Stel die belangriker dinge eerste
1 Wat is ’n paar belangrike dinge wat noodsaaklik is vir ons geestelike welsyn? Dit sal sekerlik persoonlike studie, vergaderingbywoning, volgehoue gebed, heilsame assosiasie en die Christelike bediening insluit. Ons kan nie geestelik gesond bly sonder om belangrike dinge eerste in ons lewe te stel nie.
2 Ons het egter almal ’n stryd teen vleeslike begeertes en het dissipline nodig (Gal. 5:17). Ons moet nooit dink dat ons meer kan bereik deur selfsugtige belange na te jaag nie (Jer. 17:9). As ons ons hart wil bewaak en wil voorkom dat ons mislei word, is gereelde selfondersoek dus noodsaaklik.—Spr. 4:23; 2 Kor. 13:5.
3 Ondersoek jou eie hart: Jy kan dit doen deur jou ’n paar eerlike vrae af te vra: Sien ek daarna uit om God se Woord te lees? (1 Pet. 2:2). Besef ek hoe belangrik dit is om al die gemeentelike vergaderinge by te woon? (Heb. 10:24, 25). Hou ek vol met gebed? (Rom. 12:12). Soek ek die geselskap op van mense wat geestelikgesind is? (Rom. 1:11, 12). Voel ek ’n persoonlike verpligting om die goeie nuus te verkondig? (1 Kor. 9:16). Bevestigende antwoorde sal toon dat jy graag die belangriker dinge eerste wil stel.
4 Ondersoek jou daaglikse roetine: Nadat jy jou hartsbegeertes ondersoek het, moet jy prioriteite stel vir die gebruik van jou tyd. Dit behels dat jy tyd inruim om die Bybel en elke nommer van Die Wagtoring en Ontwaak! gereeld te lees, asook om vir vergaderinge voor te berei. Tyd moet ook opsy gesit word om as ’n gesin saam te studeer sowel as om saam te bid. Stel perke aan hoeveel tyd voor die TV of die rekenaar deurgebring word. Wees vasbeslote om al die gemeentelike vergaderinge by te woon, en reël alle ander dinge óm hierdie vergaderinge. Tref reëlings sodat die hele gesin elke week aan velddiens kan deelneem.
5 As ons die belangriker dinge eerste in ons lewe stel, sal dit ongetwyfeld ’n rede vir vreugde wees.