. Hierdie hoofstuk bespreek ‘Hoe jy na aan God kan kom’. [Bied die boek aan teen ’n bydrae van R3,50.] Hierdie hoofstuk verduidelik ook hoe ons na God kan luister, aangesien kommunikasie met hom nie eensydig is nie. Ons kan dit bespreek wanneer ek volgende keer kom.”
4 Wil jy deur ’n direkte benadering ’n studie probeer begin? Hier is een wat dalk doeltreffend sal wees:
◼ “Ons bied ’n gratis tuisbybelstudiekursus aan. Het jy al voorheen ’n Bybelkursus gevolg? [Laat die huisbewoner antwoord.] Kom ek wys jou die studiehulp wat ons gebruik.” Wys die huisbewoner die Kennis-boek, blaai na bladsy 3 sodat hy die inhoudsopgawe kan sien en vra: “Het jy al ooit gewonder wat die Bybel oor hierdie onderwerpe sê?” Blaai na die hoofstuk waarin die meeste belangstelling getoon word en lees die onderhofies. Verduidelik dat jy graag kortliks wil demonstreer hoe ons hierdie inligting in ons studiekursus dek. Bied die persoon die boek aan hetsy die studie begin word of nie.
5 Vandag reageer menigtes op die juiste kennis van die ware God (Jes. 2:2-4). Dit is ons voorreg om soveel mense moontlik te help om van Jehovah te leer en na die ewige lewe gelei te word.—1 Tim. 2:4.