Soek diegene wat die regte gesindheid het
1 Een doel van die predikingswerk is om diegene te vind wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het (Hand. 13:48). Die verspreiding van Die Wagtoring en Ontwaak! is ’n uitstekende manier om dit te doen, aangesien ons tydskrifte mense van die Koninkrykshoop bewus maak. Ons gaan die tydskrifte gedurende April aanbied. Hopelik kan ons Bybelstudies in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei begin, waar belangstelling gevind word. Hier is ’n paar wenke wat jou dalk sal help:
2 Wanneer jy “Die Wagtoring” van 1 April gebruik, kan jy na “Loof die Koning van die ewigheid!” verwys en sê:
◼ “Baie mense met wie ons praat, glo in God. Ander vind dit moeilik om in hom te glo. Hoe voel jy daaroor? [Wag vir ’n antwoord.] Ons word omring deur tasbare bewyse dat daar ’n God moet wees. [Lees Psalm 104:24.] Wanneer ons ’n kamera of ’n rekenaar sien, erken ons geredelik dat ’n intelligente ontwerper dit moes gemaak het. Sal dit redelik wees om te sê dat baie ingewikkelder dinge, soos die aarde en die mens, toevallig ontstaan het?” Gebruik ’n paragraaf in die artikel om ’n grondige rede vir geloof in God te gee. Bied die tydskrifte teen die gewone bydrae aan.
3 In “Die Wagtoring” van 15 April verskyn die artikel “Waarom ware aanbidding God se seën ontvang”. Voordat jy dit aanbied, kan jy vra:
◼ “Dink jy dat die honderde gelowe wat in die wêreld bestaan almal vir God aanneemlik kan wees? [Wag vir ’n kommentaar.] Jesus het voorspel dat diegene wat nie God se wil doen nie, verwerp sal word, al beweer baie godsdienstige mense dat hulle dit wel doen. [Lees Matteus 7:21-23.] Dit is belangrik dat ons die ware godsdiens identifiseer wat Jesus aan ander geleer het.” Blaai na die opskrif “Watter vrugte moet ware godsdiens voortbring?” wat op bladsy 16 begin, en bespreek een voorbeeld om die punt toe te lig.
4 Wanneer jy verwys na die titel van die “Ontwaak!” van 22 April, “Wanneer daar nie meer oorloë sal wees nie”, kan jy sê:
◼ “In hierdie eeu was daar al honderde oorloë, waaronder twee wêreldoorloë. Tog sê feitlik alle wêreldleiers dat hulle vrede wil hê. Almal wat ek ken, sê dieselfde. As almal vrede wil hê, waarom kan hulle dit nie bereik nie? [Wag vir ’n antwoord.] Wat voel jy is nodig sodat ons ware vrede op aarde kan sien?” Nadat die huisbewoner geantwoord het, blaai na bladsye 8 en 9 en lees tekste soos Psalm 46:9, 10. Gebruik die prente en aangehaalde tekste om te toon hoe God se Koninkryk wêreldwye vrede sal bring wat vir ewig sal duur. Bied dan die tydskrifte teen die gewone bydrae aan en reël om terug te gaan.
5 As jy baie mense vind wat sê dat hulle besig is, kan jy die volgende probeer:
◼ “Ons stel daarin belang om mense te help wat besige lewens lei en wat min tyd vind om oor die geestelike sy van die lewe na te dink. Ons tydskrifte, Die Wagtoring en Ontwaak!, is ontwerp om saaklike inligting te voorsien oor belangrike kwessies wat jou en jou gesin raak. Ek wil graag hierdie eksemplare by jou laat sodat jy hulle kan lees.”
6 Onthou ook om vir diegene wat die tydskrifte neem ’n geleentheid te gee om op een of albei van die tydskrifte in te teken. Hulle sal beslis daarby baat vind om Die Wagtoring en Ontwaak!, wat “goeie nuus van iets beters bring”, te lees.—Jes. 52:7, NW.