‘Geloof volg op wat gehoor word’
1 Wanneer ons iemand vind wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, is dit noodsaaklik om daardie persoon se geloof te versterk in wat hy gehoor het (Hand. 13:48; Rom. 10:17). Met dié doel moet ons teruggaan na mense by wie ons tydskrifte gelaat het om die nuutste tydskrifte vir hulle te bring en om verder met hulle te gesels. Ons moet ook gereed wees om intekeninge op ons tydskrifte aan te bied. Maar hou in gedagte dat dit ons doel is om ’n studie in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei te begin. Hier is ’n paar wenke wat jou dalk sal help:
2 Wanneer jy ’n herbesoek doen waar jy “Loof die Koning van die ewigheid!” bespreek het, kan jy soos volg begin:
◼ “Toe ons laas gesels het, het ons party van die oorweldigende bewyse bespreek wat toon dat daar ’n almagtige God is. Maar dit is nie genoeg om net van sy bestaan bewus te wees nie. Ons moet sy naam ken. Watter naam gebruik jy vir God? [Wag vir ’n antwoord.] Miljoene mense noem hom bloot ‘Here’ of ‘God’, wat onpersoonlike titels is. Daarbenewens wil hy hê dat ons sy naam moet ken. [Lees Psalm 83:18, NW.] Die Bybel vertel ons baie meer van Jehovah God, soos hierdie boek verduidelik.” Blaai na die prent op bladsy 29 van die Kennis-boek en lees die byskrif. Nadat jy die eerste drie paragrawe in hoofstuk 3 bespreek het, het jy reeds ’n studie begin!
3 Vir diegene met wie jy die artikel “Waarom wêreldse godsdiens tot ’n einde gaan kom” bespreek het, wil jy dalk die belangstelling verder aanwakker deur te sê:
◼ “Nadat jy die artikel gelees het, is jy moontlik getref deur die feit dat ons nie alle godsdienste in dieselfde lig kan beskou nie. Ware godsdiens en valse godsdiens bestaan albei. Dit laat ’n logiese vraag ontstaan: Wie se aanbidding is vir God aanneemlik? Jesus het die antwoord gegee, en dit word in hierdie boek bespreek.” Blaai na hoofstuk 5 van die Kennis-boek en lees paragraaf 4, asook Johannes 4:23, 24. Vra dan: “Wil jy graag ’n gratis tuisbybelstudie hê?” As die persoon instem, kan jy na hoofstuk 1 blaai en die studie begin.
4 As belangstelling in die “Ontwaak!” van 22 April getoon is, kan jy, wanneer jy teruggaan, hierdie benadering gebruik om ’n studie in die “Kennis”-boek te begin:
◼ “Jy sal miskien onthou dat ons gepraat het oor ons vooruitsig om uiteindelik ’n wêreld sonder oorlog te sien. Dit is moeilik om ons voor te stel hoe dit werklik sal wees. Hier is ’n kunstenaar se voorstelling daarvan. [Blaai na die prent op bladsye 188-9 in die Kennis-boek.] Sal dit nie ’n genot wees om hierdie toestande te geniet nie? [Blaai na bladsye 4-5, vestig die aandag op die prent en lees die venster.] Die titel van hierdie boek kom ooreen met Jesus se woorde in Johannes 17:3. [Lees.] As ek mag, wil ek graag demonstreer hoe jy hierdie boek saam met jou Bybel kan gebruik om daardie lewensreddende kennis te vind.” As die huisbewoner instem, kan jy die studie in die eerste hoofstuk begin.
5 As jy met ’n persoon gepraat het wat besig was tydens jou eerste besoek, kan jy die volgende sê wanneer jy teruggaan:
◼ “Ek het jou onlangs besoek en Die Wagtoring en Ontwaak! by jou gelaat. Hierdie tydskrifte gee jou groter respek vir die Bybel en die sedelike riglyne daarin. Omdat ek meen dat dit belangrik is vir almal om God se Woord te verstaan, het ek teruggekom om jou iets te wys wat jou sal help om dit te doen.” Wys hom die Kennis-boek en vestig die aandag op die inhoudsopgawe op bladsy 3. Vra watter hoofstuk die interessantste lyk, blaai daarheen en begin die studie.
6 Ons sal groot vreugde smaak as ons ‘vir ander die deur tot geloof kan oopmaak’ wat tot die ewige lewe lei.—Hand. 14:27; Joh. 17:3.