Opsieners wat die leiding neem—die Wagtoring-studiehouer
1 Die Wagtoring kondig God se Koninkryk aan is die vernaamste voorsiening van “die getroue en verstandige slaaf” om ons geestelike voedsel “op die regte tyd” te gee (Matt. 24:45). Die ouer man wat die Wagtoring-studie hou, het ’n baie belangrike verantwoordelikheid as ’n bekwame onderrigter wat ’n goeie voorbeeld in die Christelike lewenswyse stel.—Rom. 12:7; Jak. 3:1.
2 Die Wagtoring-studiehouer moet elke week deeglik voorberei sodat hy die gemeente goed kan onderrig. Hy moet dit biddend en sorgvuldig doen. Sy belangstelling in die gemeente word getoon deur sy opregte pogings om ons hart te bereik met die materiaal wat bestudeer word. Hy konsentreer op die hoofpunte van die les en help ons om te sien hoe dit met die tema van die artikel verband hou.
3 Deeglike voorbereiding behels dat hy die tekste voor die tyd moet naslaan sodat hy weet hoe hulle van toepassing is. Hy vestig die aandag op God se Woord deur die gemeente aan te moedig om gedurende die studie goed gebruik te maak van die Bybel. Wanneer ’n belangrike punt nie deur kommentare van die gemeente gedek word nie of wanneer die toepassing van ’n sleutelteks oorgeslaan word, vra hy ’n spesifieke bykomende vraag om die inligting uit te bring. Op hierdie manier help hy ons om tot die regte gevolgtrekkings te kom en te weet hoe om dít wat ons leer in ons lewe toe te pas.
4 Die Wagtoring-studiehouer probeer voortdurend sy eie onderrigvermoë verbeter. Hy lewer nie lang kommentare nie, maar moedig ons aan om te antwoord—in ons eie woorde, kort en saaklik. Hy sal ons dalk af en toe daaraan herinner dat die eerste antwoord in ’n paragraaf ’n kort, direkte antwoord op die gedrukte vraag moet wees. Verdere antwoorde van die gehoor kan die aandag vestig op die toepassing van die tekste, ondersteunende argumente of die praktiese toepassing van die materiaal. Deur persoonlike en gesinsvoorbereiding aan te moedig, probeer die Wagtoring-studiehouer by almal ’n begeerte aanwakker om ’n deelname te hê.
5 As “mense . . . wat deur Jehovah geleer word”, waardeer ons “gawes in die vorm van mense”, soos die Wagtoring-studiehouers, wat “hard werk in . . . onderrigting”.—Jes. 54:13, NW; Ef. 4:8, 11; 1 Tim. 5:17.